Filmresensie: Extremely Wicked, Shockingly Evil and Vile

  • 0

Extremely Wicked, Shockingly Evil and Vile (gebaseer op The Phantom Prince: My life with Ted Bundy deur Elizabeth Kendall)
Draaiboek: Elizabeth Kendall en Michael Werwie
Regie: Joe Berlinger
Akteurs: Zac Efron, Lily Collins, Angela Sarafyan, Haley Joel Osment, John Malkovich

Die Amerikaner Ted Bundy is een van die mees berugte reeksmoordenaars van die twintigste eeu. Hierdie film is gebaseer op die memoires van Liz Kendall, ’n jong enkelma wat in die 1970’s feitlik op trou gestaan het met Bundy aan die begin van die einde van sy opspraakwekkende “moordloopbaan”.

Die film het ’n sikliese struktuur: dit begin en eindig met die voltrekking van Bundy (uitstaande vertolk deur Zac Efron) se doodstraf in 1989, sodat die kyker reg van die begin af weet dat hy uiteindelik vasgetrek is. (Ongeveer dertig moorde word regstreeks aan hom verbind, maar die werklike syfer kan veel hoër wees.)

Die titel is die direkte woorde van die regter wat Bundy verhoor het, maar dis omtrent die ergste waaraan die kyker blootgestel word. Dus: hierdie is nié ’n riller met afskuwelike tonele van seksuele aanranding, verkragting en moord nie. Dis eerder ’n hofdrama en ’n ondersoek na Kendall (vertolk deur Lily Collins) se skuldgevoelens oor haar verbintenis met Bundy, sowel as haar worsteling om los te kom van sy magnetiese invloed.

En dis seker die mees uitstaande element van die film: enersyds die vraag hoe ’n man so absoluut wreed en gevoelloos kan wees, en andersyds waarom soveel vroue sulke mans onweerstaanbaar vind. ’n Mens kan net verstom staan oor hierdie amper simbiotiese verhouding tussen roofdier en prooi.

As jy ongeveer niks van Bundy weet nie, gaan kyk gerus hierdie film. En gaan lees daarna op oor die man wie se dade beskryf word as “extremely wicked, shockingly evil and vile”.     

Sterre: 3

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top