Escape from Pretoria: ’n onderhoud met Tim Jenkin

  • 0

Escape from Pretoria
Tim Jenkin
Jacana
ISBN: 9781431429868

Dis vanjaar 41 jaar gelede sedert Tim Jenkin, Stephen Lee en Alexander Moumbaris hul lewens as vry manne in Londen en Frankryk hervat het nadat hulle op 11 Desember 1979 uit Pretoria Sentrale Gevangenis ontsnap het. Maryke Roberts het met Tim in Kaapstad gesels.

Die film met Daniel Radcliffe as Tim en Daniel Webber as Stephen Lee is tans op verskeie platforms te sien en gebaseer op Tim se boek Inside out: Escape from Pretoria prison, wat in 2003 verskyn het.

Die 2020-weergawe, met ’n bygewerkte epiloog, het onlangs by Jacana Media verskyn, met Daniel Radcliffe op die voorblad. Die skryfstyl is effe verbeter, en meer besonderhede oor hoe die sleutels se afmetings ontwikkel het en hulle gemaak is, is ingesluit.

Dié drie antiapartheidgevangenes se ontsnapping is die enigste suksesvolle ontsnapping uit ’n apartheidstronk en een van die wêreld se bekendstes, saam met die Tweede Wêreldoorlog-ontsnapping waar Engelse gevangenes uit ’n Duitse kamp weggebreek het.

Tim se boek vertel hoe hy en Stephen as studente op die Universiteit van Kaapstad se kampus besef het hulle kan nie meer gemaklik onder apartheid leef nie. “Ons gewetens sou ons nie toelaat om werk te vind en nes te skop nie,” skryf hy. “As ons met die onderdruktes identifiseer, kan ons nie soos die onderdrukker leef nie.”

Hulle reis in 1974 per skip na Europa met die uiteindelike doel om in Londen by die ANC te gaan aanklop en hul dienste aan te bied om die vryheidstryd in Suid-Afrika te kom veg. Groot is hul verbasing dat die ANC-kantoor in ’n stegie versteek is en baie onder die radar beweeg het, al het die wêreld grootoog gekyk na wat in Suid-Afrika aan ’t gebeur was onder die apartheidregering.

Ná basiese opleiding in verskeie aspekte van ondergronds werk keer hulle terug na Kaapstad en doen veral werk om antiapartheidspamflette te druk en dan deur middel van koeverte en strooibomme te versprei. Dit doen hulle vir bykans 36 maande, voor die veiligheidspolisie hulle aankeer en hulle uiteindelik tot twaalf en agt jaar gevonnis word.

Verfilming van die boek (foto: verskaf)

Tim, jy skryf dat julle nooit sal weet hoe die polisie op jul spoor gekom het nie?

Ja, ek twyfel of dit een spesifieke misstap was; eerder die deeglike polisiewerk oor etlike maande. Die veiligheidspolisie was baie deeglik in hul ondersoeke en het elke klein besonderheid opgevolg. Ons het baie foute gemaak. Nie een van hulle was reusefoute nie, maar eerder die resultaat van net nie versigtig genoeg wees nie. Ek het byvoorbeeld nie ver van ons woonstel af nie briewe gepos en in telefoonboeke boodskappe met rubberstempels gemaak.

Het jy ooit gedink aan wat sou gebeur as julle gevang word?

Die gewig van wat gaan gebeur, het eers regtig op ons skouers kom sit toe ons daardie eerste maal by Caledonplein aangekom het. Ek was in die hande van die veiligheidspolisie, ’n bende skurke met ’n berugte reputasie. Dit waaraan ons nog altyd net gedink het, se realiteit was baie meer vreesaanjaend as wat ek ooit kon gedink het.

Jy noem dat jy dink swart mense het ’n voordeel bo wit mense gehad wanneer dit by gevangenskap en ondervraging kom.

