
Foto van Stephan Joubert: NB-Uitgewers
Emigreer of bly
Stephan Joubert
NB-Uitgewers
ISBN: 9780796322272
Stephan Joubert praat met Naomi Meyer oor sy boek Emigreer of bly.
Stephan, jou boek Emigreer of bly het onlangs by NB-Uitgewers verskyn. Wat het vir jou die agtergrond gegee om hierdie boek te skryf? Waar woon jy, en het jy al elders gewoon? Vertel my asseblief van jou gesin se verblyf in Auckland – die goeie en die slegte aspekte.
Ja, dit het begin toe ek in Maart 2019 gevra is om ’n preek te doen by Mosaïek-gemeente in Fairland oor die tema van emigrasie, Die preek, wat toe ook op kykNET beland het, het nogals baie gesprek losgemaak. Toe het Susan Jordaan, my wonderlike redaktrise by LuxVerbi, my aangemoedig om ’n boek hieroor te skryf. Ek was aanvanklik huiwerig, want dit is maar ’n emosionele saak vir mense, een waaroor almal sterk standpunte huldig na verskillende kante toe. Maar ek het nog altyd gedink daar is ’n paar ander kante ook aan "ry of bly" wat nie aldag na die tafel toe gebring word nie.
Ek moet dadelik bysê ek is geen kenner op die gebied van emigrasie nie. Ook het ek geen besigheidsbelange hierby nie. Nog minder is ek ’n voltydse navorser hieroor. Ons as familie het wel oor die afgelope klompie jare aan sowel die rykant as die blykant van emigrasie geleef. Tussen 2009 en 2017 was ek deeltyds betrokke by Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland. Gedurende hierdie tyd het ek en my vrou elke jaar vir ’n maand of twee daar gewoon. Ook was ek vir ’n paar jaar betrokke by ’n teologiese opleidingsinstansie in Perth, wat gemaak het dat ek ook jaarliks vir ’n paar weke op ’n slag daar moes gaan klasgee. Vroeër, in 1997, het ons gesin vir ’n jaar in Duitsland gebly toe ek daar betrokke was by ’n universiteit met ’n navorsingsprojek. In 2002–2003 het ons gesin ook weer vir ’n jaar in Auckland gebly. Dit alles, tesame met ’n hele klompie korter besoeke, toere en klasgeegeleenthede in die buiteland, het bepaalde indrukke op my gelaat. Gereelde kontak met ekspats via ons kerk se digitale bediening het my ook net laat besef dat ’n tydige besinning hieroor dalk ’n paar olifante in die kamer kan aanspreek.
Wat my eie adres betref: Na elke reis keer ek terug na my tuisdorp, Kempton Park. Ek is ’n Oos-Rander deur en deur. (Mag mens dit so blatant bely?) Ek is gebore in Kempton Park en ons plak nog steeds hier.
Oor ons verblyf in Auckland in die vroeëre 2000’s: Ons as gesin het al ’n paar keer vir onsself gesê dat Duitsland, waar ons ’n paar jaar tevore ook gewoon het, op die ou end vir ons lekkerder was. So vertel my kinders ook wat onder andere daar ’n Duitse skool moes bywoon en die taal moes aanleer. Tog was Nieu-Seeland vir ons ’n persoonlike groeikurwe soos nooit tevore nie. Ek het na 13 aangename jaar uit my pos by Tuks se teologiese fakulteit bedank, en my vrou het ook haar onderwyspos prysgegee. Dit was vir ons ’n tipe pelgrimstog van epiese proporsies wat ’n klomp "geite" in onsself blootgelê het – ons selfgesentreerdgeit, ons onvergenoegdgeit, en ons kleingeloofgeit. Ons het Nieu-Seeland se skoonheid baie geniet. (Mind you, enige plek is mooier as die Oos-Rand!) Ook het ons die Kiwi’s se statusvrye en titelvrye kultuur geniet. Dit is ’n "laid-back" kultuur … wel, totdat iemand ’n fout maak. Dan kom jy ook maar agter dit is ’n "blaming culture".
