Elders gesien: Johann Symington se oop deur

  • 0

Johannn en sy vrou Hennie op die lughawe het toe hulle van Japan geruggekeer het na Suid-Afrika.

Jean Oosthuizen skryf op Facebook:

Dinsdagoggend het ek die nuus gekry waarvoor ’n mens nooit regtig gereed is nie: Johann Symington is dood.

Op die foto neem ons in 2011 van hom afskeid by Neethlingshof toe hy weg is by Kerkbode.

Adri-Louise van Renen-Fourie, wat Johann opgevolg het as redakteur van Kerkbode, Marie Lambrecht wat vir baie jare lank Kerkbode se redaksiesekretaresse was, Jean Oosthuizen voormalige nuusredakteur van Kerkbode en Johann Symington tydens sy afskeidspreek by die NG gemeente Welgemoed.

Vir ander was hy dalk ’n predikant, ’n voormalige redakteur van Kerkbode, ’n kerkmens of ’n bekende naam in die NG Kerk. Vir my was hy iets meer persoonlik: hy was die redakteur wat my laat veilig voel het.

En vir ’n joernalis is dit ’n besondere geskenk.

Johann was my redakteur by Kerkbode nadat Frits Gaum vertrek het. Ons het mekaar gou gevind. Ek kon tydig en ontydig by sy kantoor inbars, en dit het ek nogal gereeld gedoen. Sy deur was oop – nie net letterlik nie, maar ook figuurlik.

Daar het ons ure lank oor koerant- en kerksake gepraat, maar oor baie meer as dit. Ons het oor die lewe gepraat, oor geloof, twyfel, God en die dinge waarvoor ’n mens soms nie maklike antwoorde kry nie.

Johann het my dikwels verras met sy oop kop en sy vermoë om buite die grense van gevestigde denke te kyk. Hy het my bekendgestel aan skrywers soos Brian McLaren en later John Spong. Vir my was dit belangrike ontmoetings wat my denke oor geloof in ’n heel ander rigting gestuur het.

Maar dit was nie net sy idees wat ’n indruk op my gemaak het nie. Dit was veral die manier waarop hy met mense gewerk het.

Johann was sagmoedig, maar hy was nie ’n sagte teiken nie.

Hy het ’n rustige geaardheid gehad, maar wanneer dit nodig was, het hy opgestaan vir dit waarin hy geglo het. Hy het hom nie maklik deur kerklike gesag of groot name laat voorskryf nie.

Ek het dit self meer as een keer ervaar.

As redakteur moes hy dikwels die gramskap verduur van predikante, kerkleiers en lidmate wat nie van een of ander berig van my gehou het nie. Ek het nogal ’n talent gehad om mense soms kwaad te maak – en Johann het nogal ’n talent gehad om my daarteen te beskerm.

Hy sou my laat weet wanneer hy gedink het ek was verkeerd. Maar as my berig feitelik korrek was, het hy daarby gestaan so vas soos sement.

Een voorval sal ek nooit vergeet nie maar daar was ook baie ander.

Ek moes ’n berig oor die twis rondom die Belydenis van Belhar skryf. Ek het die destydse moderator, Coenie Burger, om kommentaar gevra. Hy het nie geantwoord op my navraag nie. Toe ek hom kort voor spertyd weer per e-pos kontak, het hy my persoonlik gebel en gesê ek moet liewer nie die berig skryf nie omdat dit “nie in die kerk se belang” was nie.

Ek het geweier.

Daar was verskillende standpunte in die kerk en dit was my werk om daaroor verslag te doen. Coenie het daarop gevra dat ek hom na die redakteur moet deurskakel.

Ek het geweet wat gaan kom.

Maar Johann het ná die gesprek vir my gesê Coenie was ongemaklik met die berig. Sy antwoord aan hom was egter eenvoudig: Jean is die nuusredakteur. As hy dink dit is nuuswaardig sal ek daarna kyk en dan besluit.

Die berig het verskyn sonder enige veranderings.

Sulke dinge vergeet ’n mens nie.

Kort voordat Johann Kerkbode finaal verlaat het, was daar nog ’n soortgelyke voorval. Braam Hanekom was woedend oor een van my berigte en het my verkla. ’n Vergadering is gereël om die saak uit te klaar en Ben du Toit moes as bemiddelaar optree.