Ja, my beskermde grootwordjare het my beslis nie voorberei vir die veiligheidspolisie se ondervragings voor ons gevonnis is nie. Ek was altyd een van die kleiner seuns in die skool en het skoolterreinonderonsies vermy. Die stil woonbuurte waarin ek beweeg het, het nie straatgevegte of geweldstonele oor my pad gebring nie. Swart mense het onder apartheid onder geweldig arm omstandighede geleef, en mesgevegte, skietgevegte en bendegeweld was só deel van hul alledaagse bestaan dat hulle immuun geraak het teen geweld en bloedvergieting. Hulle het ook gereeld onder polisiegeweld deurgeloop.

Selfs jul ervaring in Pollsmoor-gevangenis het julle as wit mense bevoordeel?

Swart mense kon nie in dieselfde tou staan as ons nie; hulle het in lang rye gesit en wag dat hul vingerafdrukke geneem en hulle toegelaat word, terwyl na ons heel voor in die tou geneem is. Kos is destyds volgens jou velkleur gradeer, met wit mense wat “beter” kos gekry het as Indiërs, bruin mense of swart mense. Die kos was vir óns aaklig – ek wil nie weet wat hulle gevoer is nie.

Waar het die idee vir jul ontsnapping by julle begin posvat – was dit die boek Papillon deur Henri Charrière, of het die boek bloot die transaksie vir julle beklink?

Ons het almal aan ontsnap gedink nog voor die boek arriveer het, maar Charrière se skrywe het ons verskeie lesse geleer, waaronder dat as jy wil ontsnap, jy elke oomblik moet gebruik vir observasie, beplanning, verfyning en voorbereiding. Terloopse meevallers gebeur nie met almal nie en jy moet dus nie daarop reken nie. Net deeglike beplanning sal enige ontsnappingspoging laat realiseer. Ons het ook geleer dat die ontsnapping nie eindig wanneer jy buite die tronk staan nie. Daar is ’n tweede deel aan elke ontsnapping: om weg te kom. Die meeste ontsnappings misluk omdat daar nie genoeg aandag aan hierdie aspek gewy word nie.

Hoeveel gevangenes was daar in Suid-Afrika teen die tyd dat julle op 15 Junie 1978 gevonnis is?

Daar was meer as 120 000 gevangenes in Suid-Afrikaanse tronke en daar is destyds gesê dat die land die hoogste per kapita-tronkbevolking in die wêreld het. Die meeste van hierdie gevangenes was die slagoffers van apartheid – “kriminele” sonder slagoffers, omdat hulle apartheidswette oortree het.

In baie films sien ons hoe gevangenes tonnels grawe onder deur heinings of uit hul selle uit na verkoelingstelsels. Sou dit nie vir julle ’n moontlikheid gewees het nie?

Ons kanse was nul. Ons selle was op die eerste vloer, en ons kon nêrens heen grawe daar nie. Die tronkwerf was meestal sement en in volle sig van die bewaarders. En waarheen sou ons gaan met die grond wat ons uitgrawe? Ons tronk was binne-in ’n tronkkompleks en ons sou net elders op die tronkperseel uitgekom het. Ons het aanvanklik gedink ons kan oor die tronkmuur klim om te ontsnap. Maar met verdere bestudering het ons daarteen besluit. Ons het egter verskeie krake in die veiligheidstelsel raakgesien en daarop voortgebou.

Tim Jenkin (foto: verskaf)

Jy kry die idee om ’n sleutel te maak om elke hek mee oop te sluit. Daar was tien tussen jul selle en die voordeur wat op die straat oopgemaak het. Hoe het jy op hout besluit en hoe voordelig was dit?

Ek het afvalstukke hout in die werkswinkel ontdek en die sleutel in drie stukke gemaak, waarvan die grein in verskillende rigtings geloop het. Dit het die sleutel baie sterker gemaak. Houtstukke het ook niemand agterdogtig gemaak nie, want dit het glad nie soos sleutels gelyk nie. Ook kon ons die sleutels in die slotte toets sonder om krapmerke te laat en ons kon stukke begrawe of in die toilet afspoel wat nie die regte grootte was nie.

Was daar nie antagonisme tussen die gevangenes wat nie saam met julle wou ontsnap nie?