Ek lees in een van die eerste hoofstukke van jou navorsing rondom redes hoekom mense wil emigreer. Wat was die hoofredes wat jy raakgeloop het?
Die top twee is sekerlik veiligheid en werksgeleenthede. Mense se onsekerheid oor die toekoms, wat direk gekoppel is aan hulle eie veiligheid, asook nuwe werksgeleenthede, is die groot trekpleisters na groener oorsese weivelde. Derdens is die onderwysstelsel van ons land ook ’n sterk oorwegende faktor.
Een van die hoofstukke in jou boek heet "Enige plek kan ’n lekker plek wees". Dit is waar, en in Erfenismaand is daar lekker geleenthede vir Suid-Afrikaners hier. Maar die teendeel is ook waar: Enige plek kan ook ’n verkeerde/slegte plek wees. Brei asseblief hierop uit en hoe jy sake sien.
Een van die basiese feite van emigrasie is dat jy self altyd saam met jou persoonlike "container" verhuis. Jou bietjie of baie emosionele bagasie emigreer ongenooid saam. En as jy dit nie behoorlik in die oë gekyk het voordat jy so ’n groot lyfskuif maak nie, dan word dit spoedig dié bril waardeur jy na enige nuwe bestemming kyk. Dan definieer jy boonop alles in "die ou land" hierdeur (soos wat ek een keer by ’n paar verbitterde ekspats gehoor het wat geweier het om ooit weer die naam Suid-Afrika te gebruik). Dan word die nuwe destinasie ook aan sulke onverwerkte emosies gemeet.
Tensy jy ’n vlugteling is wat geen keuses meer oor het nie, behoort jy nooit enige besluite rondom emigrasie lukraak, en op grond van negatiewe persepsies en emosies, soos vrees of bitterheid, te neem nie. Sulke emosies maak dat jy jouself dan begin definieer in terme van jou "wegwees van …", en nie in terme van ’n gesonde "gaan" na ’n nuwe fase, seisoen of roeping in jou lewe toe nie. Goeie ry-of-bly-keuses hou verband met ’n "gaan na" en nie met ’n "gaan weg van" nie.
Ek sê graag vir myself: "Enige plek is ’n lekker plek, maar dan moet jy self ’n lekker mens wees." Dit is lekker oorsee. Maar dieselfde geld ook vir ons land. Daarom wou ek nie voorskriftelik wees rondom ry-of-bly-keuses nie. Maar ek wou ten minste darem ook bydra daartoe dat mense hulle eie beginsels, motiewe en beweegredes goed in die oë kyk oor hoekom hulle dit wil doen, of nie wil doen nie, of hoekom hulle dit alreeds gedoen het. Eerlikheid bring gewoonlik ’n stuk nugterheid en deursigtigheid mee. Aan die ander kant lei enige ontkenning van sulke dieperliggende motiewe of beweegredes vir sulke keuses dikwels tot langdurige skuldgevoelens en frustrasie by sowel blyers as ryers. In hierdie verband het ek al meer as genoeg gesprekke met ekspats gehad wat ’n goeie front voorsit, maar wat sielsongelukkig in die buiteland is. En andersom.
