Etiket en die nuwe normaal

  • 7

Fotobron: Unsplash

Ek het grootgeword met tannie Emsie, oftewel mev Etiket. Mev Emsie Schoeman. Haas elke huishouding het een van haar boeke besit en dit was bejeën as die tweede Bybel. Die Familiebybel. Etiket is doodeenvoudig bedagsaamheid, hoflikheid en goeie maniere. Tog, etiket het sy wortels in die sosiale konvensies van die Victoriaanse tyd en, soos mens kan aflei, het etiket hoogty gevier tydens die heerskappy van koningin Victoria. Die skadukant van etiket is egter dat dié konvensies gebore is uit streng of selfs neerbuigende klasseverskille. Die koninklikes en ander adellikes was heel bo aan die sosiale hiërargie, en amper elke faset van die bevoorregtes se lewe was gedikteer deur ’n stel reëls, tiperend van die hoër klas. Daar was gedragskodes rondom die skryf van briewe, fatsoenlike taal, die gebruik van eetgerei en breekware en die betaamlike optrede van here (gentlemen) en dames (ladies). Die middelklas, soos byvoorbeeld dokters en onderwysers, het deels meegedoen aan hierdie sosiale leefstyl, maar slegs met die toestemming van die rykes wat hulle in hul binnekring toegelaat het. Die laer klas en armes, soos fabriekswerkers en skoonmakers, is verwens en doodgeswyg deur hulle meerderes. Dit is geen wonder dat kenners etiket ook "die viering van sukses" noem nie. Die mininum vereiste vir etiket om nié ’n barbaar te wees nie, was persoonlike higiëne en om te groet.

Suid-Afrikaanse etiket het sy oorsprong in Westerse gebruike. Hoewel tannie Emsie se etiket vandag mag ruik na motbol en gestyfde tafeldoeke, gaan goeie maniere nooit uit die mode nie. ’n Paar dinge het egter verander. Die Suid-Afrikaanse bevolking is baie meer heterogeen as voorheen. Die bevolking was wit en homogeen toe tannie Emsie se voorskrifte ’n Wet van Mede en Perse was. Die koms van die Internet, asook die invloed van die Amerikaanse populêre kultuur het tot die verslapping van talle korsette gelei. Die toename van kitskosplekke sedert die tagtiger- en negentigerjare het die taboes, dat jy nie kaalhand mog eet nie, verander. Wat is dan nou lekkerder as om ’n geurige pizzadriehoek uit die boks te lig terwyl die mozzarella-kaas in sulke goue drade agterna trek? Ek ken van die ouer garde wat alles met ’n mes en vurk geëet het, selfs ’n appel.

Met die uitbraak van COVID-19 het daar, ironies genoeg, ’n hernieude belangstelling in die oplewing van etiket gekom. Dalk het die inperkings wêreldwyd tot ’n versugting na konkrete sosiale situasies gelei. Nodeloos om te sê: Ons leef in absurde tye; diere loop vry en ongehinderd in die strate rond terwyl die ingegrendeldes magteloos toekyk. Met die risko van besmetting en die noodsaak van social distancing raak al hoe meer mense aangewese op aanlyn programme en virtuele vergaderings om ’n inkomste te genereer. Netiket (netiquette), of goeie maniere op aanlyn platforms, het opnuut onder die soeklig beland. Die internet is ook die groot sosiale gelykmaker. Jou aanlyn persona het net soveel reg tot interaksie as enige ander – jou sosiale status, en of jy uit fyn porselein tee drink of ’n afrondingskool bygewoon het, is irrelevant. Jou aanlyn persona is egter ook onderworpe aan netiket wat bepaal hoe hoflik jou virtuele interaksie met die aanlyn gemeenskap is, wat op sy beurt weer jou reputasie as digitale burger vestig. Daar is vandag dus twee stelle etiket: die oorblyfsels van die ouwêreldse soort en binne reële sosiale situasies, plus netiket, jou optrede as digitale burger. Eindelik vorm jou maniere (aldan nie) ’n amalgaam van laasgenoemde twee.

