
Hannes Visser skryf op Facebook:
Vanoggend, soos talle ander oggende, is ek wakker lank voor my wekker. Ek is nie ’n bedlêer en ginnegaper nie – as ek wakker word, staan ek op, maak koffie en dink aan lukrake dinge.
Vanoggend vieruur dink ek aan ’n Facebook-inskrywing wat ek gister op iemand se blad gelees het en die woord venynig kom by my op.
Van al die boeke in my studeerkamer, het ek 10 by my rekenaar wat my noodvoorraad is. (Om een of ander rede sukkel ek nog om Google te vertrou met ’n woord – ek hou daarvan om te blaai en die alfabet te gebruik) My gunstelingboek is een wat Annelie Botes destyds aanbeveel het as een wat elke skrywer behoort te besit: Watter woord blokraaigids.
En daar kry ek sommer ’n swetterjoel woorde vir venyn en venynigheid.
Ek het iewers gelees daar is drie vrae wat mens moet vra voordat jy iets oorvertel of deel:
- Is dit die waarheid?
- Is dit relevant (nodig)?
- Is dit kwetsend?
Dié wat my ken, sal weet ek glo aan gedragspatrone. Mense kan hulself nie help nie, hulle optrede volg ’n patroon. Aangesien ek vanoggend net na vier wakker was en na my koffie nie sin gehad het vir kreatief wees nie, het ek deur ’n klompie Facebookers se plasings en kommentare gegaan en daar was dit – ’n goue draad van venynigheid. Dikwels goed versteek agter mooi komplimente, kamtige belangstelling in ander, maar telkens met so ’n klein stekie van ’n angel wat hulle probeer verskuil.
My mantra vir die volgende paar weke – en ek gaan hard probeer – is om telkens te vra: “Is it true? Is it necessary? Is it kind?” (Ek gebruik maar die Engels, want ek kry wraggies nie ’n gepaste Afrikaanse woord vir “kind/kindness” nie, en welwillend klink nie reg in hierdie konteks nie.)
(Nou is dit al lig en ek het ’n oprit wat voor die naweek herstel moet wees, want my motorfiets is al meer as ’n week aan die verkeerde kant van die opgrawing vasgekeer)


Kommentaar
Wel, 'met deernis' kom vir my naby die Engelse woord 'kind' uit. Jy kan jouself dan afvra of 'n opmerking 'met deernis' gemaak is, en dit kan net 'n positiewe gevolg hê.