In die boek word daar nogals heelwat aandag gewy aan konkrete oorwegings wat mense se keuses rondom ry en bly dikwels begelei. Feit is, enige emosies (en met name negatiewe emosies as dryfveer) hou ook net vir so lank. Om op rou emosies sulke ingrypende keuses te maak, is riskant. Die groot oog-oopmaker wat enige geïdealiseerde idees van "dié buiteland" laat verkrummel, kom wanneer die normale daaglikse realiteite jou tref. Ek praat van eindelose administratiewe dinge wat in plek moet kom, soos nuwe bankrekenings, mediese fondse, huurkontrakte met vreemde verhuurders, ens. En dan is daar ook nog die nuwe roetines van kos koop, huis skoonmaak, verkeersknope onderweg werk toe … om nie te praat van al die ongeskrewe sosiale kodes en kulturele waardes waarvan jy nie weet nie. Dit kan emigrasie na enige droombestemming in ’n uitgerekte pynlike ervaring laat ontaard. Daarom is die eerste emigrasie wat jy moet onderneem, daardie een na jou eie hart toe. Jy moet vrede maak met wie jy is en waarvoor jy hier op aarde is. Anders gaan jy lewenslank saam met U2 sing: "I still haven’t found what I’m looking for", waar jy ook al bly en waarheen jy ook al ry.
En toe kom COVID-19. Die Suid-Afrikaanse ekonomie bemoeilik sake aansienlik. ’n Rowwe ekonomie word nog meer stormagtig. Dink jy nie nou is die tyd om slim finansiële keuses vir die toekoms te oorweeg nie? En is dit inderdaad slim om hier in hierdie land die mas te probeer opkom?
Ek kry mense so jammer wat in hierdie Covid-tyd moes emigreer. Ek het deurlopende kontak met ’n hele paar mense in die buiteland, en ek hoor verhale van Suid-Afrikaners wat daar hulle werk verloor het as gevolg hiervan. Of vir wie die nuwe adres sonder ’n behoorlike ondersteuningsnetwerk van familie en vriende in hierdie krisistye skielik nie meer so rooskleurig lyk nie,
Vir seker is Suid-Afrika dalk nog meer stormagtig as elders, maar dit is ten minste bekende terrein te midde van onbekende nuwe faktore wat hand aan hand loop met die virus. En ten minste is die wind ook darem nog nie heeltemal uit al die seile hier ter plaatse nie. In hierdie verband luister mense veels te maklik na professor Google, of na bevreesdes en bedreigdes se oorhaastige waarhede, en selfs na fopnuus. Hulle skei nie aldag die kaf van die koring nie. Hulle vergeet dat vir sosiale media en massamedia slegte nuus eintlik goeie nuus is. Dit verkoop koerante. Dit trek die nodige digitale verkeer na bepaalde sosiale-media-platforms toe. Daarom is dit soveel makliker om slegte stories oor enige plek te glo as om al die feite vanuit ’n goedbegronde waardestelsel te beoordeel en te oorweeg.
Jy skryf dat jy emigrasie (of bly) beskou as ’n morele besluit. Hoekom? Verduidelik asseblief hoe hierdie keuse dan ook moreel kan wees?
Moraliteit loop hand aan hand met intern-gevormde karaktereienskappe wat moet uitmond in keuses om goed en reg te leef. Daarom moet dit ook daardie keuses oor ry of bly direk beïnvloed. Die somtotaal van ’n goedgeleefde lewe sou dus nie maar net kon gaan oor die bereiking van sekere geldelike doelwitte, of oor persoonlike veiligheid nie. Dit moet gaan oor ’n roeping om goed te doen en reg te leef tot voordeel van ander mense en tot eer van God. Dan raak enige keuses tegelykertyd moeiliker … en ook makliker! (Daarom word die uitdrukking "etiese eenvoud" ook in hierdie verband gebruik.)
