Endler Konsertreeks: Zorada Temmingh en Anzel Gerber

  • 0

ENDLER KONSERTREEKS met Zorada Temmingh en Anzel Gerber
29 Maart 2015
Endlersaal, Stellenbosch

Selde dat ’n mens die geleentheid kry om die kombinasie orrel-tjello te hoor, veral uitgevoer deur hierdie besonder talentvolle duo. Die bekroonde tjellis Anzel Gerber en voorste Suid-Afrikaanse orrel-improvisator Zorada Temmingh het ’n betowerende uitvoering gelewer.

Die tweetal – ’n prentjiemooi studie in rooi en swart – het deurgaans beïndruk, maar dit was veral hul vertolking van Hendrik Hofmeyr se “Crucifixus: per violoncello e organo” wat hul virtuositeit ten toon gestel het. Geen strelende klanke nie, maar ’n uitbeelding van diep verlatenheid wat deur die hele ouditorium vóélbaar was. Dit het gevoel asof hierdie werk die middelpunt van die uitvoering vorm.

Vóór Hofmeyr het gekom die liriese “Romance” van Gabriel Fauré, Cassadó se “Toccata” en Robert Schumann se “Six Pieces in Canonic From for Pedal Piano”, vir die tjello en orrel verwerk deur Herman Jordaan, waarna die tjello-deel weer deur Gerber self aangepas is.

Ná Hofmeyr het Gerber en Temmingh se verwerking van Antonio Vivaldi se derde beweging (Presto) van “Somer” uit die “Die vier seisoene” gevolg, Josef Rheinberger se “Three pieces from Op 150”, Joseph Jongen se speelse “Humoresque” en ten slotte die dinamiese “Csárdás” van Vittorio Monti in die gees van die Hongaarse drinklied. Laasgenoemde is oorspronklik vir die viool gekomponeer en deur Gerber vir die tjello getranskribeer. As toegif het die gehoor ’n sielvolle uitvoering van Casals se “Die lied van die voëls” gekry.

Anzel Gerber kommunikeer met en deur haar tjello. Die fyn figuur lewe in die dans met haar instrument – hare, hande, gesig, lyf. Zorada se begeleiding dans saam in meesleurende, sensitiewe deelneming.

Ek was dankbaar dat ek nie een van die ongeveer 7 miljard mense is wat hierdie uitvoering misgeloop het nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top