Ons het die berig sin vir sin deurgegaan.

Ek het gedink Johann sou soos altyd kalm bly.

Maar daardie dag het ek hom vir die eerste keer behoorlik kwaad gesien.

Nadat ons die hele berig deurgegaan het, kon niemand ’n enkele feitefout uitwys nie. Die probleem was volgens Hanekom blykbaar my styl en invalshoek en nie oor die feite nie. Johann het toe reeds uit frustrasie as redakteur van Kerkbode bedank maar het nog waargeneem as redakteur.

Johann het toe iets gesê wat ek tot vandag toe onthou. Hy het vir Braam gesê dat hy een fout as redakteur gemaak het tydens sy termyn as redakteur. Dit was dat hy nie vroeër meer openlik vir my opgestaan het as kerkleiers my aanval nie.

Ek dink nie hy het ooit besef wat daardie woorde vir my beteken het nie.

Want Johann het my nie net teen ander mense beskerm nie. Hy het my die vrymoedigheid gegee om my werk te doen. Dit is een van die grootste dinge wat ’n redakteur aan ’n joernalis kan gee.

Maar my herinneringe aan Johann gaan oor veel meer as Kerkbode en hoe hy my ma se pannekoek op reëndae geniet het, wat sy saam werk toe gestuur het.

Johann Symington saam vriende van Kletskerk by die KKNK van links na regs agter Leon Coetzee, Jean Oosthuizen en Hennie Pienaar.

Ek onthou hom by ’n Kletskerk-byeenkoms tydens die KKNK in Oudtshoorn, waar ek hom aan mense voorgestel het wat hulself as ongelowiges beskou het. Johann het hulle nie probeer bekeer nie. Hy het hulle eenvoudig as mense ontmoet waardeer, aanvaar en respekteer. Dit was ook hy wat my aangemoedig het om Kletskerk te begin en self die naam uitgedink het.

Met sy sagte, innemende manier het hy hulle laat besef dat ’n mens ’n gelowige kan wees sonder om ander mense met die Bybel oor die kop te slaan.

Dit was Johann se besondere gawe. Hy kon ruimte skep.

Ruimte vir verskil. Ruimte vir twyfel. Ruimte vir geloof én ongeloof. Ruimte vir mense om anders te dink sonder dat hulle mekaar hoef af te skryf.

Ek onthou ook ’n aand in Johannesburg se vervalle middestad in Hillbrow saam met MES. Ons was in ’n vuil krotwoonstel sonder water of elektrisiteit. Daar was ’n pasgebore baba in een van die woonstelle.

Johann het die baba opgetel en teen hom vasgedruk.

Ek het hom dopgehou.

In daardie oomblik was daar geen groot teologiese argument nie. Geen kerklike standpunt nie. Geen redakteur en geen joernalis nie. Net ’n mens wat ’n ander mensie vasgehou het.

Dalk is dit die Johann wat ek die graagste sal onthou.

Die man met die oop deur.

Die man wat kon luister.

Die man wat jou anders kon laat dink sonder om jou te probeer verander.

Die man wat, wanneer dit nodig was, vir ’n joernalis kon sê: “Skryf dit. Ek staan agter jou.”

Ek het deur die jare baie redakteurs gehad. Sommige het my werk verander. Sommige het my werk verbeter. Sommige het my werk moeiliker gemaak.

Johann het iets anders gedoen.

Hy het my laat voel ek kan wees wie ek is.

Daarom voel sy dood vir my persoonlik.

Ek het nie net ’n voormalige redakteur verloor nie. Ek het iemand verloor wat ’n groter invloed op my denke en my lewe gehad het as wat hy waarskynlik ooit besef het.

Dit is vreemd hoe ’n mens eers wanneer iemand weg is, besef hoeveel plek hulle in jou lewe ingeneem het.

Johann se deur is nou vir altyd toe. Maar die deur wat hy in my denke oopgemaak het, sal nie weer toegaan nie.

Rus sag, Johann.

Dankie vir die vertroue.

Dankie vir die ruimte.

Dankie vir jou vriendskap.

En bowenal: dankie dat jy my, op ’n belangrike stadium van my lewe, laat veilig voel het.

Ek sal dit nooit vergeet nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top