Endler Konsertreeks: Nikolaas Kende

  • 0

ENDLER KONSERTREEKS met Nikolaas Kende
28 Maart 2015
Endlersaal, Stellenbosch

Die skraal, beskeie figuur van die pianis straal ’n amper eteriese aura uit wanneer hy op die verhoog verskyn. “Boy in a bubble,” dink ek. En ja, wanneer hy speel, raak hy weg in daardie borrel. Dis net hy en sy musiek. En wanneer hy ophou, is ek amper huiwerig om te klap. Bang die brose borrel breek onder die aanslag van disharmoniese applous.

Nikolaas Kende se aanslag is lig, maar ernstig. Hy bekoor hierdie lekeluisteraar. Sy vertolking van Schubert se Klaviersonate in A-mineur, D537, laat reg geskied aan die afwisselende drif en lirisme van die sonate.

In Liszt se toonsetting van “Drie sonnette van Petrarca” resoneer die hunkering na die onbereikbare geliefde. Die pianis slaag daarin om die dromerige verlange en elegiese stemming enersyds, en die ekstase van die liefde andersyds, in die luisteraar se gemoed te laat eggo en iets van ’n herkenning te wek.

Die elegiese stemming van Liszt word vervolgens voortgesit in Chopin se Nokturne in C#-mineur.

In Alexander Siloti se verwerking van JS Bach se Prelude in B-mineur toon Kende sy tegniese vaardigheid.

Die hoogtepunt is een van Beethoven se laaste komposisies vir klavier – die passievolle Klaviersonate in C-mineur, Op 111. Die werk bestaan uit twee kontrasterende bewegings: 1. Maestoso – Allegro con brio ed appassionato en 2. Arietta – Adagio molto, semplice e cantabile. Kende gee ’n hartstogtelike vertolking van die komposisie waaroor dikwels gesê word dat dit wissel tussen “weerstand en oorgawe”, “die huidige en die hiernamaals”, manlike teenoor vroulike.

Dit is bitter jammer dat Kende voor so ’n leë saal moes speel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top