Elke kind kry 'n platform op die Kunstekaap se verhoog - Riaan Visman vertel

  • 0

Riaan Visman is 'n akteur en kom van Oudtshoorn af. Hy was lank op dié dorp betrokke by die KKNK - eers as akteur en toe ook agter die skerms, as kunste-ontwikkelingspraktisyn. Hy is pas aangestel as Kunstekaap skole-projekbestuurder. Hy vertel vir Naomi Meyer van die nuwe uitdaging en deel ook sy foto’s van Hoërskool Dramafees by die Kunstekaap.

Hallo Riaan, geluk met die aanstelling! Sal jy asseblief vir ons lesers vertel wat dit beteken om skoleprojekbestuurder vir die Kunstekaap te wees?

Dit beteken dat ek skoleprojekte bestuur met my assistantprojekbestuurder, Nolan Africa. Die skole-eenheid vorm deel van die Gehoorontwikkeling? en Opvoedingsdepartement, waarvan Marlene le Roux die direkteur is.

En ook: wat bied julle aan vir skoolkinders by die Kunstekaap?

Ek het in Mei 2012 hier begin en ons het die mini-hoërskooldramafees gehad waaraan 76 skole deel geneem het. Die fees het oor ’n tydperk van twee weke geloop. Ons het areas soos Belgravia, Brackenfell. Khayelitsha, Michell’s Plain, Malmesbury, Tokai en Worcester gedek. Die skole wat in die omliggende gebiede geleë is, het dan daarnatoe gekom en ’n tienminuteproduksie gedoen. Die leerders moes self ’n teks skryf volgens ’n tema wat ons gekies het. Die tema vir hierdie jaar was lewenswaardes. ’n Beoordeelaarspaneel wat bestaan het uit Nolan Africa, Fatima Dike en Francois Toerien het die minifees beoordeel. Ná die minifees het ons 16 produksies gekies wat van die 14de tot die 16de Augustus by die hooffees hier in die Kunstekaap-arena aangebied is. Voor die leerders by die hooffees kom optree, het Francois Toerien as regisseurskonsultant na elk van die skole gegaan en ’n twee uur lange werkswinkel aangebied. Die drie beste produksies is dan weer deur ’n paneel beoordeelars gekies, wat Peter Butler, Sticks Mdidimba en Francois Toerien ingesluit het. Saterdagoggend 18 Augustus is die drie beste produksies aangebied en is die wenners aangekondig. Daar is natuurlik prysgeld wat na elke wenskool gaan om die kunste in daardie skool verder te bevorder.

Dan was daar die Skolekunstefees wat parallel met die hoërskooldramafees geloop het. Hierdie fees is daarop uit om vir elke kind ’n platform te skep in die uitvoerende kunste. Sommige skole het ook vir die volle twee en ’n half weke kunsuitstalings in die teater se voorportaal gehad. Hierdie fees het die 13de Augustus begin en die 28ste Augustus geëindig, met ’n glansgeleentheid op die 30ste Augustus. 114 skole regoor die Wes-Kaap het deelgeneem. Elke aand was daar ongeveer 12 skole op die Kunstekaapverhoog. Skole kry agt minute op die verhoog. Dit was ’n veelsydige fees met verskillende genres en skole. 16 skole wat uitstaan oor die tydperk van die fees is gevra om tydens die glansgeleentheid op te tree, waar trofees aan hulle oorhandig is deur die Minister van Kultuursake en Sport, MEC Dr Ivan Meyer.

In Junie/Julie het ons ook nou saamgewerk met die Stad Kaapstad se Yes-omgewingsfees. Leerders het omgewingsvriendelike produksies gedoen. Dit het gevolg op ’n reeks werkswinkels wat hier by die Kunstekaap gehou is.

Dan het ons ook die voorgeskrewe werk vir Afrikaans, Engels en Xhosa wat in April en Mei vir matrikulante opgevoer word.

Ons is ook gesëend om befondsing van Grand West Cape Culture and Heritage, Golden Arrow-busdiens (HCI) en die Wes-Kaap Onderwysdepartement te kry.

Marlene le Roux is die dryfkrag agter al hierdie projekte. Die skolefeeste het 13 jaar gelede begin en het ’n groot inpak in ons kinders se lewens.  

Watter talent sien jy onder skoolkinders raak?

Daar is ongelooflik baie talent onder die skoolkinders, veral vandat Kuns en Kultuur weer deel vorm van die kurrikulum, en omdat fokusskole geïdentifiseer is. Die meeste skole wat deelgeneem het aan die feeste was nie noodwendig fokusskole nie. Daar is ’n hongerte vir die kunste.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top