Elna se Boekstories by KKNK beloof diep genot vir boekwurms

  • 2

Die KKNK, wat van Dinsdag 29 Maart begin en tot Sondag 3 April 2022 duur, bied ’n verskeidenheid boekgesprekke met prominente Afrikaanse skrywers aan. Melt Myburgh het met Elna van der Merwe, wat die fees se Boekstories reël, gesels oor enkele heerlikhede wat feesgangers te wagte kan wees.

Elna van der Merwe (Foto: Merwe Wiese)

Elna van der Merwe het vanjaar se skrywersgesprekke vir die KKNK saamgestel. Vir boekwurms is dit uitstekende nuus, want daar is min mense met soveel ondervinding en kennis van die plaaslike boekbedryf soos sy. Elna is veral bekend as redakteur van Huisgenoot se boekeblad, wat onder haar hand een van die beste boeke-afdelings vir tydskrifte geword het.

Deesdae werk Elna as vryskutjoernalis vanuit Stilbaai, onder meer vir Vrye Weekblad en Tuis, en vir langer as ’n dekade reeds skryf sy weekliks Huisgenoot se boekeblad.

Elna vertel dat haar loopbaan in die boekwêreld op ’n “skandalige manier” begin het: “Ek beland in my middel-twintigs as rou verslaggewer by Beeld in Johannesburg toe iemand van die kunskantoor my op ’n dag ’n boek in die hand stop. ‘Jy lyk soos iemand wat lees. Skryf asseblief vir ons ’n resensie,’ vra hy.

“In my lewe het ek nog nie so iets gedoen nie, maar dit het my nie gekeer om kommentaar te lewer op die onbekende sewentienjarige se debuut nie. Ja, Damon Galgut se A sinless season. Ek skaam my dood. Dit is vir my geen kwytskelding nie, maar ek lees darem in een van sy onderhoude ná die Booker vir The promise dat hy sy debuut berou.”

Feesgangers by die KKNK se Netwerk24-kafee gaan tereg voel asof hulle in die boekeparadys beland het, want daar is uitsoekskrywers op die program: Marita van der Vyver, Kirby van der Merwe, Jolyn Phillips, Julian Jansen, Alexander Strachan en vele meer. As veteraanboekjoernalis loop Elna al ’n lang pad saam met heelparty van dié skrywers.

Sy wil nie graag skrywers uitsonder nie, maar is steeds hartseer oor Christine Barkhuizen-le Roux se voortydige afsterwe voorverlede jaar. “Ek en Christine het tot ’n maand voor haar dood op 18 November 2020 nog gereeld per e-pos en WhatsApp met mekaar gesels. Dit was in die streng grendeltyd en sy het vertel hoe sy saans teen skemer op hul plaas die grensdrade gaan ‘inspekteer’.

“Ek het gesê ek beny haar dat sy so vry kan rondloop terwyl ek in ’n voorstad vasgekeer sit. In een van haar heel laaste WhatsApps stuur sy ’n foto wat sy op die plaas geneem het teen ‘grensdraadtyd’ en skryf onderaan:

stemme wapper saans
oor ’n herfs plaaswerf
bontgoed aan die draad vergeet.”

Marita van der Vyver is aan die woord oor ’n Baie lang brief aan my dogter (Foto’s: LitNet-argief)

’n Skrywer wat deur die jare vir Elna soos “familie” geraak het, is Marita van der Vyver, wat nou op besoek aan Suid-Afrika is en by die KKNK gaan gesels oor haar topverkoper-jeugmemoir, ’n Baie lang brief aan my dogter. Elna het al meermale as ondervraer in die stoel oorkant Marita stelling ingeneem.

Oor Marita se lieflingstatus onder plaaslike lesers sê Elna: “Ek dink Marita is die naaste aan ’n kultusfiguur wat ons in die Afrikaanse boekwêreld het. So was daar eenkeer toe ons in Sun City was vir ’n boekgesprek, in die tou mense ’n vrou met ’n stapel plakboeke wat sy deur die jare van Marita gemaak het. ’n Ander opvallende ding is dat baie mans ook haar boekgesprekke bywoon – dit kry jy nie sommer nie.”

En al woon Marita al jare lank oorsee, bly haar band met Afrikaanse lesers sterk. “Marita boor van Griet se dae af are raak in Afrikaanse lesers se bestaanswêreld, dus voel hulle sy verstaan hul wel en wee.”