Met die koms van die virus is intimiteit ingeperk; geen soengroet, drukkie of handdruk nie. Ek moet bieg ... hierdie elmboogstampery voel vir my soos ’n oorlogsdans, en dan is daar die voetskud ook. Jy en jou maat, wat mekaar groet, doen so deur julle voete te lig en teen mekaar te skuur. (Moet asseblief nie voetskud as jy ’n balansprobleem het nie.) ’n Mooier gebruik is egter om jou hande ineen te vleg en voor jou hart te druk as jy iemand groet. Dan is daar die protokolle rondom die dra van gesigsmaskers – en dit sal nie die eerste maal wees dat ’n pandemie die pas aangee vir nuwe modetendense nie. Bypassende maskers raak nou die in-ding, net soos dit die geval was met handskoene, wat aanvanklik tydens die tifus-epidemie gebruik is as beskerming, maar later gevestig is as modieuse bykomstigheid. Soveel dae, soveel dinge, en uiteindelik is dit net bedagsaamheid wat oorbly. Die narratief van etiket het onherroeplik verander. Dan bestaan daar ’n legio stelle riglyne: braai-etiket, hysbaketiket, lughawe-etiket, gholfetiket, tafeletiket, wynetiket, tee-etiket, trouetiket, ooievaarstee-etiket, doopetiket, begrafnisetiket, militêre etiket ... en so kan mens aangaan. Daar was op ’n kol selfs etiket vir kinders. Ons het in die sewentigerjare uitnodigingsboekies vir verjaardagpartytjies by die CNA gekoop en formeel vir elke mater die uitnodigingsbladjie ingevul, dit in ’n koevert gesit, en by die skool in die hand gestop. RSVP en al. En daar was kysbriewe. Ek het my eerste een in graad II by ’n ene Herman gekry ... en ja, hy het die mees eksotiese stel albasters in die hele skool gehad. Dié versameling, met die gesogte ghoens, het my kysgeskenk geword. Ek het hom plegtig bedank en in mý kysbriefie gesê hy het die mooiste sakkie albasters wat ek nog gesien het.

Dus, in vandag se tye is etiket se ergste wettiese tande getrek en is dit net goeie maniere wat bly. Tegnologie het toenemend deel geraak van ons leefstyl, byvoorbeeld die stuur van WhatsApps en SMS'e het in sommige gevalle die plek van handgemaakte kaartjies ingeneem. Naas tannie Emsie is Nataniël ’n gewilde kenner van leefstyl en etiket – en waarskynlik meer in voeling met die tegnologiese realiteite van die dag as sy ouer voorganger. Ten spyte van die kolonialistiese oorerwing van baie gebruike – en die uitlewing daarvan vóór die demokratiese Suid-Afrika van '94 – het enkele riglyne tydloos gebly. Tog moet mens daarop let om kultuursensitief te wees; wat vir die een etiket is, kan aanstoot gee vir ’n ander. Jy gaan byvoorbeeld nie vir jou Moslem-gasheer ’n bottel wyn gee as geskenk om dankie te sê vir ’n ete nie. Van die oorblyfsels van die motbol-etiket weer, gee die feministe aanstoot omdat gedragskonvensies in die laat 1800’s bepaal het dat die man die dominante gender is en ’n dame bloot ’n sieraad aan sy sy is – ’n vrou wat “te intelligent” gesels het, was taboe. Haar stemtoon, eerder as haar intelligensie, het haar vlak van beskaafdheid bepaal. Etiket kan inderdaad ook tot wrywing tussen geslagte lei, met baie ruimte vir generasiegapings … Ouma, wat trots uit haar Noritake tee drink, mag haar dalk vererg vir haar Kleinboet, ’n student wat sy Old Brown Sherry uit ’n koffiebeker met die Groot Vyf op drink. Live and let live! 

Hoe lyk vandag se etiket? Ek het by kenners gaan kers opsteek.

Klere en bykomstighede 

Jy dra nooit Crocs nie. Behalwe tydens die inperking en let wel, level 5, waar niemand jou sien nie. En as iemand jou sien moet die social distancing só groot wees dat hy nie kan uitmaak watse skoene jy aan het nie.

