Radbraak
Jolyn Phillips
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176163
Jolyn Phillips het in 2016 gedebuteer met die opspraakwekkende kortverhaalbundel Tjieng Tjang Tjerries & other stories. Sy is tans besig met haar doktorale studie aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waar sy as dosent werksaam is. Radbraak is haar digdebuut.
Volgens die HAT dui radbraak op ’n outydse vorm van marteling waartydens ’n persoon se bene gebreek is. Die woord sinspeel ook op die skending, verknoeiing en verminking van taal, verstegnieke wat Phillips op sintaktiese, semantiese en tipografiese vlak enduit deurvoer. Hierdie verwringing van taal herinner aan die werk van digters soos Paul Celan wat deel gevorm het van die Trümmerliteratur-beweging (of rubble literature-beweging) ná die Tweede Wêreldoorlog. Die taal word gebreek of omvorm en uit dié “puintaal” word estetika of nuwe letterkunde gevorm, letterlik gebore uit die puin van ’n distopiese samelewing. In Phillips se geval nie ’n wêreldoorlog nie – maar uit die oorblyfsels van die apartheidsverlede, die geweld op die Kaapse Vlakte, die armoede van Gansbaai se vissersgemeenskap, drank- en dwelmmisbruik en maatskaplike ongelykheid. In die verse word taal herwin en neologismes geskep. Enkele voorbeelde is die gewaagde taaleksperiment in “Diglossie” (65–6) met sy dittografie, meerduidigheid en die omruil van woordsoortposisies.
Die digter is deeglik daarvan bewus dat poësie vakmanskap en werk behels, en in verse soos “woorde vir iemand anders” (36) en “tong-trilogie” (37–9) word ’n outobiografiese illusie geskep waarin die spreker se verlange om te skryf al van kleins af blyk: hierdie verse kan ook as ars poëtikale besinnings gelees word. Die bundel fokus op die prosesse van wérk. Dit is poësie oor die werkersklas, en in verskeie verse word ’n “werkswyse” gevolg waarin die selfstandige naamwoorde as werkwoorde optree. So vertel die spreker byvoorbeeld van haar droom om verder te gaan studeer nadat sy werk gekry het by ’n supermark se deli. Vervolgens strofes 1, 7 en 9 uit “Bokkie polony” (34–5):
ek kan Bokkie polony papierdun sny
met ’n meat cutter wat kerm soos ’n vark
ek kan die biltong in die grinder sit
ek geniet die donderweer in my maag
twintig rand se biltong skat ek met die oog
[...]
die supervisor se niggie het gister
ingeval sy’t sommer first day
nuwe uniform ek en Loki het nog altyd rooi
T-shirts aan met Geseënde Kersfees
[...]
Loki grap wit mense laat haar dink
aan sandwich ham biltong laat haar
dink aan haar man in die Transkei
Bokkie polony is ons almal saam gemix
[...]
Die dubbelduidige suggestie van die woord “Bokkie” bekoor, enersyds as ekonomiese handelsnaam, andersyds as ’n uitdrukking van vertedering jeens ’n jong meisie wat raap en skraap om te gaan studeer.
Soos reeds genoem, beteken radbraak ook “martel” (met die doel om inligting te bekom). In die bundel bely of bieg die spreker, maar sónder om in belydenisagtigheid self te verval. Die ontginning van die verse geskied soos ’n vertroulike leserskonktrak – en al braak die spreker soms gal, word die verse getemper deur ’n humoristiese of sardoniese aanslag.
In “duiker-Ma se skrikkeljaar” (18–9) word understatement gebruik om die spreker se ambivalente gevoel jeens die finansiële voorspoed wat perlemoenstropery vir die arm gesinne bring, te verwoord.
Phillips is ’n meester van selfironisering, soos die outobiografiese illusie in “oe jirlikheid! Janwap se kind” ook illustreer; ek haal die slotreëls aan:
jirre Janwap se kind
gaan almal nog verskalk. (55)
Dit is inderdaad so met alles wat die 27-jarige Phillips reeds vermag het op literêre en akademiese gebied.
Taal en digterskap as beliggamingsproses kom ook aan bod. In die vernuftige “tongvis” (8) word seksuele molestering aan die hand van die skoon- en gaarmaak van ’n tongvis geskets, ’n tema wat resoneer met “perlemoen” (60). Vervolgens strofes 4 en 5 van laasgenoemde gedig:
op die strand ontskulp hy my
hy vat my mantel
hy los my buik
toe die son klink in die lug
kom pik die strandlopers
kom spoeg ’n visserman langs my stank
ek is ’n perlemoendop
vir as op jou vensterbank gestrand.
