Elisabeth Eybers-prys 2018: Wenner- en kortlysmotiverings

  • 0

Keurders: Henning Pieterse, Bibi Slippers, Charl-Pierre Naudé

Wenner

Marlene van Niekerk
In die stille agterkamer: Gedigte by die skilderye van Jan Mankes 1889–1920
(Human & Rousseau)

Marlene van Niekerk verwys in die nawoord van haar bundel In die stille agterkamer: Gedigte by die skilderye van Jan Mankes 1889–1920 na die “verstildheid” van die wêreld wat Mankes in sy werk skep. In haar gedigte by die skilderye word hierdie verstildheid herskep, maar terselfdertyd met inhoud en assosiasie gelaai, wat ’n boeiende dog meditatiewe leeservaring meebring.

Die gedigte getuig van die intense aandag waarmee die digter die kunswerke beskou het, en hierdie aandag word in die gedigte gedistilleer tot ’n indrukwekkende fokus van energie. Die feit dat die gedigte ook in Nederlandse vertaling in die boek staan, dwing die leser (sagkens) tot ’n herhaalde, stadiger ontmoeting met die gedig waarin daar oor die skildery besin word, en dien sodoende op ’n praktiese vlak die oorkoepelende tema van die bundel.

Die bundelontwerp is weldeurdag en keurig, en bind die skilderye en gedigte tot ’n eenheid, sodat die boek as “artist’s book” funksioneer, waarin die fisieke vorm en die inhoud onafskeidbaar van mekaar en in alle opsigte essensieel is. Die visualiteit van hierdie bundel (en dit is ook waar van sy tweelingbundel, Gesant van die mispels) verskaf ’n nuwe toegangspunt tot Van Niekerk se werk vir ’n veranderende leespubliek, waar lesers dikwels in die eerste instansie kykers is.

Van Niekerk omarm dié visualiteit sonder om die helderheid, krag, erns en diepgang van haar literêre visie prys te gee. Sy vind ’n rykdom moontlikhede vir ontdekking, spel, vrae, en vindingryke oordenking en interpretasie binne die stiltes van Mankes se skilderye. Die boek is ’n waardige wenner van die Elisabeth Eybers-prys vir die manier waarop dit selfversekerde vaardigheid en visuele vernuf bymekaarbring om die “klein vrae” van Mankes se skilderye in die kontemporêre tyd te laat opklink en met die eietydse en aktuele te laat resoneer, sonder om die “verstildheid” (waaraan daar in hierdie lewe so ’n tekort is) in te boet.


Kortlys

Corné Coetzee
Nou, hier
(Human & Rousseau)

Coetzee is ’n digter van die juiste en gestroopte segging. Die werk konsentreer op menseverhoudings en wrywingspunte waarin emosie met die rede bots.

Die gedigte maak ’n sterk verdinglikte indruk waarin emosionele ervarings soos brokke kwarts op ’n vensterbank skyn. Elke gedig lyk en voel soos ’n gekoesterde, intieme huishoudelike voorwerp, gered uit ’n meedoënlose, enorme vloed van die tyd.

Na die herhaalde lees van hierdie debuut maak dit steeds ’n skatkis van verskerpte indrukke oop. Dis tematies ryk en tegnies so vaardig soos net die beste. Die direktheid en eenvoud van die segging beïndruk en lyk soos die produk van slyping en oorslyping. 

Die digter se beheer van woordkeuse en betekenisspanning is kleurvol, vindingryk en sekuur. Die klassieke klank en woordpresisie van ’n Cussons en ’n Van Wyk Louw is hoorbaar. ’n Simfonie van ’n hele poësietradisie gaan gedemp in die agtergrond soos insektepootjies aan die vrywe, maar in die voorgrond is dit die helleskerp omlynde wêreld van nou.

’n Mens bly besonder beïndruk deur hierdie digter wat haarself met soveel omsigtigheid, ewewigtigheid, deernis en seggingskrag met die stemlose en kwesbare oomblik vereenselwig en dit so klinkend tot lewe bring. Coetzee het haarself met hierdie stralende debuut gevestig as ’n digter van die eerste orde.

