Filmresensie: Kings of Mulberry Street

  • 0

Kings of Mulberry Street
Draaiboek en regie: Judy Naidoo
Akteurs: Aaqil Hoosen, Shaan Nathoo, Amith Sing, Neville Pillay, Rizelle Januk

Local bly maar lekker. Hierdie maltrapfilm deur Judy Naidoo het my met ’n glimlag uit die teater laat stap.

Die Chetties is ’n brandarm Indiërgesin van Durban: ma hoogswanger, pa in die greep van die buurt se misdaadbaas, ouma ook nog in die beknopte huis. Dis 1989 en die negejarige Ticky (Aaqil Hoosen) leef uit Bollywood-flieks en sy wonderbaarlike verbeelding. Soos ’n ninja hardloop hy oor dakke, voer denkbeeldige swaardgevegte uit en sluit alles af met ’n dansroetine en swierige swaai van sy kuif.

Dan kry die Chetties nuwe bure uit Johannesburg. Meneer Singh (Amith Sing) is ’n ernstige koerantman wie se vrou onlangs oorlede is. Sy seun Harold (Shaan Nathoo) vind meer troos in oliebolle as in meneer Singh se pogings om vir hom ’n hoogstaande opvoeding te gee. Meer verskillend kan die twee seuns en hulle omstandighede nie wees nie, maar hulle vind gemene grond teen die bose Raja (Neville Pillay) wat albei huishoudings bedreig.

Kings of Mulberry Street is kleurryk en oordadig soos net ’n film kan wees wat sy inspirasie uit Bollywood neem. Die tema en situasies is nie nuut nie, maar die eintlike rede om die fliek te gaan kyk, is die pragtige samespel tussen die twee jong akteurs in die hoofrolle.

Sterre: 3

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top