Geweld en trauma word verwerk of geradbraak aan die hand van metafore waarin verontmenslikende dade geobjektiveer of “verdierlik” word as skulpe of seediere. In die verse word daar dikwels verwys na asbakke, as, rommel, of puin, wat die poësie se verwantskap met Trümmerliteratur verder beklemtoon. Die dood van ’n kind in ’n brand word belig in “skoolstraat” (46–7) asook “vonkvliegies in Gouwsblomstraat” (56), terwyl die beliggamingsproses van taal op morfologiese vlak blyk uit “tong-trilogie” (37–9), en ek haal die eerste reël van “part 3” aan: “die biologie van my woord is ’n verbrokkelde fraktuur.”
“Hoe ontlief ek jou?” (9) is moontlik ’n toespeling op Lynn Anderson se country-treffer “How can I unlove you?”, ’n klipharde liefdesvers wat die musikaliteit in die bundel aktiveer. Phillips is ook ’n sangeres, en in ’n onderhoud met René Bohnen op Versindaba sê die digter: “Ek moet bieg dat ek van die gedigte getoonset het en dat ek by ander interessante maniere van taalgebruik uitgekom het.” Die omslagontwerp toon ’n toringskulp, en skulpe word al vir eeue as gemodifiseerde musiekinstrumente gebruik. In verse soos “maai maai skoppelmaai” (58) en “koortjie” (59) word ’n tipe liedagtigheid ontgin, terwyl “Bea Benjamin se gebreekte ballade” (40) na die uitgeweke aktivis en jazzsangeres Sathima Bea Benjamin verwys. Die puntlose “snelsêer vir Annetjie se opskop” (61) kon liefs in die snippermandjie gebly het.
Ook as elegiese digter lewer Phillips ’n bydrae. In “’n geweeklaag” (29–3) word daar in ’n reeks van vier verse hulde gebring aan die anti-apartheidsaktiviste Anton Fransch en Ashley Kriel wat in die tagtigerjare deur die polisie doodgeskiet is. Die verse word aangebied as ’n monoloog waarin die spreker met die gestorwe helde ’n gesprek voer; hierdie verse sluit dan op hul beurt aan by die groter strugglediskoers, byvoorbeeld Tatamkhulu Afrika se “The funeral of Anton Fransch”. Alhoewel die uiteenplasingstegniek die geweld en stilte treffend verwoord, is die verse ongelukkig net té skril. Die tipografiese verwringings in die teks skep doelbewus die indruk van ’n rommelrige vers.
In die enigste Engelse vers in die bundel, “dop system’s merry-go-round” (13), waarin berig word oor ’n alkoholis-vader teen die agtergrond van die dopstelsel, word Afrikaans in sy geheel “ont-taal” as die taal van die onderdrukker.
Die bundel wemel van raakvat-oomblikke en Phillips is ’n fyn waarnemer; byvoorbeeld: “Sondae gaan ons kerk toe haar hoed/ omwentel haar soos Saturnus/ se ringe” (27); “dank die here-got jy’s nie ’n hottentotsgot”(21); en “so sit en bak hulle apartheid-/ nostalgie in die son hulle wag vir beter dae/ in die nuwe Suid-Afrika” (45).
In die slotvers, “diglossie” (64–5), besef die spreker-digter dat die digterlike taaleksperiment ’n versadigingspunt bereik het. Die slotreëls:
wat moet my prostese-tong nog stukkend stap
om uit my vel-taal te ontsnap?
Die soeke en terugspoor na identiteit (“vel-taal”) is tydelik voltooi.
Radbraak is ’n uitstaande debuut, ’n bundel waarin suiwer poëtiese segginge onverpoos uit die afbraak van taal gemyn word. Ek haal die volgende vers in sy geheel aan:
tongvis
ek is sardynstil
jou hande slim
jou lippe sjuut
op my lippe
jy prooi tussen my bene
jou ou visbene
ek hyg nog met die hoek
in my bek
jy kyk vir die gety
die see raak onstuimig
as jy visvrou naby
Romansbaai se rotse kom
ek hoor jou lem skerp
ek hoor jou oor my meeu
jy vat my jy vlek my
langdradig sny jy langs
my kiewe al langs my pens
daar lê my binnegoed stom
met die kaal hand trek jy my uit
en smyt my eenkant toe
vir aandete berei jy my voor
my kop kook jy in soutwater en uie
’n tongvis vir twee
die’s vir die meel
die pan wat my braai wag
sodat die rou stadig uitbak
stadig uit my uitbak. (8)
Kommentaar
`n Puik resensie wat my oë (en mond) laat water! So `n bundel soek ek dadelik op my boekrak, sodat ek die suiwer poëtiese segginge kan vashou; kan lees!