----------------------------------------

Jolyn Phillips
Radbraak
(Human & Rousseau)

In haar digdebuut, Radbraak, aktiveer Jolyn Phillips die titel op verskeie wyses: dit kan dui op ’n Middeleeuse martelvorm – die breek van bene op ’n wiel – asook op die verskeie wyses waarop sy die taal self ontheg, vervorm, “breek” en hersaamstel.

Die fisiese breek van liggame word in verskeie gedigte verbeeld, onder meer in “’n geweeklaag”, ’n reeks roudigte oor die struggle-vegters Ashley Kriel en Anton Fransch:

die meulens radbraak julle bene                               jeens die lykskouings
[...]
die liggame gebars tot galg en rad
en met horte en stote ter tafel gelê
wie onthou die liggame getak-breek
oor die martelaar se knie?

 

In “Diglossie” stel die digter haar kragtige taalspelvermoë ten toon:

ek liegbek die hele tyd want ek breek by
die taalwiel die hele tyd sien ek my taal
beenbreuk         hoe meer ek in my tong
praat hoe meer word ek onverstaanbaar
                                        ’n vraat by ’n bidwiel

ek sit ek in sy oorskulp ek draai oorwas-

woorde om en om die middeleeuse storie
sy breekwiel het verwees tot ’n spreekwoord
my tong draai word gevleg geknuppel

In gedig na gedig ontvou, met uitstaande waarnemingsvermoë, ’n leefwêreld van swaarkry, alkoholisme, dwelmmisbruik en sterftes, tydens en na apartheid, alles gestel teenoor die breekbaarheid van ’n skulp wat heenwys na die menslike liggaam en verganklikheid, vergelyk “Bea Benjamin se gebreekte ballade”. Die fyn liefdes- en herinneringsverse ontroer weer met hul musikaliteit.

Radbraak is ’n merkwaardige debuut en beloof veel van die digter in die toekoms.

----------------------------------------

Nathan Trantraal
Alles het niet kom wôd
(Kwela)

Alles het niet kom wôd, Nathan Trantaal se tweede digbundel, is, soos sy debuut, in ’n Kaaps-Afrikaanse register geskryf met ’n sterk en uiters direkte, gekruide parlando-aanslag.

Temas bekend uit die debuut is weer hier aanwesig: die digter se grootwordmilieu op die Kaapse Vlakte en verbande tussen vriende en familielede wat dié milieu bevolk. Verlies, swart humor, ironie, woede, slegte herinneringe en ’n brutale werklikheid word in gedig na gedig opgeroep, telkens met treffende slotte.

Die temas van geloof, godsdiens, die kerk, sektes, vergifnis, wedergeboorte en ontgogeling met al hierdie kwessies is sterk aanwesig, meestal tussen die pole van hoop/verwagting en telkense teleurstelling wanneer sekere werklikhede inskop.

Skrynende aanklagte teen die gevolge van apartheid en oor die oproep om versoening in postapartheid-Suid-Afrika word gehoor in verskeie verse. In “Die man wat ie kinnes vang” waarsku die liriese subjek sy dogtertjie:

Die regte man wat jy moet
ytkyk voo issie white man
[...]
Wan as jy hom ie kans gie
sal hy jou siel steel
en virrie dywel offer
as nogge down payment
vi sy hemel op aarde

In die hoogs ironiese “Cash for Gold” lees ons weer van die klipharde werklikheid waarin die bekroonde digter hom bevind:

Ek wonne of ekkie ienagste
prize-winning poet is
wat copper wire
vi kosgeld moet strip

Alles het niet kom wôd is ’n uiters kragtige bundel waarmee Nathan Trantaal hom ongetwyfeld vestig as een van die belangrikste kontemporêre Suid-Afrikaanse digterstemme.


Lees ook:

Nou, hier deur Corné Coetzee: ’n resensie deur Heilna du Plooy

Nou, hier deur Corné Coetzee: ’n resensie

nou, hier deur Corné Coetzee: foto's en video's van die bekendstelling

Radbraak deur Jolyn Phillips: ’n resensie

Alles het niet kom wôd deur Nathan Trantraal: ’n resensie

Video: Bekendstelling van Marlene van Niekerk se beeldgedigte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top