Elf dae op ’n eiland
Elizabeth Wasserman
Tafelberg
ISBN: 9780624085805
Skrywers oor hul nuwe boeke. Elizabeth Wasserman vertel vir Naomi Meyer van Elf dae op ’n eiland.
Hallo Elizabeth! Die skool het pas weer begin en ek’s seker baie mense droom reeds weer oor vakansie op ’n tropiese eiland. Waar het jy die idee gekry vir Elf dae op ’n eiland?
Ek skryf graag oor plekke wat ek ken – en ek ken die Seychelles redelik goed. Ek ken die see en die diere daar rond en die ekosisteem van die eilande is uiters interessant, sowel as die navorsingswerk wat daar gedoen word. Daar is hope materiaal vir stories – van die ou seerowerskatte wat na bewering steeds daar begrawe is, die geskiedenis van die kokosneutplantasies en boerdery met speserye en vanilla, snaakse stories oor die Britse en Franse besetting totdat die eilande uiteindelik onafhanklik geword het iewers in die 1950’s, en natuurlik die troppe toeriste wat daar opdaag met ’n versugting na ’n paar dae in die son. Die meeste mense beskou die eilande deur ’n waas van romanse. Nie sonder goeie rede nie!
Tog. Hierdie tropiese vakansie is dalk nie heeltemal wat Danika, of die leser, verwag van ’n vakansie op ’n eiland nie. Hierdie aanhaling uit die boek bied dalk ’n leidraad: "So: weens onvoorsiene omstandighede bevind Danika Kuyler, doodgewone graad 11–leerling aan ’n redelik ordentlike meisieskool in Kaapstad, met ’n glamorous ma maar min ware vriende, haar eensklaps op ’n eiland iewers in die middel van die Indiese Oseaan." Wil jy dalk kortliks vertel waaroor die storie handel?
Dit gaan oor ’n tiener wat per ongeluk tussen ’n span navorsers op ’n reservaat in die Seychelles beland. Sy leer vinnig van bewaring en tussenin het sy ’n hoop persoonlike krisisse om te hanteer. ’n Ryk sakeman probeer een van die eilande op ’n slinkse manier bekom en die goeie werk van die span wetenskaplikes om ’n paar spesies van uitwissing te red, word bedreig.
Ek hoop die storie is ’n waardige tweede in my “Elf dae”–reeks. Na ek my eie tiener grootgemaak het, bly ek gefassineer met daardie stadium rondom 16 jaar, wanneer die donker wolke van hormone en sosiale intriges soms net so bietjie wegskuif om die groter wêreld daar buite te wys. Ek probeer my stories só skryf dat dit vermaak. Reisverhale werk goed, en snaaks genoeg loop die meeste lesers weg met die idee dat dit romantiese avontuurverhale is. Dan is dit so! Maar ek glo dat enige storie moet op sterker bene moet staan. As jy die boek klaar gelees het, moet jy (bewustelik of onbewustelik) voel dat jy effens ryker is. Jy het van ’n nuwe plek geleer, of nuwe mense. Jy het ’n situasie teëgekom waarmee jy kan assosieer (soos ’n afwesige ouer) en gesien hoe iemand anders, al is dit bloot ’n karakter in ’n storie, sulke probleme te bowe kom. Jy het gesien hoe iemand in min of meer dieselfde situasie as jy dit regkry om sin te maak van haar lewe, op een of ander manier.
Die proloog tot die verhaal dui daarop dat Danika nie net eksistensiële krisisse gaan ervaar nie, maar werklik ook in lewensgevaar beland. Dis ook raaiselagtig dat Danika, soos dit op die agterblad van die boek staan, haar pa vir die eerste keer na sestien jaar sal ontmoet. Dan is daar ook ander kwessies waarmee jou hoofkarakter worstel – wil jy iets meer van haar vertel?
Jonger as 16 is mens baie weerloos. Danika het grootgeword met ’n stel gegewens, en sy het die beste daarvan gemaak sonder om dit reg te kry om ’n merk op haar omgewing te laat. Sy is bloot gewoon. Nie te lelik nie, nie te dom nie, nie te arm nie, nie te ongewild nie. Tieners streef dalk daarna om so deel van die massas te wees, om “in te pas”. Maar dit hou nie vir altyd aan nie. Op een of ander stadium moet elke mens sy spesiale voete vind. Vir Danika kom die oomblik toe sy sien hoe ’n karetskilpad eiers lê op die strand van Cousin-eiland. Die bohaai oor die bewaring van die Aarde maak skielik vir haar sin, want sy besef hoe breekbaar die klein deeltjies is waaruit ons geheel saamgestel is. Hierdie skielike wysheid kan sy oordra aan haar verhouding met haar pa: sy maak vrede met hom want dis belangriker dat sy hom nou het, as dat hy afwesig was in haar verlede. Sy kry bietjie rigting in die elf dae waarin die storie afspeel. Sy kry ’n plek wat haar pas.