Elna vertel dat sy wel twee negatiewe ervarings beleef het met lesers van Marita se boeke. “Die een was toe ek baie opgewonde die (toe) splinternuwe Wegkomkans vir ’n kollega leen om te lees. Sy het die Maandag teruggekom met wange rooi van ontsteltenis en gesê: ‘Nee, hier word darem te veel gevloek; nie ek of één van my vriende praat so nie.’

“Die ander was veel ernstiger: Grensgeval het verskeie oorlogsveterane die harnas in gejaag – in so ’n mate dat daar op sosiale media selfs doodsdreigemente was. Voor my onderhoud met haar kom waarsku die uitgewer dat een van die ontstokenes in die gehoor sit. Dit het ons die geleentheid gegee om die kwessie van die verhoog af aan te spreek en nodeloos om te sê, ons het geen vraetyd gegee nie. Soos Marita destyds aan Vrye Weekblad gesê het, sy het geweet sy druk haar vinger in ’n wond; sy het net nie besef dis nog so etterig nie.”

Die boekgesprek tussen Kirby van der Merwe en Frederik de Jager oor Eugene word met die samewerking van Rapport aangebied. (Skrywersfoto: Brenda Veldtman; Boekomslag: NB-Uitgewers)

Kirby van der Merwe is ook ’n Boekstories-gas met sy pas gepubliseerde Eugene. Louise Viljoen het in Rapport die hoogste lof vir dié boek, wat 20 jaar na Kirby se romandebuut, Klapperhaar slaap nie stil nie, die lig gesien het. “Ek was nog altyd een van Kirby se fan girls en is dankbaar dat hy ’n slag opgehou het om ander mense se romans te vertaal en sy eie te skryf,” sê Elna. “Bygesê, veral Carol Campbell se Die skilpad se laaste traan en Meg van der Merwe se Die vrou van die klippesee klink asof dit in Afrikaans geskryf is.”

Elna is oortuig dat Eugene een van 2022 se treffers gaan word. “Soos Kirby se redakteur, Frederik de Jager, gesê het: ‘Dis die boek waarop Afrikaans al lank wag.’” Maar op die vraag of sy vir Kirby ’n ekstra glas wyn by die KKNK gaan koop om die prestasie te vier, sê Elna nee – Kirby skuld háár ’n ekstra glas, blykbaar “vir daardie keer in die swembad. Hy sal weet waarvan ek praat!”

Op KKNK se Boekstories-spyskaart: Alexander Strachan, Sidney Gilroy en Wilna Adriaanse (Foto’s: LitNet-argief)

Die Bosoorlog is steeds ’n gunstelingonderwerp vir skrywers en uitgewers in Suid-Afrika, en dit lyk of belangstelling daarin nog lank nie gaan taan nie. Alexander Strachan is op Elna se program met sy jongste Recce-boek. En Jaco Wolmarans se “hardebaard-krimi”, Ivoor, speel ook tydens die Grensoorlog af. Die rede waarom Suid-Afrikaners nie van hierdie stuk geskiedenis kan wegkom nie, reken Elna, is dat dit “onafgehandelde sake vir die oorlogveterane” verteenwoordig. “Miskien voel hulle hul stories is nooit vertel nie of dat hulle nie die eer of simpatie gekry het wat hulle toekom nie. Of dalk het hulle nie die sorg gekry wat getraumatiseerde seuns en jongmans ná ’n oorlog toekom nie.”

Oor Sidney Gilroy, wat in ’n kort tydjie meteoriese opgang in die boekwêreld maak en by die KKNK oor sy jongste krimi, Vlam, kom gesels, sê Elna: “Man, ek dink dis daardie geweldige spiere van hom wat mense se aandag (af-)trek. Grappies op ’n stokkie, speursersant Sollie Mthembu, wat in Klikbek, Middernag en nou in Vlam verskyn, is ’n aanwins vir die Afrikaanse krimiwêreld.”

Elna kom ook al ’n lang pad met Wilna Adriaanse, wie se Vlug onlangs gepubliseer is. Wilna woon meestal in Botswana waar haar man Deon werk, en vir Boekstories vlieg sy spesiaal vir die dag KKNK toe. “Wilna het so ’n sterk skrywerstem, en nou in Vlug hanteer sy moeilike kwessies, soos die voortslepende konflik in Afrika en omgewingsbewaring, met ’n bedrewe hand. Daardie selfde hand is te sien in die seks- (of dan sensuele) tonele in Dubbelspel – van die beste wat jy jou kan verbeel,” sê Elna.

