Filmresensie: La-la Land

  • 0

La-la Land
Regie en draaiboek: Damien Chazelle
Spelers: Emma Stone, Ryan Gosling, JK Simmons, John Legend, Rosemarie DeWitt, Terry Walters

Dis seker die grootste cliché van ons tyd: dat elkeen ’n droom het om uit te leef. If you can dream it, you can do it. Uhm, nee, nie noodwendig nie. En indien wel, kan jy maar altyd weet daar sal ’n prys wees om te betaal. Hierdie fliek, deur die regisseur van die uitstaande Whiplash (2014), demonstreer dit perfek.

Alles begin lig en luimig op ’n snelweg in Los Angeles, ook bekend as Droomland, oftewel La-la Land. Die son skyn, die lug is blou en pendelaars troef die sieldodende verkeer deur uit hul motors te spring en sommer in die straat te dans. Te lekker. Tot ’n ongeduldige kêrel in ’n slap kar (Ryan Gosling) hom ’n bietjie padvarkerig gedra teenoor Mia (Emma Stone), aspirant-aktrise en voltydse kelnerin. Ná nog ’n paar onderonsies leer sy hom ken as Sebastian, ’n kroegklavierspeler wat daarna smag om sy eie jazzklub te begin.

Hulle het elkeen hul droom, maar aanvanklik word net die liefde vir hulle waar. In roosgetinte, droomverlore tonele is hulle ’n dansende, singende, laggende paartjie, terwyl dit algaande tyd raak om die werklikheid in die oë te kyk. Sebastian sluit aan by ’n orkes wat opgezoepte, kommersieel suksesvolle jazz speel ter wille van ’n vaste inkomste. Mia word keer op keer by oudisies weggewys, totdat sy met Sebastian se aanmoediging besluit om haar eie eenvroustuk op die planke te bring.

So tussen die pret en vrolikheid deur raak hierdie fliek geleidelik donkerder en ernstiger, sodat die bittersoet einde my behoorlik onkant betrap het. Soveel soos Ryan Gosling my gunstelingakteur is, word hy meermale oorskadu deur Emma Stone – sy het net eenvoudig ’n oorrompelende teenwoordigheid. Die roerende duet wat hulle teen die einde sing, laat mens net verstom oor hoe talentvol en veelsydig hierdie akteurspaar werklik is.

’n Pragtige fliek – gaan kyk gerus.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top