Filmresensie: Goldblatt

  • 0

Goldblatt is ’n dokumentêre film deur Daniel Zimbler
Met: Zanele Muholi, William Kentridge, Nadine Gordimer, Marlene van Niekerk en ander

Hierdie uitstaande dokumentêr oor die gevierde fotograaf David Goldblatt is in 2017 by die Encounters-filmfees bekendgestel. Ná Goldblatt se dood in Junie verlede jaar is dit as gepaste huldeblyk by die afgelope Silwerskermfees in Kaapstad vertoon.

Goldblatt het laat in die 1940’s sy loopbaan as fotograaf begin, met sy werk as ’n durende dokumentering van die apartheidsera én daarna – hy is byvoorbeeld gevra om in 1996 die amptelike foto by die parlement te neem met die ondertekening van die nuwe Grondwet, ’n geleentheid wat in die film humoristies beskryf word. Deur middel van sy kameralens het hy ’n unieke plek as waarnemer in ons samelewing beklee, en terwyl hy voortdurend ’n spieël opgehou het voor wit Suid-Afrika en spesifiek Afrikaners, was hy uiteindelik ook pynlik bewus van sy posisie van wit bevoorregting.

Net so uitsonderlik as wat Goldblatt se werk is, is hierdie dokumentêr waaraan die filmmakers ses jaar lank gewerk het. Dit het ’n losse struktuur en is ’n vermenging van bestaande filmmateriaal wat Goldblatt se bekendste foto’s insluit, sowel as onderhoude met die kunstenaar en verskillende kommentators, geplaas binne die groter raamwerk van ’n road trip deur die Karoo in Goldblatt se aangepaste voertuig vir foto-ekskursies.

Kortom, hierdie film wys ’n besonderse mens op ’n besonderse manier, en dit word hoog aanbeveel.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top