Ek meen nie dat gelowiges die morele hoë grond alleen beset nie. Allesbehalwe. Maar moraliteit behoort ten minste diep ingemessel te wees in gelowiges se lewe en in hulle daaglikse besluite. Daarom dat ek my verbasing gedeel het oor party gelowiges se vreemde begrondings vir hulle ry-of-bly-keuses. Dit sê nie dat hulle immoreel optree deur te emigreer of te bly nie. Maar dit sê minstens sulke besluite is nie geskoei op ’n geïntegreerde waardesisteem nie. Vandaar ook ’n aantal voorbeelde in die boek van gesinne met wie ek te doene gehad het wat hulle keuses geskoei het op enigiets vanaf vallende jakarandablommetjies in die lentetyd tot by visioene of "Skrif-kry"-Bybeltekste. Uitdrukkings soos "alles het in plek geval" of "die Here het vir ons gewys" dien gewoonlik dan as regverdiging om sulke besluite te begrond. Dan is dit God se leiding (of sy skuld indien dinge later skeefloop – soos wat ek ook al gehoor het). Hierdeur isoleer mense hulle eintlik van enige morele aanspreeklikheid vir hulle besluite. Dieselfde gebeur ook wanneer mense wat kies om in Suid-Afrika te bly op irrasionele maniere almal verdoem wat emigreer as bewyse van hulle kleingeloof of ontrouheid aan God.
Jy skryf in jou boek oor die "gebrek aan beheer en die onsekerheid oor die toekoms". Dink jy nie dat mense in ander lande moontlik groter sekerheid op ’n rustiger, finansieel meer sekere en veiliger toekoms kan verwag nie, as mens kliniese feite in ag neem?
Ek het hier probeer om beide kante van die draad te beskryf. Ek het van die nuutste statistieke oor misdaad, werkloosheid, en dies meer in Suid-Afrika op die tafel geplaas, tesame met ’n paar toekomskenners se projeksies oor Suid-Afrika se toekoms. En ja, vir seker is die kanse heelwat hoër om hier ter plaatse deur te loop onder sulke slegte gebeure as op die meeste ander plekke waarheen Suid-Afrikaners graag emigreer. Voortdurende onsekerheid is inderdaad baie uitmergelend. Een langtermynstudie waarna ek verwys het, handel juis oor die effek hiervan, asook oor die gebrek aan in beheer wees in bepaalde beroepe. Hierdie studie is egter in Brittanje gedoen, wat bevestig dat sodanige gevoelens wêreldwyd te bespeur is en nie net hier ter plaatse nie.
Indien kliniese meetinstrumente gebruik word om geluk, welvaart, stabiliteit, en dies meer te meet, is die keuse vir vele voor die hand liggend dat emigrasie die aangewese roete is. Geen wonder nie dat Suid-Afrika in 2019 sowat 400 mense verloor het aan emigrasie wat meer as een miljoen dollar sterk is in terme van geldwaarde. Tog is die ewe belangrike vraag of dit ’n deurslaggewende oorweging in enige morele besluitnemingsproses mag wees.
Wat van familie – ouers en kinders? Het jy, terwyl jy met mense in jou navorsing gepraat het, hierdie faktor as ’n oorweging teëgekom?
Een van die opmerkings wat mens gereeld raakloop, is dat persone sê hulle emigreer ter wille van hulle kinders. Op die oor af klink dit na ’n koeëlvaste rede, maar dit kan ouers se verantwoordelikheid subtiel wegskuif na hulle kinders toe. Ek het juis een keer vir ’n ouer wat sou emigreer ter wille van hul kinders gevra watter land die kinders toe uitgekies het. Toe die dame fronsend na my kyk, het ek verduidelik dat dit darem nie billik klink dat hulle as ouers die land kies terwyl dit vir hulle kinders se onthalwe gedoen word nie. Ernstiger: Ek het al ’n klompie kere met Suid-Afrikaanse jongmense te doene gehad in die buiteland wat vertel hulle is sielsongelukkig daar. Maar hulle byt vas, want hulle ouers het dit ter wille van hulle gedoen, Inderwaarheid sit sulke kinders dan met ’n massiewe emosionele skuldlas.
Ouers moet van die begin af aanspreeklikheid vir ry of bly aanvaar. In die laaste hoofstuk van die boek sluit ek juis ook ’n aantal bydraes in van mense wat gekies het om terug te keer na Suid-Afrika, asook mense wat permanent in die buiteland bly, en ander wat gekies het om nie te emigreer nie, wat onder andere hierdie sake goed aanroer.
