
Boekomslag: Queillerie
Titel: Eleksie op Erdvark
Skrywer: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie, 2025
Prys: R290.00
ISBN: 9780795803000
Epub ISBN: 9780795803017
Rudie van Rensburg is terug met sy volgende dosis klug en dit het niks met Hans van Kraaienburg en die ouetehuis te make nie. Daar is ’n nuwe held op die horison: Soois Swart, of Soois Pergasie, soos hy in sy vorige lewe bekend was.
Die voorblad is lekker bont en prettig en dan lees jy die agterblad:
Soois Swart se sukkelende koerantjie op Erdvark in die Knersvlakte berig sonder moderne tegnologie oor die naderende munisipale eleksie.
Vir die eerste keer in ’n dekade word die BA Minus deur twee ander partye teengestaan.
Die regerende party beywer hulle vir die behoud van kleinhuisies en die opposisie vra vir vernuwing in die vorm van spoeltoilette.
Wanneer ’n horingadder in ’n kleinhuisie ’n inwoner op ’n kwesbare plek pik, klap die eerste eleksieskoot amptelik.
Ek is ’n groot aanhanger van Rudie se werk. Die skrywer se jare as joernalis en kopieskrywer het sy skryfwerk ’n heerlike diepte en ritme gegee wat jou nie sy boeke kan laat neersit nie. Sy sin vir humor is vlymskerp en hy steek ook nie subtiel die draak met die wit olifante van die lewe nie.
Soois is ’n komieklike karakter wat die dorpsnuus met sy Instamatic en notaboek dokumenteer en dan sy koerantjie “spoeg-en-plak” en afrol. Dis asof hy en die dorp en die koerant in die middel van die vorige eeu vasgehaak het.
En net as jy tog te lekker wil lag vir die beuselagtighede waarmee die raadslede, verkiesingskandidate en amptenare van die “misipaliteit” hul doenig hou, besef jy Suid-Afrika het aanstaande jaar munisipale verkiesings ...
Die belaglikhede waaroor kiesers kla en die hol beloftes van kandidate is dalk nie heeltemal so vergesog soos daar op Erdvark nie, maar dis soms meer in die kol as wat ons besef.
Ek het die storielyn geweldig geniet. Aanvanklik dink jy dis darem baie vergesog dat ’n klein dorpie nie selfoonsein of spoeltoilette het nie, maar soos jy lees, word dinge duideliker (of donkerder, afhangend van jou uitkyk op die half-vol-glas of half-leeg-glas van die lewe).
........
Ek het die storielyn geweldig geniet. Aanvanklik dink jy dis darem baie vergesog dat ’n klein dorpie nie selfoonsein of spoeltoilette het nie, maar soos jy lees, word dinge duideliker (of donkerder, afhangend van jou uitkyk op die half-vol-glas of half-leeg-glas van die lewe).
........
Rudie se beskrywings is só beskrywend mens kon net sowel self op die toneel gewees het: “[M]evrou-dominee, die tannevrou en dominee Gielie stap asof hulle elkeen ’n smeersel terpentyn aan die agterhoede gekry het”; “Duimpie lag oopmond. Sy stel muistandjies lyk soos ’n swak mielieoes”; “bejaardes wat met lang meerkatnekke bo-oor die muurtjie loer”; en “[h]aar ploegskare sak diep weg in haar teenstander se sagte borsvleis”.
Die ontginning van die mens se wil om te triomfeer én regeer word baie slim aangepak en mens voel later asof jy elkeen van die karakters in jou eie woonbuurt kan herken. Met skoonmense wat op ’n klein dorpie woon, val baie van die skinderstories van Erdvark ook nie heeltemal te vreemd op die oor nie. Karakters en byname en onheilighede lyk my universeel te wees, ongeag watter nommerplaat op jou motor se buffer pryk.
Soois is die dorp se bespotting en sy lewe val letterlik storie vir storie uitmekaar as die groot koerant op sy turf kom speel.
Daar is darem ’n paar klappe wat uitgedeel word in die regte rigting en Soois seëvier op maniere wat geen mens kon voorspel nie.
Die enigste krapperigheid wat ek in die boek teëgekom het, was die hope byname vir elke liewe karakter. Dit het effe geforseerd oorgekom en soms die storielyn oorskadu met die opstapeling van almal se noemname.
Maar as jy so lief is vir Rudie se kwinkslae soos duisende ander lesers, kan jy beslis nie hierdie boek misloop nie.
Glip een in elke Kerskous wat jy vanjaar moet vul. Dis lekker lag, na binne kyk en klein dorpie op sy beste.
Lees ook:
Kommunikasie binne aftreeoorde en boeke oor aftreeoordbewoners: ’n gesprek met Rudie van Rensburg