Jou vorige boek, Elf dae in Parys, is deur die ATKV bekroon en die titel mag dalk ooreenkomste toon met hierdie nuwe een van jou, maar die karakters en die verhaal is anders. Waarom die spesifiek elf dae en waarom bestemmings in verre lande?
Die parallelle in die stories (en in die wat nog hopelik kom, want “Elf dae” word ’n reeks) is die krag van reis en nuwe ondervindings, spesifiek op ’n ouderdom waar mens baie vatbaar is vir nuwe invloede. Veral wil ek dit lekker maak om te lees. Ons doen baie om ons klein outjies te laat lees, veral in hul moedertaal, maar dan moet ons hulle nie verloor sodra hulle begin soek na lekkerlees–fantasie vir jongmense nie. (Die fantasie is nie so dik in Eiland nie, maar ek sê nog altyd dat die wetenskap meer wonderlik is as towerkuns). In Parys het dit gegaan oor die rol en krag van kuns in ons lewens. Eiland gaan oor bewaring en wat die wetenskap kan doen om die natuur te help. Hopelik gee die temas in die agtergrond ’n bietjie meer skop, sonder om die pret van die verhale te verdun. Ek skryf dus die soort stories wat ek self graag lees: stories met soliede feite–voete, maar ook stories wat jou heel laat voel as jy die boek toemaak. Ek is nie goed met smart en ellende nie – as dokter sien ek genoeg daarvan elke dag. Ek skryf vir my eie vermaak, en hopelik deel ek die pret met my lesers.
Jy is ook bekend vir die Anna Atoom–reeks en ander boeke vir jonger kinders. Wat is vir jou verskillend aan die skryf vir jonger kinders en dan tienderjarige lesers?
Definitief moet jy ’n heel ander stem uithaal. Ek probeer myself inleef in die ervaring van die ouderdomsgroep. Elke woord tel, maak nie saak vir wie jy skryf nie. En intelligensie is daar van kleins af – dus kan jy nie “eenvoudiger” skryf vir jonger outjies nie. Dis eintlik baie moeiliker! Jy moet hul aandag hou deur die pas van die storie styf te draai. Kleiner outjies, soos die wat Speurhond Willem lees, hou ek heeltyd aan die beweeg met allerhande snaakse gebeure. Maar ek probeer die boeke só skryf dat grootmense dit ook sal geniet, as hulle dit voorlees vir hul kinders. Tieners kyk dieper, en hulle is ook baie meer selfbewus. Vir hulle moet jy ’n hele wêreld skep, en hulle harder laat werk om by die storie uit te kom. ’n Boek gebeur mos iewers tussen die skrywer en die leser. Dus moet jy die leser se ervaringswêreld (eerder as ’n spesifieke ouderdom) die hele tyd in gedagte hou, of die storie val op die grond.
Wie is jou ideale leser?
Die “Elf dae”-stories is vir sestienjariges van alle ouderdomme. Ek raak altyd paniekerig as ek gevra word vir watter ouderdom my boek spesifiek geskryf is. Lesers verskil. Ek lees nog steeds kinder– en jeugverhale. Ek het snaakse goed gelees toe ek tien jaar oud was. Madam & Eve het my eie dogter leer lees, en toe Jeremy Clarkson. Stories het eers later gekom! Dit is erg dat almal “moet lees” en dan word sekere boeke in hul hand gestop. Laat die kind toe om self te ontdek waarvan hulle hou, en kyk wat gebeur! Maar as ouers en onderwysers nie self lees nie, en nie deur hul gedrag wys dat lees so belangrike ding is dat daar tyd daarvoor gemaak moet word nie, sal dit nie sommer ’n aantreklike opsie vir hulle wees nie. My ideale leser is die een wat my boeke vind en sê: "Ah! Dis lekker."
Oor die skryfproses: Het jy Elf dae op ’n eiland vooraf beplan en dit toe neergeskryf, of het die storie ontvou soos wat jy dit geskryf het?