Nee, omdat ons almal daar was vir politieke aktiwiteite en dieselfde vryheidstryd ondersteun het. Selfs diegene wat nie deel van ons ontsnappingsplan was nie, het gehelp waar hulle kon.

Hoe het jul aanvanklike plan uiteindelik van julle ontsnapping verskil?

Ons wou die wag met ’n houtpistool aanhou en dwing om hekke vir ons oop te sluit; ons wou met hulp van buite per motor wegkom en het selfs daaraan gedink om ’n bewaarder se motor te gebruik wat buite die tronk geparkeer was. Ons sou van daar by die lughawe ’n motor huur, want een van die gevangenes wat sou saamkom, het sy lewensboek by hom gehad met allerhande lisensies in, waaronder sy rybewys. Op die ou einde het ons eenvoudig die nege hekke oopgesluit, een se plaat losgeskroef en die hout effe beskadig, by die voordeur uitgestap in ons siviele drag en na die stasie gestap. Ons het ook lank gewik en weeg om Saterdag of Sondag te ontsnap, maar op die ou einde op ’n Dinsdag ontsnap.

Jy beantwoord bykans elke vraag wat ’n leser sou kon hê: van hoe jy die slotte se werking uitgepluis het, tot hoe julle kon tred hou met tyd in die afwesigheid van horlosies. Het jy destyds notas gehou of was daar besonderhede in jou briewe wat jy in die tronk geskryf het wat as basis kon dien vir jou manuskrip?

Ek het geen notas gehou nie. Die meeste van die sleutels het dieselfde basiese afmetings gehad en ek het so baie van hulle gemaak dat die besonderhede baie lank in my brein vasgesteek het en ek dit ná die ontsnapping kon neerskryf. Ek moes ’n gedetailleerde verslag skryf ná die ontsnapping en dit het baie nuttig te pas gekom met die boekskryf.

Was jy skaam om in die tronk te wees, of het jou beginsels as vryheidsvegter jou trots gemaak?

Ek was nie trots nie; dit was was ’n baie onwaardige toestand. Ek was skaam dat ons missie misluk het en die vyand die geleentheid gegun het om punte teen ons aan te teken.

Die beskrywing van jul tronkbestaan klink glad nie so drasties soos mens sou glo nie. Julle het selfs die musiek van jul keuse gehad wat saans oor luidsprekers gespeel is. Was dit regtig so erg?

Ja, alhoewel ons baie beter daaraan toe was as ons swart kamerade op Robbeneiland en elders. Die slegste aspek van gevangenskap is die algehele verlies aan vryheid om te besluit wat jy met jou lewe gaan aanvang tydens jou gevangenskap. Vir ons as wit Suid-Afrikaners was dit ’n akute verlies, want ons swart kamerade se lewens buite die tronk was in vele opsigte dieselfde as binne-in die tronk. Hul lewens was een lang tronkstraf, omdat hulle nie vry kon beweeg of leef nie.

Jy mis jou vriende en familie, maar wil ook nie hê hulle moet jou kom besoek nie, want die klein hokkie waarin julle kan kuier, word dopgehou en is onpersoonlik, omdat julle deur glas geskei word. Jy voel skaam vir jou voorkoms en die wete dat jy jou geliefdes ongekende leed aangedoen het deur jou optrede.

En elke dag in die tronk is ’n herhaling van die vorige. Daar is geen hoogtepunte of verandering in jou dag nie. Die tyd vlieg verby, maar voel tegelykertyd ook staties. En boonop is dit vermorste jare wat jy nooit weer sal terugkry nie. Nie beter kos, of beter klere of ’n swembad of video’s in jou kamer sou jou laat beter voel nie, want jy is jou vryheid kwyt.

Julle het die Suid-Afrika-Swaziland-grens te voet oorgesteek en is daarvandaan deur die ANC gehelp om via Mosambiek na Angola te reis, waar jy die eerste maal die ANC-vlag sien wapper het. Wat het daardie vlag in jou ontketen?

