
Christo van der Rheede en Ernest Messina saam met Franklin Sonn tydens die bekendstelling van sy boek, Karooseun van Vosburg, wat verlede jaar gepubliseer is.
Christo van der Rhede het hierdie huldeblyk aanvanklik op Facebook geplaas. Toe LitNet hom nader, het hy die onderstaande, effens aangepaste, weergawe gelewer.
Ons het Franklin Sonn baie goed geken. Reeds tydens my studentejare aan die Onderwyskollege Bellville, langs Pentech waar Sonn die visie-kanselier was, het ons hom leer ken as ’n gewilde, innemende, toegewyde en beginselvaste leier wat sy gemeenskap en die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap met passie en visie gedien het.
As oudonderwyser, prinsipaal en later visie-kanselier van Pentech en leier van die KPO-onderwysvakbond het hy ’n enorme rol gespeel om kwaliteitonderwys in Suid-Afrika te bevorder, ook om onderwysers te inspireer en bemagtig om net die beste aan elke leerder, ongeag die omstandighede waarin hulle hulself bevind, te bied. Daarvoor sal ons hom altyd eer. Gehalte-onderwys lê immers die grondslag vir die toekoms van die land.
As student onthou ek die pragtige Pentech kampus met sy mooi tuine en veral die gehalte van die hoër onderwys wat elke departement aan Pentech aan studente gebied het.
Later jare was hy ook die President van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) waar ek as uitvoerende hoof aangestel is. Goed onthou ek sy advies aan my om die AHi se sakekamers in dorpe uit te bou en om die rol van sakekamers as die ekonomiese enjinkamers op plaaslike vlak te laat groei en te versterk.
Sonn was ook ’n entoesiastiese ondersteuner van die KKNK en beskermheer. Ek onthou met groot genoegdoening ons gesellige ontmoetings tydens die KKNK en veral sy deelname aan gesprekke en toesprake deur hom gelewer. Sy seun Crispin Sonn was ook vir jare die voorsitter van die KKNK en het ook ’n enorme rol gespeel om die KKNK verder uit te bou. Ons eer die familie vir hul bydrae aan die KKNK.
Franklin Sonn is ook as ambassadeur deur oud-president Mandela in Washington aangestel. Hierdie taak het hy met entoesiasme en professionaliteit vervul en seker gemaak dat Suid-Afrika se belange in die VSA bevorder word.
Sonn sal veral vir sy sin vir reg en geregtigheid onthou word en sy betrokkenheid in die bevryding van Suid-Afrika. Hy het nie geskroom om standpunt in te neem en sy opinie uit te spreek nie. Tot aan die einde van sy lewensloop het hy ook die huidige stand van Suid-Afrika onder die vergrootglas geplaas en het hy nie doekies omgedraai om korrupsie, armoede, werkloosheid en al die ander uitdagings wat ons as land ervaar, op die naam te noem nie.
Ongeag dit, het hy lojaal aan die land en ons grondwetlike demokrasie en die waardes daarin ingebed, onder andere menswaardigheid, gelykheid, menseregte, nierassigheid, verantwoordbaarheid, responsiwiteit, gebly. Daarvoor sal ons hom altyd onthou.
Ons diepste medelye aan sy gade, kinders, kleinkinders en breër familie.
Ons eer jou, dr Sonn. Jou nagedagtenis sal ons altyd bybly. Rus sag.
Christo van der Rheede
Voorsitter van die KKNK raad
Uitvoerende Hoof van die FW de Klerk Stigting

