Filmresensie: Jaws, herbesoek

  • 1

Jaws
Met Robert Shaw en Roy Scheider
Regisseur: Steven Spielberg

Jaws word deur nuwe oë beskou, maar met klem in die kaak! Dis deesdae die modewoorde vir mense wat in emosionele ruïnes woon en weer na die fliek kyk.

Sedert die uitbreek van die koronavirus het veral Amerikaanse joernaliste opnuut oor die relevansie van Jaws (1975) begin debatteer. Kan die haai as metafoor vir die koronavirus gesien word? Natuurlik was dit nie die skrywer, Peter Benchley, se bedoeling nie, maar hoe dieper ’n mens in hierdie prehistoriese monster se maag inkyk, hoe meer vreesaanjaend resoneer die boodskap: Slaan ag op tydige waarskuwings, veral vir ’n bedreiging wat jy nie kan sien nie. Vergeet Contagion (2011)! Jaws versinnebeeld opnuut die virusbedreiging en blyk (onbewustelik) profeties te wees!

Daardie eerste hartsnaarplukkende John Williams-ode aan die monster (’n basviool klop-klop aan die onderbewussyn) weergalm vandag deur suwwe gemoedere, want daar swem weer ’n gedugte onsigbaarheid rond wat lewens bedreig.

Hierdie gruwel wil net voortbestaan, vermeerder (“to eat, swim and make little sharks”) en toeslaan, want na elke maaltyd soek dit opnuut na die volgende. En die ergste is: Die haai is inderdaad onsigbaar, want dit heers onder water, nes die virus ook vir ons onsigbaar is, behalwe in gruwelsketse by nuusberigte. Sy slagtande soek na jou longe in enige ruimte.

Die soektog na vars slagoffers deur ’n gruwelbedreiging kry ’n sinistere nuwe betekenis wanneer karakters in die 1975-rolprent hulle aan g’n waarskuwing steur nie. Spielberg fokus graag op die domastrante baaiers wat sonder ’n bekommernis van ’n dagoud baba baljaar. Die haai wag net dat die etensklok lui. En wat bring die bel in beweging? Die oorhaastige oopstelling van strande ...

Mense luister selde na aanmanings of kundiges. Al waarin hulle belangstel, is tydelike plesier sonder om aan die gevolge te dink. Hulle wil swem en hulleself blootstel. Sodoende bied die mense die potensiële aanvaller ’n groter keuse oor waar om toe te slaan. Die swemmers stuur met hul ontblote ledemate seine na die monster dat hulle beskikbaar is om aangeval te word. “Hallo, hier is ek!” roep die jellieviskuite, nes baie mense vandag “vergeet” om maskers te dra.

Die onderwaterskote, waar bene komieklik soos eierklitsers rondskommel en lywe blootstel, kon net sowel op 2020 se mense gefokus het wat weer “normaal” wil leef. Hulle (ons) dobber ook weerloos in ’n arena rond met ’n haai (of ’n virus) wat kan kies en keur waar om toe te slaan. Hoe meer weerlose mense op dieselfde plek saamdrom of swem, hoe groter die kans op infeksie of haaibyte.

Voeg hierby sheriff Brody (Roy Scheider), wat besorgd is oor mense se veiligheid en stip na die oseaan staar en swemmers waarsku, maar niemand luister nie. Sy pleidooie val op dowe ore, want ’n groot skrik is beter as ’n groot preek.

Toon dit nie ooreenkomste met die Chinese dokter, Li Wenliang, wat ’n paar maande gelede in Wuhan gewaarsku het dat ’n lewensgevaarlike virus in omloop is wat mense kan besmet en dood nie? Min, indien enige, het geluister. Hy is spottend stilgemaak, nes Brody in Jaws, omdat sy waarskuwings nie die sakemanne (veral die burgemeester) se agendas gepas het nie. Die besluitnemers in die film het geweier om die strande te sluit. Dink aan die verlies aan geldelike inkomste! Vergeet van menselewens!

Die gesprekke tussen Brody en die burgemeester weerklink dus in vandag se debatte oor die verligting van ongewilde inperkings en kansvatters wat die reëls omseil. Die damwal breek in Jaws wanneer een persoon besluit om terug te gaan water toe en ’n stormloop veroorsaak – ’n trop skape wat ter slagting gelei word. Leviete voorlees? Watwo! Dit hou ’n spyskaart vir die haai uit.

’n Parallel kan ook getrek word met Donald Trump wat aanvanklik die krag van die virus onderskat het en moontlik die inperkingsmaatreëls te gou begin lig het. Sodoende is ’n nuwe etensklok gelui vir die virus om opnuut onder mense te maai.

Maar die ergste aanklag in Jaws is die onderskatting van die slinkse krag van die moordenaar. Doodgewone mense het begin grappe maak oor die kamstige bedreiging, soos om die plakkaat op die strand met spottende graffiti se ontsier. Die karakter van Richard Dreyfuss as ’n haaikenner wys hierna foto’s van mensvreterhaaie en verduidelik aan liggelowiges dat hierdie eetmasjiene enigiets sal aanval. Maar mense trek hulle skouers op, nes televisiekykers vandag, suf van waarskuwings, na ander TV-kanale oorskakel wanneer die virus ter sprake kom. Maar hulle vergeet van Jaws, waar slagoffers, nadat hulle weer op die see toegesak het, een na die ander verslind word.

Die haai-“pandemie” ruk handuit in die slottonele wanneer die drie hoofkarakters op ’n petieterige bootjie (die Orca, vernoem na haaie se enigste vyand, ’n moorddadige walvis) die monster aandurf sonder dat hulle opgewasse is daarvoor. “You’re gonna need a bigger boat!” sê Brody, nes ons vandag gewaarsku word dat ons groter en beter-toegeruste hospitale benodig. ’n Belaglike harpoen word dan op die haai gebruik, maar maak skaars ’n duikie, nes vandag se moderne medisynes.

Die haai se slimste wapen lê egter in die onderskatting van sy krag deur die mens, nes individue vandag steeds die krag van die virus onderskat. Daarom dat die haai (en virus) hul heerskappy so maklik, sonder enige noemenswaardige teenstand, kan voortsit.

Maar die mees dramatiese waarskuwing kom wanneer die geharde ou visserman, Quint, die ware verhaal vertel van 1 100 Amerikaanse soldate wie se skip gedurende die Tweede Wêreldoorlog gesink het. Minder as 350 manskappe het lewend uit die water ontsnap. Die haaie het die res verslind – nes die koronavirus tans in verskeie dele van die wêreld menselewens afmaai.

’n Vergesogte vergelyking? Miskien. Maar die rolprent maan tog: Wanneer kundiges waarsku, moenie jou skouers optrek nie. Tref betyds voorsorg en slaan ag daarop vanuit jou emosionele ruïne.

Jaws kan op Hulu gestroom word, en Jaws 2 en 3 op Netflix.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Marthinus Willemse

    Ek vind “V for Vendetta” weer `n goeie analogie vir die koronavirus: die (Britse) regering skep `n virus wat duisende dood, neem beheer oor van die land, en dikteer per media en met aandklokreëls.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top