Jy dra nooit wit sokkies by ’n pak nie, behalwe as jy soos Jerry Seinfeld in ’n 80's show wil lyk.

Jy dra nooit jou pet agterstevoor nie, die dakkie kom oor jou oë. Anders lyk jy soos ’n Amerikaanse tiener met basketbal-aspirasies.

Vroue dra die minimum goue juweliersware. Suid-Afrikaanse vroue is as ’n reël behang met bling en skitter soos krismisbome, want hulle dra al hulle juwele gelyk.

’n Man dra nie ’n kortmouhemp met ’n das nie, hy lyk soos ’n laerskoolonnie uit die jaar toet.

As ’n man se beltbuckle groter as ’n vuurhoutjieboksie is, is hy waarskynlik op pad na ’n Mighty Men Conference; óf hy is Buchan self; óf hy het ’n Freudiaanse probleempie.

Vroue wat aan die kort kant is moet nie bell bottoms dra nie, hulle lyk soos middeleeuse hofnarre.

’n Belt is daar om ’n broek bo te hou, nie om ’n selfoon, mes, gun, sleutels of spanners aan te hang nie.

’n Man dra nie ’n das met cartoon-karakters op nie – niemand sal so ’n ou ernstig opneem nie.

Jy haal jou sonbril af as jy met iemand praat, behalwe natuurlik as jy ’n skelm of ’n sigaretsmokkelaar is.

Braai-etiket

Koop ’n goeie kwaliteit vleis. 

Jy maak braaivleis medium of rare gaar (daar is die vampiere wat hul vleis blue of rou eet, of die koolvreters wat van dit well done verkies). Reël met die braaier.

Een slaai by die braai is genoeg.

Moet in hemelsnaam nie uitpass voor die vleis gaar is nie.

Mense wat die pap, wat saam met braaivleis bedien word, met melk en suiker eet is wanaangepas. Néé.

Hoender en tjops eet jy met die hand; steak en wors met ’n mes en vurk.

Almal weet jy is bitter lief vir Wagter, maar om die borde met oorskietkos op die grond neer te plak vir Woef om skoon te lek, is pleinweg gross.

Algemene etiket

Amerikaners is nie pro's as dit kom by etiket nie … jou filmdoekheld is dalk nie ’n goeie rolmodel nie.

Moet nooit met jou wysvinger point as jy ’n punt wil maak nie. Dit gee mense aanstoot. Waarom? Want as jy vingerwys, vertoon dit beskuldigend of aggressief. Dis net Steve Hofmeyr en rappers wat dink dis cool. As jy na iets wys, gebruik ’n oop hand.

Dieselfde aan tafel – moet nooit jou mes of vurk rondswaai as jy iets benadruk nie. Dit lyk soos poging tot moord.

Vou jou servet links op jou skoot, en los dit op jou stoel as jy opstaan.

Plaas jou persoonlike goed – selfoon, beursie, sleutels – elders; nie op die etenstafel nie.

Jy sit nooit met jou elmboë op die etenstafel nie. Dis nie ’n rugby-dinkskrum nie.

Staan regop wanneer jy iemand ontmoet. Dis net selfrespek en dis onbeskof om op ’n bank of stoel te bly lê. A nee a!

Respekteer die voorgeskrewe kode vir kleredrag – jy daag nie by ’n formele geleentheid op met jou denim en cowboy-stewels nie.

As jy op ’n selfoon praat en daar is ander mense teenwoordig, moet dit nooit op speaker stel nie – dis ’n foon, nie ’n hoorspel nie.

Moenie jou neus met die servet afee of dit daarin blaas nie.

Jy sit botter en konfyt eers op die bordjie voor jy die broodjie smeer.

Moenie ou familiekoeie en goor geskille ophaal aan tafel nie. Moenie te veel drink nie.

Moenie jou make-up opknap in die hysbak se spieël nie.

Onthou om vir die gasvrou ’n klein geskenkie saam te gee met ’n ete-afspraak – blomme, sjokolade of ’n bedankingsbriefie.

