Cut-out Girls
Draaiboek en regie: Nicola Hanekom
Akteurs: Cody Mountain, Joel Rosenblatt, Ashleigh van der Hoven, Atlanta Johnson, Megan Oberholzer, Keziah Gabriel, Chloe Papademetriou
Nicola Hanekom is ’n fenomeen in die Afrikaanse toneelwêreld, met talle bekronings agter haar naam. Haar filmregiedebuut was die uitstaande kortfilm Trippie, met Cut-out Girls as haar eerste vollengte film ─ hopelik die eerste van vele.
Kevin (Cody Mountain) en Mike (Joel Rosenblatt) is beste vriende en dubbelspelmaats met hul oog op ’n professionele tennisloopbaan. Werk hard, speel hard. Elkeen het ’n meisie (gespeel deur Keziah Gabriel en Chloe Papademetriou), maar dis nie genoeg vir Kevin se seksuele aptyt nie. Hy betrek sy vriend by die verkragting van meisies wat hulle in ’n nagklub opchat en bedwelm, en verfilm dit boonop op sy selfoon.
Anni (Atlanta Johnson) en Clea (Ashleigh van der Hoven) raak hul teikens ten spyte daarvan dat die twee vroue in ’n verhouding is, wat ná die verkragting verbrokkel. Dan kom Leigh (Megan Oberholzer), ’n beeldskone balletdanser, in hul visier.
Wat uitstaan van hierdie film, is die weldeurdagte draaiboek en subtiele manier waarop die storie ontvou, gruwelike inhoud en al. Nicola Hanekom se gif werk stadig maar seker, en laat jou uiteindelik met ’n gevoel van woede maar ook hartseer oor soveel lewens wat misbruik en verwoes word. Die les? Daar is predatore daar buite en jy is potensieel die prooi, pasop!
Daar word in die laaste jare telkens gesê dat die beste Suid-Afrikaanse films op internasionale standaard is. Cut-out Girls is dit onomwonde ─ gaan kyk hierdie film, dit verdien jou ondersteuning.
Sterre: 4