Sy het staatmaker-onderhoudvoerders genader om met die skrywers te gesels, onder meer Haidee Muller-Isaacs, Erns Grundling, Julian Jansen, Frederik de Jager en Daniel Hugo. Die meeste het ’n agtergrond in die joernalistiek, en skrywers gaan beslis nie sit en um en a nie. “Die belangrikste vir my is dat gespreksleiers weet hulle is daar om die skrywer te laat goed lyk en nie om self te probeer slim klink nie,” sê Elna.

Vir die paneelbespreking oor PG du Plessis se klassieke Koöperasiestories, wat tans weer in die mark is, is Margit Meyer-Rödenbeck, Alexa Strachan en Dana Snyman ingetrek om te praat. Elna verduidelik: “As teatervervaardigers het Margit en Alexa reeds ses jaar gelede besluit dis die ideale stories om mense na die teater te lok. Alexa het alles wat sy van skryf en storievertel aan PG se voete geleer. Hy het gereeld na haar as sy en Marie se ‘aangenome dogter’ verwys. Dana is een van PG se grootste bewonderaars en het dadelik ja gesê toe ek hom vra om saam met Margit en Alexa oor die nuutste keur uit Koöperasiestories te kom gesels.”

Jolyn Phillips soos sy verskyn in Bientang: bloedspoor/!nau, die verhoogproduksie gegrond op haar bekroonde digbundel, Bientang (Foto: Nardus Engelbrecht)

Oor die digter Jolyn Phillips se gesprek oor haar bekroonde Bientang, wat ook as verhoogstuk by die KKNK debuteer, is Elna baie opgewonde. Die feit dat ’n digbundel nuwe vlerke kry wanneer ’n verhoogproduksie daaruit voortspruit, is iets om oor verheug te wees. “Onder Afrikaans se wye net word baie mense gehuisves, maar so dikwels word net sommige se stories vertel,” sê Elna.

“Jolyn het in die Bientang-restaurant in Hermanus besef die legende van hierdie vrou bestaan eintlik nog net op ’n spyskaart. Dit het haar aan die dink gesit, onder meer oor hoe ’n mens die heel laaste van jou groep word, hoe ’n mens se geskiedenis so totaal uitgewis kan word. Ná die bundel het sy gevoel sy is nog nie klaar met Bientang nie en met die verhoogstuk delf sy verder in inheemswees.”

Dan gesels PP Fourie oor sy ’n Hart is so groot soos ’n vuis, en Julian Jansen oor sy Seuns sonder pa’s. Albei boeke handel oor die problematiese verhoudings tussen pa’s en seuns.

Hoekom is hierdie onderwerp so belangrik vir die Suid-Afrika waarin ons ons bevind?

“By Vrye Weekblad se onlangse boekefees op Stilbaai was die gehoor bewoë by die aanhoor van Fourie se verhaal,” vertel Elna, “oor hoe hy en veral sy ma deur sy pa fisiek en emosioneel mishandel is.”

En nadat Haidee Muller-Isaacs, wat die gesprek met Julian Jansen gaan lei, ter voorbereiding aan Seuns sonder pa’s begin lees het, het sy vir Elna laat weet sy is in trane.

Julian Jansen gesels met Haidee Muller-Isaacs oor sy Seuns sonder pa’s (Foto’s: LitNet-argief)

Die onderwerp van gebroke verhoudings tussen pa’s en seuns in Suid-Afrika is iets waaroor Elna diep nagedink het. “Daar is teoloë in ons land wat worstel met die idee dat die christelike kerk van God die Vader praat juis omdat die pa in ons wye en droewe land dikwels óf afwesig is óf ’n afknouer, geweldenaar, dronkaard, of magsdronk outokraat is. Geen positiewe figuur dus nie. Pa’s wys nie vir hul seuns hoe om pa’s te wees nie, en so gaan die siek siklus voort. Die gevolg hiervan sien ons onder meer in gendergebaseerde geweld, volgens ons president die naasgrootste pandemie na Covid.”

Op die KKNK se webwerf nooi Elna van der Merwe feesgangers uit om daagliks na drie gratis gesprekke met skrywers in die Netwerk24-feeskafee te kom luister. En sy waarsku: “Verwag om vermaak te word, maar ook geroer en wakker geskud te word.”

 

  • Die volledige Boekstories-program is hier op die KKNK se webwerf.
  • Boekwurms wat nie vanjaar by die KKNK kan uitkom nie, kan vir Marita van der Vyver, Jolyn Phillips en Kirby van der Merwe van 27 April tot 1 Mei 2022 by die Suidoosterfees in Kaapstad meemaak.

 

  • 2

Kommentaar

  • Herman Lategan

    Lyk wonderlik, ek is skoon kwaad vir myself dat ek nie die moeite gemaak het om te gaan nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top