Dit was nie soseer die ANC-vlag wat ons inspireer het nie, maar eerder om iets te aanskou wat “ons kant” verteenwoordig het – die kant wat geveg het vir bevryding van rassistiese onderdrukking. Ons het ’n intense haat gekoester vir die ou oranje, wit en blou vlag wat apartheid simboliseer het.

Hoe het jy gevoel toe jy jou kamerade in Angola ontmoet wat in haglike omstandighede woon en hul opleiding ontvang?

Dit het ons die selfvertroue gegee om voort te gaan en ons het geweet dat hulle die rassiste sou kon teenstaan. Die ANC het nie die hulpmiddels en finansies gehad wat die apartheidregering kon ewenaar nie en die Umkhonto-soldate het nie gesofistikeerde wapens gehad nie, maar hulle het een oortuiging gehad wat geen rassis gehad het nie: Hulle het geveg teen ’n universeel-verdoemde rassistiese stelsel.

Jul kamerade wat gehelp het met ondersteuning en raad terwyl julle die ontsnapping beplan het, het vir bykans drie jaar daarna baie swaar gekry. Voel jy skuldig daaroor, veral nadat Denis beskryf het hoe erg dit vir hulle was?

Die hele tronk se sekuriteit is hersien en hulle is oorgeskuif na Pretoria Sentraal se aakligste vleuel. Alles is geteer of plavei en hulle kon nie meer in die vierkant oefeninge doen of op gras loop of sit nie. Kameras is geïnstalleer en hul selle was ongemakliker, met bitterklein vensters.

Ons het geen spyt gehad na ons ontsnap het nie, want die oorblywende gevangenes het die kans gehad het om saam te kom, maar het besluit om te bly. Later, toe ons hoor hoe erg die toestande was, het ons tog sleg gevoel, maar die ontsnapping was so ’n oorwinning teen die onderdrukkers dat ons nie spyt gehad het nie. Ek dink hulle het dit verstaan.

Na jul ontsnapping het jy in Londen vir die ANC gewerk. Wat het jy daar gedoen en hoe het dit bygedra tot die vryheidstryd in Suid-Afrika?

Ek het gehelp om aktiviste op te lei en ons eie ervaring het ’n goeie grondslag gevorm. Ons het volledige kursusse geskryf en ek is trots om te sê dat nie een van my studente ooit in hegtenis geneem is nie.

Ek het ook ’n groot rol gespeel in Operasie Vula in die laaste jare voor die ANC ontban is. Dit was ’n hoogs gesofistikeerde operasie wat groot rolspelers terug na die land gebring het en vele programme van stapel gestuur het. Ons het selfs ons eie “internet” gebou voor die ware internet wêreldwyd geloods is en het kommunikasiestelsels ontwikkel en ontsyfer wat ongelooflik suksesvol was. Dit het selfs tot in Nelson Mandela se sel gewerk, sodat hy met die ANC-leiers in Lusaka kon gesels, voor hy vrygelaat is.

Jy keer 11 jaar na jou ontsnapping in 1991 terug na Suid-Afrika, nadat die voormalige president, FW de Klerk, jou kwytskeld. Hoe het dit gevoel om terug te keer? Kon jy die begin van verandering sien?

Ek was baie senuweeagtig om terug te keer, maar toe word ek op die lughawe begroet deur die immigrasiebeampte met “Welkom tuis!” asof ek vir ’n kort vakansie weg was. Ons het nie gevoel die stryd was verby nie en het dus gedeeltelik ondergronds gewerk. Die spanning het hoog geloop, maar ons het gou ontspan. Dit was moeilik om te glo dat die voormalige onderdrukkende staat ook ontspan het. Dit was die grootste sigbare verandering.

Hoe voel jy vandag oor die politiek?

Ek kan breedvoerig hieroor uitwei, maar sal volstaan met die siening dat die ANC van die vryheidstryd ’n totale ander entiteit was as die party wat vandag sy naam dra. Die ANC se goeie naam is gekaap deur ’n bende diewe, en die huidige entiteit wat hulself die ANC noem, het bitter min gemeen met die ANC wat ek eens trots was om te dien.

