Elders gesien: Jean-Pierre Melville se Le cercle rouge

  • 0

Naòmi Morgan skryf op Facebook:

Dit is altyd ekstra-lekker vir my by Braam Muller se filmklub wanneer daar ’n Franse film wys, maar as ek gedink het ek gaan baie Frans hoor in Jean-Pierre Melville se Le cercle rouge, was die verrassing dat dit byna ’n stilfilm was – ’n “noir” waarin daar die minimum gepraat word. En dit, tesame met ’n paar ander elemente wat daarvan ’n kultusfilm maak, is waarskynlik verantwoordelik vir ’n les in klassieke montage. Daar is byna niks wat jou aandag aftrek van die manier waarop die tonele aanmekaarskakel nie – min dialoog, net die nodigste musiek, en die idee dat jy na ’n diefstal kyk, maar dat dit oor iets anders gaan.

Ek was nog altyd gefassineer deur die Franse Weerstandsbeweging, en veral deur Jean Moulin, wie se museumhuis ek in Béziers besoek het. Jean-Pierre Melville, die regisseur, is ’n interessante kombinasie van ’n voormalige lid van die beweging (wat subtiel in die film herdenk word) en ’n aanhanger van die Amerikaanse skrywer Herman Melville, wie se naam hy aangeneem het. (Hy het sy bewondering vir Amerikaners ook op sy kop gedra in die vorm van ’n Stetson).

Daar is al baie films in alle tale gemaak oor hoe moeilik dit was vir soldate en lede van intelligensiedienste (en die Weerstandsbeweging) om na die Tweede Wêreldoorlog weer aan te pas by ’n “normale” samelewing. Daar is iets hiervan in Le cercle rouge (The red circle) wat ons verlede Saterdag by Braam Muller se fliekklub gesien het: die beige reënjasse en fedora-hoede, maar veral die lojaliteit tussen die drie lede van die sending om een van die bekendste juweliers op die Place Vendôme in Parys van hul voorraad diamante te stroop. Daar is baie geskryf oor die apokriewe aanhaling van die Boeddha (dat mense wat veronderstel is om mekaar se paaie te kruis uiteindelik die rooi sirkel sal betree waar die afrekening sal plaasvind; die kyker kan ’n insiggewende lys maak van alles wat rooi en sirkelvormig is in die film, van die rooi krytsirkel wat Corey op die punt van sy biljartstok trek, die rooi blom wat in Santi se nagklub uitgedeel word, rooi koeëlgate ...), die toevallighede in die intrige (die manier waarop die brein agter die diefstal, Corey (Alain Delon), en Vogel (Gian Maria Volonte) ontmoet en binne minute ’n vertrouensverhouding opbou, en hoedat ’n perfek uitgevoerde en gechoreografeerde diefstal (daar word soos balletdansers oor strale getree, die alkoholis Jansen (Yves Montand) is in staat om so sober te word vir hierdie grootse onderneming dat hy ’n perfekte skoot kan skiet op ’n teiken so groot soos ’n koeël) nutteloos blyk te wees wanneer hulle in ’n lokval gelei word.

Daar is ook ander redes waarom ’n mens hierdie klassieke “noir” nie moet misloop nie: jou simpatie (myne ...) lê volledig by die diewe, juis omdat hulle in daardie musketier-leuse van een vir almal en almal vir een glo, anders as die glibberige polisiehoof Mattei, wat afpersing en enige ander metodes sal gebruik om nog ’n saak te beklink. Die driemanskap van diewe is soos lede van die Weerstandsbeweging wat weier om hul kamerade te verraai, al kos dit hul dood.

’n Mens kry ook die idee dat dit nie (net) oor die geld gaan nie. Jansen wil byvoorbeeld glad nie sy deel van die geld hê nie – vir hom was dit ’n saak van eer, om wraak te neem op ’n korrupte polisiemag wat hom swak behandel het in die verlede. Hy het sy waardigheid terug, hy is ‘droog’, sy oog is weer ingestel, hy was die sleutelspeler in ’n perfekte diefstal, dit is genoeg vir hom. Daardeur bewys hy ook, anders as wat die Franse polisiehoof dink, dat alle mense nie skuldig is totdat die teendeel bewys word nie.

Ek het ook baie binnepret gehad met die verwysings na Mattei (Bourvil) se on-Korsikaanse gelaatstrekke (Korsikane het nie juis blonde hare en blou oë nie, wat die Korsikaanse Mattei verdag maak onder sy kollegas, wat jaloers is op sy sukses, en agter sy rug ’n ondersoek loods om uit te vind hoe hy dit doen – hulle sou in die oorlog aan die kant van die kollaborateurs gewees het, nie die Weerstandsbeweging nie).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top