Elders gesien: Stop ontgroening!

  • 0

Jaco Jacobs skryf op Facebook:

Ek weet ek spreek my dié tyd van die jaar tot vervelens toe hieroor uit, maar hier kom dit weer: Skole en ander opvoedkundige instansies wat deesdae nog die soort ontgroening/oriëntering/insouting toelaat waar kinders/studente gevloek en verskree word, nagte lank uit die slaap gehou, verneder, verkleineer of fisiek mishandel word, behoort in die openbaar voor stok gekry te word. En ’n skoolhoof, koshuishoof, onderwyser of ander verantwoordelike volwassene wat anderpad kyk terwyl dié kamstige “tradisies” gehandhaaf word, behoort myns insiens dissiplinêr en in sommige gevalle selfs krimineel aangekla te word. Want hulle behoort van beter te weet. En glo my, hulle weet maar alte goed watter soort dinge daar plaasvind.

Ek sien darem in die media en op sosiale media daar is skole wat wonderlike dinge doen om graadagts welkom te laat voel, soos baadjieseremonies en voetewasseremonies. Maar ek hoor elke jaar ook nare stories wat my woedend maak.

Hoekom word dit nog toegelaat? As jou kind se menseregte aangetas word, moenie stilbly nie. Verkla die skuldiges by die onderwysdepartement, by die polisie, by die media. Ek weet van ’n hele paar ouers wat hul kinders maar stilweg vir terapie gevat het, eerder as om ’n bohaai op te skop en dalk geviktimiseer te word – en sodoende baan jy maar die weg vir die volgende sarsie slagoffers wat gaan deurloop.

Lees ook:

Ontgroening in skole: ’n ondersoek na gewilde diskoerse

Reguit met Robinson: Waarom ontgroening?

Trompoppie, pret wat alte na aan die ontgroeningswaarheid is

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top