Elders gesien: Linda Rode, ’n vrou wat nooit haar eie basuin geblaas het nie

  • 0

Linda Rode (Foto: Izak de Vries)

Kerneels Breytenbach skryf op Facebook:
 
“Dis met groot hartseer dat ek verneem het van die afsterwe van Linda Rode. ’n Vrou wat nooit haar eie basuin geblaas het nie, maar wat sedert die jare tagtig ’n vormende invloed gehad het op soveel dinge wat in die Afrikaanse kultuur gebeur het.
 
Sy was die een wat my op ’n dag gebel het, toe ek nog Die Burger se boekeredakteur was, om my aan te moedig om meer aandag aan kinder- en jeugboeke te gee. As kinders nie op vroeë stadium die groot wonder van die verbeeldingswêreld betree via boeke nie, sal hulle dit ook nie as volwassenes kan of wil doen nie.
 
Van daardie oomblik af was ek altyd bewus van haar werk - as vertaler van kinder- en jeugboeke vir Human & Rousseau, Tafelberg en Kwela, en klankbord vir uitgewers, as vormende gees vir skrywers. Titels soos Raai hoe lief is ek vir jou, Mamma het ’n eier gelê, Moet nooit vir ’n beer lag nie, Fabels van Esopus, Goue lint, my storie begint, en Stories suid van die son. Onder baie meer.
 
Linda Rode se naam was die stempel van gehalte en goeie oordeel. Male sonder tal het sy gedien op beoordelaarspanele van literêre pryse en mens oortuig met haar ewewigtige siening en groot begrip vir die dinge waarmee skrywers besig is. Baie van my uitgewerkollegas sal kan getuig van daardie oproep wat mens skielik in moeilike tye kry, van Linda wat raad gee en jou moed inpraat.
 
Dit was ’n voorreg om haar te geken het; dis met groot dankbaarheid wat ek aan haar en haar vriendskap terugdink. My gedagtes is by haar man, Erwin, en hul seun Konrad en dogter Frauke.”

Lees ook:

Finding the writer where the stories begin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top