Enigma deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

  • 0

Enigma
Rudie van Rensburg
Queillerie
ISBN: 9780795803390

TT Cloete het in “Behoefte aan ongunstige weers- en ander omstandighede” geskryf:

Die land het te veel
aan ryk boere met Ford
en Fordson te veel halfgeleerde sportiewe studente
studeer aan te veel universiteite met te veel sosiale personeel.

Nou ja, dit was in 1980, en dis nie soseer meer waar nie – megaboere het skaars geraak en halfgeleerde studente is deesdae minder sportief, maar die idee van oorvloed is nog geldig.

Ek het al soms gedink die land en die wêreld het te veel aan misdaadfiksie, veral die resepmatige soort met alkoholistiese speurders wat steier onder ’n chaotiese werklas van onopgeloste dossiere, geteister deur slaaploosheid en depressie. Wat geen persoonlike verhouding – behalwe met die bottel – kan handhaaf nie.

........
Dan lees ek ’n roman soos Enigma wat, soos Afrikaanse mense sou sê, ’n smaail op my daail sit. Dis eenvoudig onweerstaanbaar...
.........

Dan lees ek ’n roman soos Enigma wat, soos Afrikaanse mense sou sê, ’n smaail op my daail sit. Dis eenvoudig onweerstaanbaar – om verskeie redes:

Dis skoon en netjies, nie ’n eindelose geploeter met ’n chroniese gebrek aan leidrade en deurbrake nie. Die speurder is eg Afrikaans en enig in sy soort. Kassie Kasselman drink niks sterker as Creme Soda nie, hy is gelukkig getroud en sy stokperdjies is seëls versamel en boeremusiek. Daar is ’n versameling uiteenlopende karakters wat die verbeelding aangryp, maar daar is nie tien verskillende intriges wat oor die aardbol versprei is nie.

Daar is ’n raaisel binne ’n raaisel, soos die titel suggereer, en min mense sou die einde sien kom. Ek het nie.

’n Angolese sakeman, skatryk, word in sy hotelkamer vermoor. Aaldenburg het duidelik bande met die smokkelonderwêreld gehad. ’n Mededinger, Benedito Costa, wil onmiddellik sy skoene volstaan en werf Aaldenburg se adjudant om vir hóm te werk. Costa reken hy self is bitter slim, maar ís hy? Aaldenburg was ’n burger van Angola, soos Costa. In die tas in sy hotelkamer was kokaïne en ongeslypte diamante, waarin die moordenaar skynbaar nie belang gestel het nie.

Kassie en Rooi van die Spookeenheid word getaak om die moord op te los. Daar is aanvanklik geen verdagte nie, maar verskeie rolspelers – maaifoedies wat die leser van naderby leer ken. Daar is Cynthia Duboisson, ’n sosiopatiese sakevrou wie se besigheid, Shine on You, diamante in ’n laboratorium kweek, haar gorilla-agtige sidekick en chauffeur Wilhelm, en haar ambisieuse en nuuskierige lyfwag, Liam. Daar is Ben, die jong sekswerker wat geblinddoek na haar woning aangery word vir haar plesier, wat swepies insluit. Daar is ook Eric, ’n New Yorkse beleggingsbestuurder wat Aaldenburg se geld moes was en sy bedenkings gehad het. Daar is Van Jaarsveld, ’n oudvlootsoldaat wat nou teen vergoeding moor.

Hoe pas hulle almal inmekaar en in die groter prentjie?

Kassie en Rooi werk dag en nag, selfs oor naweke. Dit lei tot gramskap: Rooi se vrou Torretjie en hul koliekerige babaseun, CJ, maak die wêreld vir hom warm, en Kassie se Amelia wil bitter graag hê hy moet aftree sodat hulle meer tyd saam kan deurbring. Boonop het hulle ’n nuwe waarnemende polisiehoof, brigadier Nolte, ook bekend as die Filosoof en Septic Tank, weens al sy teorieë en gevleuelde woorde.

Een van sy teorieë:

Dis ’n feit dat die SAPD se ondersteuningsdienste ernstige gebreke het. Ek vergelyk dit met ’n septiese tenk, waar drolle van verskillende groottes ronddryf. Daar is ’n chroniese en konsekwente tekort aan basiese hulpbronne soos rekenaars, voertuie, vingerafdrukpoeier, stokkies om DNS-monsters te neem en noem maar op. Dis die klein drolletjies. Die grotes wat gewoonlik bo dryf, is goed soos agterstallige DNS-toetse van bykans honderdduisend, ’n onvolledige en agterstallige vingerafdrukdatabasis en net twintig persent van ballistiese toetse wat betyds voltooi word.

Nolte se draad is kort en hy gebied resultate, onmiddellik. Ons twee helde het dus geen ander keuse as om in vaardige jongleurs te ontaard nie. En rondom die drywende probleme te opereer.

Wat is aan die gang in Reaktor 5, die laboratorium agter Cynthia se herehuis? Waarom al die geheimhouding en waarom word werknemers uitgehaal. Kassie en Rooi byt vas en laat nie los nie, al beland hulle op syspore en afdraaipaaie. Aan die einde, dit weet die leser met sekerheid, sal al die stippellyne verbind word, die laaste legkaartstuk sy lêplek kry, en die volle prentjie duidelik na vore kom.

Wat my aan die lees hou, is Kassie se sesde sintuig: die fyngekalibreerde intuïsie wat duidelik so noodsaaklik is in die oplos van misdaad. En in die opspoor van bewyse en uitwerk van motiewe. Skurke sien Kassie nie aankom nie, want hy is fisiek onindrukwekkend in sy gebruiklike rooi windjekker. Hulle onderskat hom tot hul ondergang. Was daar maar meer van sy en Rooi se soort in die polisiediens, is die leser se versugting.

Die subtitel is: “Een moord. ’n Web van raaisels.” Dis ’n uitstekend beplande en uitgevoerde misdaadroman. Dis uiters spannend en ontvou stadig maar seker, soos ’n projeksie wat algaande in fokus kom. Daar is nie onnodige lokbokkems wat in die wind bly wapper nie. Die leser is in bekwame, betroubare hande. Daar is deurgaans menslikheid en, ja, deernis. Humor. Dis ’n lywige boek wat moeilik is om neer te sit.

Enigma het een van die mooiste eindes van enige boek ooit. ’n Einde wat my dag opgehelder en my breed laat glimlag het. Daar is so ’n tikkie knussie in die stert.

Van Rensburg het homself bewys as meester van intrige sowel as humor. Sy romans, ja selfs die misdaadfiksie, is nie ontdaan van deernis nie. Sy vertelstyl is gemaklik en die storie neem sy loop. Die karakters oortuig en die dialoog val reg op die oor. Daar is ’n rede waarom misdaad in Afrikaans lonend is.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: Steierwerk deur Johan Myburg – ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top