Soortvan. Stories spring gewoonlik in my kop terwyl ek besig is met iets anders. Gewoonlik is daar iets wat dit sneller: ’n standbeeld, in die geval van Parys, of ’n prentjie op ’n advertensie bord (in Eiland – ek beskryf daardie gevoel min of meer in die toneel waar Danika in ’n ry staan by doeane op die lughawe en ’n advertensie sien vir ’n luukse vakansie oord). Dan gaan stap ek gewoonlik ’n lang ent met my hond, gryp ’n notaboek as ek terugkom en skryf bladsye vol onleesbare notas waarna ek nooit weer kyk nie, en dan begin ek skryf. Van daar af dra ek maar net die storie oor van ’n plek iewers in my onbewuste, waar dit sekerlik vir jare reeds lê en broei.
Wat dink jy laat kinders en jongmense wat op sosiale media soos YouTube boer, nog graag boeke lees?
Daar is baie pret en inligting op You Tube en ander webaanbiedings, maar outeurskap ontbreek. Dis ’n heel ander ervaring om ’n boek te lees. Ek glo dat al die moeite wat daarin gaan om ’n hele wêreld tussen twee buiteblaaie te skep wel tot iets spesiaal lei – ’n verpakte ervaring. Sosiale media is los fragmente – pret, natuurlik, en onmiddellik herkenbaar. Dit verg minder konsentrasie en voeg op die ou einde miskien minder waarde by? Dus is dit belangrik dat stories van kleins af ’n spesiale plek kry. Dis ’n waardesisteem en ’n kultuurding en daarom verdien dit respekvolle aandag. Ek beklemtoon weereens die krag van voorbeeld: as kinders in ’n huis grootword vol televisieskerms, gaan hulle nie lees nie. As die boekrak ’n trotse meubelstuk is, volgeprop, gelief en gereeld besoek, sal hulle lees. En hulle kinders ook, eendag. Dis belangrik want in boeke bereik ons die lewens van ander mense met baie meer diepte as om hulle op Instagram te volg. Dis nou nie te sê dat sosiale media en die internet nie ’n plek het nie. Maar hoekom net een ding doen?
Wat lees jy graag? Of onlangse lekker boeke vir jou?
Ek lees baie niefiksie – wetenskap en tegnologie. Ek lees graag boeke saamgestel deur wetenskapskrywers soos John Brockman en ek lees ook tydskrifte op die internet. Dan het ek ’n goeie skoot fiksie nodig as vermaak en ek is geneig om ’n paar boeke gelyk te lees. Die beste is wanneer jy iets kry wat jou heeltemal vasgryp en jy vergeet skoon van alles anders waarmee jy besig is. So ’n onlangse lekkerleeservaring was byvoorbeeld A gentleman in Moscow deur Amor Towles. Ek het dadelik al sy ander boeke verorber en kan nie wag dat hy weer met iets vorendag kom nie. Ek is geneig om in sulke “binges” van ’n spesifieke skrywer se werk te verval. Lekker.
’n Karakter soos Tin Tin is vanjaar negentig jaar oud. Wat dink jy oor die tydloosheid, al dan nie, van kinderboekkarakters: soos Pippie Langkous of Heidi, ensovoorts? Wanneer deurstaan ’n kinderboekkarakter die toets van tyd, of watter kinderboekkarakters bly jou by, of het jou kind se verbeelding aangegryp?
Tin Tin, Pippie Langkous, ja! En daar was ’n koddige Sweedse speurder met die naam van Agathon Sax (Nils–Olof Franzén) wat ek verslind het net wanneer ek kon. My dogter was ook mal oor hulle almal, dus tydloos. Alle karakters werk egter nie vir almal nie, en ek kon nooit vatplek kry aan sommige ander wat steeds heel gewild is nie. Winnie the Pooh, byvoorbeeld, was vir my ’n raaisel – heeltemal te vervelig – alhoewel ek mal was oor Eeyore. Wie ken nie sulke mense nie? En Alice in Wonderland! Haar karakters loop die wêreld vol, oral. Ek assosieer persoonlik met die ruspe op die paddastoel (die een wat die waterpyp gerook het). Dit kon ek gewees het, sowaar. Dit is sekerlik die ding: as ’n karakter dit regkry om herkenbare eienskappe vas te vang, dan bly hy/sy/dit van toepassing vêr verby die tyd toe die boek geskryf is. En jou kinderdae is daardie wonderlike tyd van eerste ervarings: die tyd wanneer jou gedagtewêreld begin vorm aanneem en indrukke blywend is. Daarom is dit ’n vreeslike belangrike en verantwoordelike taak om boeke vir kinders te skryf.