Mené, mené, tekél, ufarsín

  • 2

Foto deur Rina Bester

’n Hand het die skrif teen die muur geskryf en dié fel oordeel oor ’n koning van ouds uitgespreek. (Daniël 5:25–27)

*

My soeke tussen verskeie blikbreinbronne na die verklaring van die geskrif aan die muur laat my min of meer met die volgende:

  • Mené = (getel): God het die dae van u heerskappy getel en dit tot ’n einde gebring.
  • Tekél = (geweeg): U is op die weegskaal geweeg en te lig (tekortkomend) gevind.
  • Ufarsín = U koninkryk is verdeel en aan die Mede en Perse gegee.

Ek kan die afgelope tyd nie anders as om te wonder oor die “konings en koninginne, prinse en prinsesse” en die vele hoogheiliges wat uit die veiligheid van foon- of rekenaarsleutelborde so fluks oordele oor ander uitspreek op sosialemediaplatforms nie.

Wat sou tog ’n goeie vertaling wees vir keyboard warriors? Sleutelbordkruisvaarders?

O, hoe sien ek tog in my geestesoog hul vaandels wapper en hul spiese in die son blink! Maar is dit nog van pas in ons nuwe wêreld waar die “ridders” se perde waarmee hulle oorlog toe gaan, meestal slimfone is, gemaak van plastiekknoppies en mikroskyfies?

Die stemme wat so venynig, beterweterig, verdoemend is en soms alles o so netjies afrond met vermanende aanhalings uit die Bybel, laat my stom van verbasing.

Jy met jou skerp, onverdraagsame tong, hoe lyk jou Babiloniese Ryk? Moet jy nie les neem by koning Belsasar en sy lot nie?

Niemand weet regtig wie agter die sleutelborde sit nie. Skuilname en KI-gegenereerde profielprentjies verskaf die vermeende bravade aan die giftiges wat so bankrot aan intellek is dat hulle liefs nie in debat tree nie, maar trots gevurkte tonge, die mantel van eenogigheid, dra. Hierdie skeerbekmuise (apologie aan die regte muise wat skadelose diertjies is!) kom selfs diegene soos Brent Lindeque van Good things guy-faam by! Die man wat sedert 2015 slegs oor die goeie dinge in ons samelewing berig, het sowaar onlangs deurgeloop. Nie oor die nuus wat hy deel nie, maar oor sy haarstyl! Liewe ouers. Ek is stomgeslaan. Hoe op aarde bly ’n mens staande as die aanvalle só persoonlik (en dikwels vieslik) raak?

Ek wil nie eens aan die uiters onsmaaklike aanmerkings en aanvalle begín raak waaraan bekendes soos Ilse Salzwedel, Izak du Plessis, Max du Preez, Hennie van Deventer en Jean Oosthuizen (om maar net ’n paar te noem) blootgestel word nie! Wat dinge so erg maak, is dat die aanvalle verál op hierdie mense se persoonlike Facebook-ruimtes gebeur!

*

Om te skryf is gevaarlik, het Riana Scheepers ons lank terug tydens ’n skryfskool gemaan. Daarom, was haar raad aan ons, as ons ernstig is oor skryf, moet ons heel eerste ’n ordentlike rekenaar aanskaf. En dan aan ’n dik vel werk.

Dit is eintlik baie hartseer raad. Nie om die rekenaar aan te skaf nie, maar dat die dikvelraad hoegenaamd nodig moet wees. Dat die dik vel ’n noodsaaklikheid en deel van oorlewing raak vir skrywers, joernaliste en enigeen wat ’n eie opinie of styl het, is skandalig en eintlik ’n baie bitter pil om te moet sluk. Saam met die dik vel, dink ek, is ook ’n goeie skoot geduld nodig, want die wiel van geregtigheid kan soms maar stadig draai.

Niemand kom op die ou einde weg met ongeskik en venynig wees nie. As jy my nie glo nie, gaan kyk gerus na ’n paar voorbeelde waar die reg ingegryp het en ’n paar ernstige en duur dwarsklappe aan die losmondiges uitgedeel het:

  • In Isparta v Richter (2013) is ’n vrou stewige skadevergoeding toegestaan na haar gewese man en sy nuwe vrou Facebook gebruik het om haar sleg te sê.
  • En wie van ons onthou nie die geval ANC v Sparrow (2016) en hoe duur haatspraak / rassisitiese uitlatings op Facebook die Sparrow-vrou tog te staan gekom het nie.
  • Cawood prokureurs v ’n Besigheidsvrou (2020) is wat gebeur as jy dink jy kan “name and shame” op Facebook. Al kook jou bloed hóé oor jy ingedoen is op welke manier ook al. Of as jy erg slegte diens van ’n besigheid ontvang het. Volg eerder die korrekte stappe om die diensverskaffer en/of sy betrokke personeel te verkla. Facebook gaan nié jou probleem oplos nie. Inteendeel.
  • O ja. En moenie dink jy gaan wegkom deur die “name and shame” onder die dekmantel van “openbare belang” te pleeg nie. In Harman v Strydom (2025)

het die hof die skuldige party se tjank netjies afgetrap.

  • Laastens, moenie dink private of geslote Facebook-groepe is ’n vryval in losbekkig wees nie. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het in 2025 ’n netjiese stokkie gesteek voor dié praatsieke losbandigheid. Die betrokke groepbestuur is onder andere deur die hof beveel om die inhoud te verwyder.
  • En nes jy gedink het jy kan ontspan: Loop maar lig vir “tagging and sharing”. Sou jy ongewenste plasings wat oor jou Facebook-pad kom, ignoreer en dit nie onmiddellik verwyder nie, is jy net so skuldig as die deler.

Wat het dan geword van vryheid van spraak, hoor ek die koor opgaan.

Dít, my liewe skeerbekmuis, kom met geweldige verantwoordelikheid en volwassenheid en selfbeheersing. Met ander woorde: Vryheid van spraak is daar vir ons om op ’n beheerste en beskaafde manier ons saak te kan stel.

Terwyl elkeen wat aan die ontvangkant van onnodige, ongevraagde bitsigheid is, wag dat die wiel draai, sal die vraag in die lug bly hang: Wat het geword van verdraagsaamheid en naasteliefde? Of net ordentlik wees?

My grootste ontsteltenis is dat die onverdraagsaamste uitlatings meestal uit die monde kom van mense wat kruise, wit duifies met groen takkies in hul bekkies en Bybelverse deel maak van hul profiele op Facebook.  

Dit sal interessant wees om te hoor hoe die losbekkiges hulself verdedig die dag as ’n hand “Mené, mené, tekél, ufarsín” op húl muur skryf.  

*

Donslig is die een wat sonder ’n greintjie verdraagsaamheid die aarde bewoon.

  • 2

Kommentaar

  • Jackie van Stryp

    Jou punt our sleutelbordkrygers is goed gestel. As ek hulle uitlate lees is my eerste gedagte gewoonlik, hoe oud is jy? Is jy ooit al 13? 'n Volwassene het mos meer selfbehersing. Hoe hartseer is dit nie dat jy jou gebrek aan kennis en verstand so teenoor 'n vreemdeling sal openbaar? Mens kan hulle maar net jammer kry.

  • Fokus op die saak en nie op die persoon nie.

    Maar as 'n persoon neerhalend oor ander mense en hulle sienings raak, maak hy van homself 'n teiken en dan gaan daar persoonlike kommentaar kom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top