
Agtergrondfoto: Kiril Dobrev | Pixabay
Carina Stander skryf of Facebook:
Jy weet nooit wanneer dit gaan gebeur nie, maar soms duik daar vanuit die niet ’n tema op wat binne enkele dae herhaal en herhaal. Die laaste twee dae het ek uit verskillende windrigtings dieselfde storie gehoor van vriendinne wat vir my vertel hoe hulle verlang en hoe hard die lewe in die verre vreemde soms is. Die een woon nou 15 jaar in Amerika, die ander woon ’n paar jaar in Engeland, nog een woon ’n paar maande in Australië en die laaste een het na dekades in Ierland sak en pak met haar gesin teruggetrek hierheen.
Ek het geen veroordeling in my hart vir enige iemand wat die land verlaat nie – na ons gewelddadige inbraak in Kaapstad in 2005 wou ons emigreer. ’n Mens hoef maar een keer jou geliefde se bloed op te mop waar hulle hom vir dood agtergelaat het, een oproep te ontvang van die inbrekers wat dreig om terug te kom en jou te verkrag, dan verloor hierdie wonderskone land haar skoonheid vir jou. Ek verstaan.
Ek verstaan ook ’n mens kan amper enige plek op aarde gelukkig wees, jy kan aanpas en jou eie sonskyn maak. Maar, nadat ons deur 30 lande gereis het, is Suid-Afrika werklik ons tuisste tuiste, die mense is ons mense en die landskap het ons lief.
Ons het in 2008 besluit om Suid-Afrika ’n laaste kans te gee voor ons emigreer, deur na ’n veiliger streek te semigreer. Hier in die Tuinroete kon ons ’n mooi lewe vir ons gesin skrop. Almal kan dit egter nie doen nie, sommige beroepsgeleenthede is net oorsee. En tog is dit interessant om te sien hoeveel anderlandse burgers kies Suid-Afrika: Ons laerskoolkind se graad van sowat 50 kinders het ouers uit Pole, Moldowa, Ierland en Rusland. Een kind het ’n Portugese pa en ’n ma van Bosnië. Daar was laasjaar ’n kind met ’n Turkse oupa, ’n ander met ’n Franse ma en een met twee Duitse ouers in die klas. Dan is daar ook ’n goeie klompie Afrikaanse ouers. 😉 ’n Heerlike vrugteslaai van kulture in een jaargroep.
Al hierdie ouers is ons ouderdom, iewers tussen 40 en 55, die meeste is getroud met Suid-Afrikaners, maar hulle paspoorte stel hulle steeds in staat om in ’n klomp lande te kan woon – waarom kies hulle Suid-Afrika? Die leefstyl. Die wonderlike weer. Die vryheid en potensiaal vir nuwe besighede. Die natuurskoon. Die idee dat kinders hier nog kind kan wees. Dis wat hulle antwoord.
Om in jou geboorteland te bly, is ’n offer, of om jou geboorteland te groet is ’n offer. Laat ons genade hê met mekaar se offers.
Elke keer as ek na Natalie Merchant se “Motherland” luister, krimp my hart ineen vir my verlangende vriende van ver en sommer ook vir my buitelandse vriende hier naby. Mens sterf jou herkoms nooit af nie, jou grootwordland volg jou waar jy ook al is. Luister hoe lieflik sing sy:
Where in hell can you go
Far from the things that you know
Far from the sprawl of concrete
That keeps crawling its way
About one thousand miles a day?
Take one last look behind
Commit this to memory and mind
Don't miss this wasteland
This terrible place, when you leave
Keep your heart off your sleeve
Motherland, cradle me
Close my eyes
Lullaby me to sleep
Keep me safe
Lie with me
Stay beside me
Don’t go
Don’t you go