Ek het ook besef dat ons lang stryd heeltemal van die teiken af was. Die ANC het politieke leierskap gekry, maar was nie in beheer van waarheen Suid-Afrika op pad was nie. Dit het uitverkoop aan die IMF en neoliberale ekonomiese beleide aangeneem en uiteindelik oorgegee aan geld. Geld het die tronk geword – soos elders in die wêreld.

........

Ek het geleer dat wanneer jy ’n uitdaging in die gesig staar, jy nie sommer net die hele oplossing kan sit en uitwerk nie. Jou wegspringplek is om jou doelwit neer te pen. ’n Plan is ’n dinamiese, veranderlike stel riglyne wat geskaaf word soos wat jy praktiese aktiwiteite begin uitvoer. Daar sal vele draaie en swaaie wees, want jy kan die volgende stap beplan slegs as jy die vorige uitdaging oorkom het.

..........

Wat het jou tyd in die tronk jou as mens geleer?

Ek het geleer dat wanneer jy ’n uitdaging in die gesig staar, jy nie sommer net die hele oplossing kan sit en uitwerk nie. Jou wegspringplek is om jou doelwit neer te pen. ’n Plan is ’n dinamiese, veranderlike stel riglyne wat geskaaf word soos wat jy praktiese aktiwiteite begin uitvoer. Daar sal vele draaie en swaaie wees, want jy kan die volgende stap beplan slegs as jy die vorige uitdaging oorkom het.

Ek het ook geleer dis altyd beter om die niekonfrontasie-roete te volg. Soek eerder ’n manier om die hekkies te vermy as om hulle kop eerste aan te durf.

Was al hierdie harde werk en die stryd tevergeefs? Soveel mense het hul lewens gegee – vir wat?

Beslis nie vergeefs nie. Die stryd was vir my om apartheid te elimineer, nie om ’n spesifieke groep politici aan bewind te bring nie. Ons het ook gedroom van ’n beter samelewing. Dat ons nooit ons doelwit bereik het nie, kan nie net voor die voete van korrupsie en gulsigheid gelê word nie. Daar is ander globale magte aan die werk wat Suid-Afrika deel van die “wêreldstelsel” hou.

Jy noem in die boek dat jy familie groot hartseer besorg het. Kon julle dit bespreek en aanbeweeg?

My dade het my familie wakkergeskud. Hulle het oor dinge begin dink en besef ek het dit nie vir persoonlike gewin gedoen nie, maar omdat ek sterk gevoel het oor die onregte om my. Vergifnis was nie nodig nie, want hulle het my vergewe en om verskoning gevra vir hul aanvanklike opinies. Hulle was trots op wat ek vermag het.

Waaroor het jy spyt in jou lewe?

Ek het geen spyt nie, net teleurstellings.

Waardeer vandag se jeug die opofferings wat gemaak is om hul vryheid te verseker?

Ek kan nie namens alle jeug praat nie, maar ek het my storie al verskeie male voor verskeie gehore vertel en is altyd verbaas oor die reaksie. Jongmense is altyd verbaas oor die feit dat ’n wit man só ’n rol gespeel het en ek is al telkemale bedank vir my rol.

Hoe betrokke was jy by die filmteks en besluit oor akteurs?

Ek was nie baie betrokke nie, maar het kommentaar gestuur oor die teks. Ek het nie van die teks gehou nie en het dus baie lae verwagtinge gehad. Toe ek egter die film sien, was ek aangenaam verras. Dis natuurlik ’n fiksieweergawe, maar volg die basiese narratief akkuraat. Ek is oor die algemeen gelukkig, maar dit sou beter gewees het as dit in Suid-Afrika gemaak was en Suid-Afrikaanse akteurs kon gebruik het.

Hoe voel dit om jou lewensverhaal op die grootskerm te sien?

Dis natuurlik ongelooflik om ’n groot fliek oor ’n gebeurtenis in jou lewe te sien, maar wanneer ek die film kyk, vind ek dit moeilik om daarby aanklank te vind, omdat ek die regte gebeure in my kop het. Dis net ’n persoonlike reaksie; nie kritiek teen die film nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top