Moet nooit iemand per WhatsApp of SMS afsê nie – nee magtie, soms moet mens maar bel. Dieselfde geld vir ’n doodstyding.

Moet nie foto's van mense neem sonder hulle toestemming net om dit later uit te blaker op sosiale media nie.

Glimlag gereeld, wees altyd betyds. Moenie opdaag vir ’n opskeploer nie, en onthou, dankie en asseblief bly steeds die towerwoorde.

RSVP vinnig op ’n uitnodiging.

Wanneer iemand aan tafel vra vir die sout, gee vir die persoon die sout en peper. Dit word saam gegee, want sout en peper is ’n siamese tweeling.

Tydens applous moet jy handeklap voor jou bors, effe na links. Moet nooit in iemand anders se gesig handeklap nie.

Wanneer ’n dame in ’n motor klim, sit sy eers op die sitplek en swaai dan haar bene in. Dit voorkom ’n Margaret van Wyk-blapsie en verhoed dat sy haar kop teen die dak stamp.

Sit jou selfoon weg met etes, gesprekke, vergaderings en kuiers. Dis regtig zef, daardie selfoonslawe wat so boggelrug en hangnek sit en text, afgeslote in hul Faraday-cage.

Wanneer jy oor ’n selfoon praat en jy het ’n gehoor, moenie al hoe harder praat of skree nie. Dis ’n selfoon, nie ’n megafoon nie. Of is dit ’n geval van Ek is oek important?

Netiket

Sorg dat jy reg spel. Al dink sommiges spelling is nie belangrik nie – dit is. Onthou, al wat mense van jou “sien” op forums soos Facebook of met vonkpos, is jou taalgebruik. En daar ís woordeboeke en speltoetsers. In kuberruimtes en kletskamers sien mense nie jou gesigsuitdrukkings of lyftaal nie; emotikons en emoji’s is in ’n sekere sin kuberlyftaal. Dit versag die strakheid van kubersintaksis.

Moenie in hoofletters tik nie, anders skree (shout) jy. En gebruik uitroeptekens spaarsamig, dit klink ook maklik na ’n gegil.

As jy ’n e-pos skryf, wees versigtig met die Carbon copies (Cc's) en die Reply all-funksies. Jy kan maklik ’n gek van jouself maak deur jou e-pos te stuur aan iemand vir wie se oë dit nie bedoel is nie. In geval van ’n geskil, moenie vir die pawiljoen speel deur die hele wêreld te Cc nie. Nie almal stel belang in jou vetes nie.  

Hou e-posse kort en op die man af.

As jy emoji’s gebruik, dui dit op ’n teken van familiariteit. Jy gaan nie die CEO van ’n maatskappy beïndruk met ’n rits gesiggies nie.

Rassisme, seksisme, vuil taal en haatspraak is taboe op alle digitale platforms. 

Aanlyn vergaderings

Met sosiale distansiëring as gevolg van die koronavirus, is al hoe meer werknemers aangewese op aanlyn tegnologie om hulle vergaderings te hou. Hulpmiddels soos Zoom, Microsoft Teams, Skype of GoToMeeting is inderwaarheid nog in hulle kinderskoene as dit kom by die ewolusie van aanlyn etiket.

Die eerste stap is tegniese gereedheid. Skakel vroeër in en toets die kamera. Maak seker die agtergrond is skaflik en minimaliseer onderbrekings van “buite” – jou nuwe kantoorkollegas is kinders en troeteldiere. Maak seker jou papegaai begin nie saamgesels nie en vra verskoning as die kiddies in die agtergrond amok maak. Jy kan ook jou agtergrond met sekere instellings verander.

Moenie jou mikrofoon en kamera aansit tydens die vergadering nie, dit vreet ander mense se bandwydte. Afhangend van die protokolle kan die voorsitter mense vra om hulle kameras aan te sit ter wille van vertroulikheid; mens wil graag sien wie daar sit, aangesien geslote vergaderings nou in ander mense se huise gehou word. Die nuwe norm(aal) van aanlyn vergaderings vereis ook ’n nuwe etiek wat deurlopend verfyn word. Só word bywoningsregisters en belangeverklarings geteken.

