Endler Konsertreeks met die Beethoven Strykkwartet-projek

  • 0

Ludwig von Beethoven (bron: wikipedia)

In die geselskap van gunstelinggeeste. Dit is waar ek my Vrydagaand bevind het. Beethoven en vier agtenswaardige musici wat reg laat geskied het aan sy strykkwartette. En al is die Endler groot vir ’n kamermusiekuitvoering, kon ek vergeet van die ruimte en meegevoer raak deur die klanke van die vier virtuose strykers. Ook dankbaar voel dat die uitvoering deel vorm van ’n projek – dit beloof immers nog minstens drie of vier aande in hierdie uitgelese geselskap voordat al sestien Beethoven se strykkwartette gestryk is.

Die strykkwartet in D-majeur, op 18 nr 3 het die projek ingelei. Gepas so, omdat dit ook die eerste strykkwartet was wat Beethoven gekomponeer het. Volgens die programnotas ’n huiwerige toetrede tot die strykkwartetgenre, aangesien hy baie bewus was van die status wat Mozart en Haydn in hierdie genre geniet het.

Die “Strykkwartet in F-mineur” was tegnies heelwat meer veeleisend en ook “swaarder” as die een in D-majeur. Volgens die programnotas dateer die kwartet uit ’n persoonlik moeilike tyd in Beethoven se lewe en het hy in ’n brief aan sir George Smart gesê dat die stuk vir slegs “ingewydes” bedoel is. Hierdie oningewyde kan daarvan getuig, maar dit het nie ’n aks weggeneem van die skoonheid van die musiek nie.

Die laaste strykkwartet was die ietwat andersoortige een in C#-mineur – anders omdat dit uit sewe bewegings bestaan wat amper ononderbroke loop eerder as die meer konvensionele vier.

Die kwartet het bestaan uit eerste violis David Juritz, ondersteun deur Suzanne Martens (tweede viool), Karin Gaertner op die altviool en Peter Martens op die tjello. Talentvolle musici wat elk uit eie reg bekend is en in hul samespel die indruk geskep het dat hulle al jare lank saam speel.

Ek sien uit na die volgende been van die projek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top