Filmresensie: A rainy day in New York

  • 0

A rainy day in New York 
Draaiboek en regie: Woody Allen 
Akteurs: Timothée Chalamet, Elle Fanning, Selena Gomez, Liev Schreiber, Jude Law, Diego Luna

Woody Allen is welbekend vir sy liefde vir die Groot Appel en verskeie films wat daar afspeel, maar ek wil glo sy eintlike inspirasie vir A rainy day in New York was die Brook Benton-weergawe van A rainy night in Georgia – die gevoel van hierdie coming-of-age-verhaal is net so nonchalant, ontspanne en ligweg bewolk.

Gatsby Welles (Timothée Chalamet) is mal oor sy meisie, die joernalistiekstudent Ashleigh Enright (Elle Fanning). Wanneer sy ’n onderhoud met die beroemde filmregisseur Roland Pollard (Liev Schreiber) kry, sit hulle af New York toe vir die naweek.

Dié stad is Gatsby se tuisveld, maar hy rebelleer teen sy ryk ouers, spesifiek sy ma se aandrang op ’n loopbaan gebou op geld en status – sý sterk punte is poker en klavier speel. Die reënerige dag in New York waarna Gatsby so uitgesien het, ontaard in ’n holderstebolder kat-en-muis-spel, maar ten slotte vind hy die antwoorde (en die meisie) waarna hy eintlik gesoek het.

Daar was lanklaas ’n Woody Allen met die trefkrag van Vicky Cristina Barcelona of Match point, maar ’n mens kan jou steeds verkneukel in sy amusante dialoog en skerpsinnige kommentaar op die filmbedryf en kunstenaarskap. 

Romantiese komedies het regtig skaars geraak – gaan kyk hierdie een op ’n rustige agtermiddag.

Sterre: 3

Kyk die lokprent hier:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top