Die "handjie op"-funksie, as jy iets wil sê, is baie nuttig; die voorsitter kan byvoorbeeld ’n volgorde van die handjies bepaal en vir elk ’n spreekbeurt gee. Jy praat nadat jy jou mikrofoon unmute het.

Maak seker jy het die lêers wat jy tydens die vergadering gaan gebruik oop. Dokumente wat mense nodig het kan aan die program geheg word.

Sluit die agendapunte saam met die uitnodiging na die vergadering in. 

Wees gereed met Plan B indien daar tegniese probleme opduik.

Trek netjies aan. Kommunikasie is 70% visueel. Let op jou taal en gesigsuitdrukkings.

Stel jou selfoon se kennisgewings voor die tyd op silent. En moenie jou e-posse lees nie; gee jou volle aandag aan die vergadering. Moenie ’n ou nersderm wees nie.

  • 7

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Baie mense het skaamteloos aanlyn feesgevier oor die onlangse heengaan van 'n bekende dame uit 'n bekende politieke familie. Ek dink mens kan die aanlyn stryd maar gewonne gee. Die volk is in die tjorts (en ek wou eintlik se in die #@#).

  • Chris Erasmus

    Ek is seker "ou skool" of "uit de oude doos" maar daar is niks aanstootliker en walglik as 'n ploert/ongeskikte/ongemanierde persoon nie. Ek gee nie om vir die verskoning van kultuur verskille nie. Ek behandel almal op 'n beskaafde manier met respek en eerbied. Indien ek nie dieselfde behandel word nie skakel ek maar na die persoon se vlak toe. Jy kry nie respek nie, jy verdien dit. Ek het onlangs 'n kardeur vir 'n dame oop en toegemaak. Was sy toe nie onthuts nie. Ek het selfs al terug gestaan vir dames om eerste by deure en ingange in te stap. Baie jammer om te sê, ek doen dit nie meer nie. Daar is geen plaasvervanger vir goeie manier, hoflikheid en bewys van beskaafdheid nie.

  • Dankie vir 'n lekker onthou en lekker lees rubriek.
    In ons huis was Tannie Emsie-etiket se boek op die boekrak. Ek moet sê, ek hou net soveel meer van Nataniël se goeie maniere riglyne.

  • Nico M Ferreira

    Ai toggie: wat 'n irritasie is die gedurige ge-oom en ge-tannie nie - Tannie Emsie, nogals!
    Ek haal aan uit die bostaande: "Onthou, al wat mense van jou 'sien' op forums, is jou taalgebruik." En dan verder: "Let op jou taal."
    Tannie Nini, om watter rede gebruik jy so baie Engelse woorde in jou skrywe? Siesa, jy verkrag my taal!
    Etiket, swak maniere of irritasies? Van my gunstelinge is as volg: 'n dame moet nog steeds haar sit en staan ken, al dra sy 'n langbroekpak. Ek stel regtig nie belang in jou onderklere wat so uitsteek nie. Daardie vreemde tatoeermerk op daardie vreemde plek laat my gril.

  • Benita Oelofsen

    As iemand met vakansie gaan en terugkom, wat is goeie maniere/etiket? Moet die persoon wat weg was hul vriende/familie gaan groet/besoek, of moet die vriende/familie die persoon wat teruggekom het, gaan besoek/groet?
    En terwyl jy weg is met vakansie, kontak jy jou vriende om te sê hoe jou vakansie is en hou hul op hoogte, of is dit goeie maniere van jou vriende om met jou kontak te maak om te hoor hoe jou vakansie is?

  • Ek het geleer mens spreek iemand net aan as tannie of oom as hul in ons familie ingetroud is, anders as meneer en mevrou. Persoonlik kies ek om aangespreek word op my naam, want ek het nie aanspreekvorm of titel nodig nie. Ek het 'n naam, jy het 'n naam en mens kan mense respekvol aanspreek op ons naam en so lekker gemaklik gesels en kennis maak. Los maar vir tannie en oom uit, dis outydse, uitgediende maniere. As jonger mense mens op die moet noem, weet hul kwansuis nie hoe om met mense te praat nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top