Regie: David Bickerstaff
Hieronymus (Jeroen) Bosch (1450-1516) word gewoonlik as ’n enigmatiese kunstenaar beskryf, terwyl sy tydgenote Da Vinci (1452-1519) en Michelangelo (1475-1564) as geniaal bestempel word. Laasgenoemde is ’n etiket wat Bosch eweseer verdien, soos die titel Visions of Genius van die uitstalling waarop hierdie dokumentêr gegrond is aandui.
Histories is daar eintlik baie min bekend oor Bosch. Hy is gebore in ’n kunstenaarsfamilie en het sy lewe lank in ’s-Hertogenbosch (waar die Bosch in sy naam vandaan kom) in Suid-Nederland gewoon. Net 24 van sy skilderye het behoue gebly, en vir die 500 jaar-herdenking van sy dood in 2016 het sy tuisstad hierdie uitstalling gereël waarin sewentien daarvan te sien was, saam met neëntien van sy twintig oorblywende tekeninge.
Vir die moderne oog kan Bosch se fantasmagoriese beelde eenvoudig bisar lyk, maar kommentators verduidelik dat ’n laat-Middeleeuse gehoor sy ikonografie volkome verstaanbaar sou vind. Europa is in die 1300’s geteister deur verskeie uitbrake van builepes – volgens die historikus Ian Morris het ’n derde tot die helfte van Westerlinge teen 1 350 daaraan gesterf. Sonder die voordele van moderne wetenskap het mense natuurlik nie geweet wat die pes veroorsaak het nie; vir hulle was dit die oordeel van God vir hul sondes.
Bosch kan dus beskryf word as ’n Christelik-moralistiese skilder wat met sy nagmerrieagtige illustrasies sy gehoor wou aanspoor tot ’n deugdelike lewe, maar hy was veel meer as dit. Sy werk getuig van ’n besonder fyn insig in die donker onbewuste van die menslike psige omtrent vierhonderd jaar voor Sigmund Freud dit sou navors en omskryf. En juis dít tref ’n mens telkens van Bosch se skilderye: hoe “modern” dit lyk.
Om in die Prado te staan en jou te verwonder aan sy meesterwerk, Die tuin van aardse luste, is steeds die eerste prys – intussen is hierdie dokumentêr die beste moontlike plaasvervanger. Daar is slegs vier vertonings by SterKinekor se Cinema Nouveau-teaters: komende Saterdag, Sondag, Woensdag en Donderdag. Kunsliefhebbers moet dit nie misloop nie!
Sterre: 5


Kommentaar
Hier te lande is Dirk Bax se “Hieronymus Bosch, his picture writing deciphered”, Balkema, Kaapstad, 1979 'n besondere werk.