Elders gesien: Hout is nie ’n goedkoop speelmaat nie

  • 0

Die materiële wêreld van gebruiksgoed en mooi dinge waartussen ons daagliks beweeg begin in ’n fabriek of ’n magasyn in ’n onaanskoulike industriële gebied. Hulle is soos stadsvlinders wat geen teken wys van hul agtertangse begin nie. “Where do you go to, my lovely,” sing Peter Sarstedt, “when you’re alone in your bed?” Het hy dit, soos party bespiegel, oor Sophia Loren met die wêreld aan haar voete en die hondarm agterstrate van Napels in haar geheue?

Op die foto’s begin ’n tafel in ’n magasyn in Knysna. Die planke van ashout het ek saam met die klein outjie uitgesoek – so dik, so breed, so lank. Uitgewerk hoeveel van wat maak ’n tafelblad van suffel by suffel. Nie twee planke kom in dieselfde mate uit die saagmeule nie. Jy moet pas en meet om die minste te vermors, die afvalstukke vir iets anders te gebruik.

Die ouer man teken die plankmates op. Daarmee word die algehele volume van my aankoop in vierkante meter bereken, en daarvandaan die prys: soveel-en-twintig- of dertig- of veertigduisend rand per meter kwadraat.

Die eerste hantering van die hout is soos om jou vingers vir die eerste keer in ’n nuwe tuin se grond te druk. Dit is ’n kennismaking, ’n taksering. Só is jy dan nou dus, nè? Dit is ook ’n heilsame saligheid. So gesond as wat die aanraking van grond vir jou is, so welbehaaglik is die handdruk van hout. As jy soos ek lank laas met ’n plank gewerk het, is dit soos ’n dwelm, soos jou eerste trek aan ’n sigaret ná maande.

Maar hout is nie ’n goedkoop speelmaat nie. Sy deugde lê nie aan die oppervlak nie, en dikwels ook nie sy tekortkominge nie. Jy moet mooi kyk hoe die vlamme onder die riffels van die saagwerk lê, hoe hulle onder jou behandeling hul skoonheid algaande, suinig-suinig, en uiteindelik met oorgawe aan jou gaan oopdek.

Net so moet jy vroegtydig kyk vir versteekte barste, en te veel dwars kwaswerk wat nie sonder ure se skuurwerk glad sal word nie. Jy moet kyk waar die plank te vlak in die boomstam se ronding gesny is, anders sit jy met ronde in plaas van vierkanthoeke wat jy in die meubelstuk sal moet versteek.

Die meubelstuk beur so ver moontlik weg van sy uiterlike bestaan as boom. Hy wil die innerlike van die boom veruiterlik, die versteekte kleur en vlamme. ’n Nuwe bestaan word vir die hout verwesenlik, ’n lewe in ’n ander dimensie ná die afsterwe van die boom.

Lees ook:

The Talking Table gedek vir kos en boeke

Frederik de Jager: ’n Herd wat knetter met stories

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top