Jou boek maak dit moeilik vir mense wat net op geld en goed fokus, want hier is ander nietasbare kwessies wat mense in ag moet neem as hulle groot besluite moet neem. Vertel asseblief oor die deurgangsrites waaroor jy skryf (en oor jou wense).
Ek stem saam. Dit maak dinge moeilik vir pragmatiste, hedoniste en fataliste. En ook vir die res van ons. Want partykeer voel mens darem net lus om vir jouself te sê vat jou goed en trek Ferreira … Maar feit is, na albei kante toe is dit nie sommer net ’n geval van oppak en trek nie. Of maar net van bly omdat jy bang is vir verandering nie. Ek het ’n paar jaar gelede vir ’n vriend in die buiteland wat wou terugkeer, gesê hulle moet asseblief daar bly. My rede was glad nie die agteruitgang of onveiligheid hier in die land, wat mense graag aanvoer nie. Dit was vir my duidelik dat hierdie vriend sy roeping uitleef daar in die buiteland. Vir seker kan en mag gelowiges en kie ook emigreer. Die Bybel is vol van sulke migrasieverhale van mense soos ’n Abraham, ’n Moses, ’n Paulus, of die vroeë kerk. Hulle moes ter wille van hulle roeping gedurig van plek tot plek verskuif. Maar daar was ook derduisende wat tuisgebly het en wat plaaslik relevant geleef het. Baie van hulle het geweet hulle keuses hou vervolging, armoede en rampe in, maar hulle het dit deurstaan omdat dit deel van hulle roeping was.
Verskaf asseblief jou hoofrede waarom jy reken mense moet bly (en bedoel jy hierdie is inderwaarheid net van toepassing op Suid-Afrika?). Of is dit nie wat jou boek sê – dat mense noodwendig moet bly nie?
Die hoofrede hoekom mense moet bly óf ry is dat hulle lewe ter sprake is. Ons is nie die solo-ontwerpers van ons eie lewe op ons eie tekenbord van waar ons dit ook eiehandig bou en uitleef nie. Aan die ander kant is ons ook nie met ingeboude rekenaarskyfies vooruitgeprogrammeer deur God nie. Noodlottaal soos "wat moet gebeur, sal gebeur" of "alles gebeur met ’n rede" is derhalwe geen kitsuitweg binne enige ry-of-bly-scenario nie. Die regte keuses hou verband met wat ons elkeen verstaan as ons eie lewensdoel, en hoe ’n goedgeleefde lewe lyk voor God en tussen ander mense. (En dit lyk uiteraard vir verskillende mense verskillend, gegewe elkeen se eiesoortige omstandighede, geleenthede en talente.)
Jou boek bied inderwaarheid nie ’n kitsoplossing nie. Want jou boek handel oor die menslike reis, oor ’n dieper soeke. Hoe sien jy die lewensbestemming(e) van die mens?
Inderdaad. Isabel Wilkerson se aanhaling steek steeds by my vas: "It occurred to me that no matter where I lived, geography could not save me." Ons lewe is ’n reis. Op hierdie reis maak medereisigers, die landskap, die pad en die bestemming uitermate baie saak. Dit gaan oor die regte pad waarop ons moet leer om ligter te reis onderweg na ons bestemming.


Kommentaar
Dit is goed vir die siel om sulke kalm en redelike gesprekke aan te hoor. Hy is reg. Luister na die roeping van jou eie lewe want elkeen se verhaal is uniek en so ook uitleef daarvan. Om God te betrek is vir die gelowige sinvol want dit gee vir jou diepte en innerlike krag wanneer dinge swaar gaan sodat jy nie moedeloos of paniekbevange word nie. Daar is egter altyd ’n prys te betaal. Die gemis van kleinkinders is hoog bo aan daardie lys. Maar dankie, so 'n oop gesprek help baie om dinge te normaliseer.