Hans du Plessis skryf elders op Facebook:
Hoe oud is Afrikaans?
Nee, ek weet nie. Niemand weet nie, want ’n taal het nie ’n geboortedatum soos ’n mens nie. ’n Mens vier jou verjaarsdag op die dag en datum waarop jy gebore is, maar die geskiedenis van die betrokke mens gaan veel verder terug as sy of haar geboortedatum. Hy of sy is onder andere deel van ’n hele familiegeskiedenis.
As Christo van Rensburg dan op bladsy 17 van sy boek Van Afrikaans gepraat sê dat die woord “bro-kwa” vir “brood” al in 1623 as Afrikaanse woord opgeteken is, beteken dit nie dat 1623 die geboortejaar van Afrikaans is nie. Dit dui boot daarop dat die geskiedenis van Afrikaans reeds vroeg in die sewentiende eeu begin.
Vra ’n mens hoe oud Nederlands is, sal die antwoord vaagweg verwys na die Germaanse volksverhuising rondom die jaar 500 ná Christus, wat Nederlands dus ongeveer 1600 jaar oud maak.
Daarom is dit belangrik dat die viering van amptelike Afrikaans in 2025 nie gesien moet word as die viering van die honderdste verjaarsdag van die taal nie, maar as die viering van die erkenning van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 1925.
Afrikaans is ver ouer as honderd jaar. Presies hoe oud, weet niemand nie. Wat ons wel weet, is dat die geskiedenis van Afrikaans terug gevoer kan word na die begin van die sewentiende eeu en dat Europese koloniste, die Khoi en die slawe van vroeg af deel was van die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans en daarom kan Afrikaans in 2025 gevier word deur almal wat die taal praat.
Kommentaar
'n Nugtere perspektief in 'n wêreld waar elke ander "kontent kriejaytuhr" ook sommer double as 'n taalkundeprofessor. Dankie prof Hans. Mens wens die mensdom wil vir eens hulle kleinlikheid bietjie agter laat en hierdie inisiatief begin steun. Die inisiatief ontken nie die verkeerde dinge van die verlede nie. Inteendeel.
Ek stem saam, Hans Du Plessis, oor die viering van die 1925-amptelike erkenning van Afrikaans, as gebruikstaal gelyk aan Nederlands in SA.
Die eerste taalmonument in Burgersdorp is vergete, maar behoort gesien te word as aanduiding van sosiale erkenning van Afrikaans as SA Hoog-Hollands.
Om 'n 'Afrikaans 100 jaar' logo te ontwerp en te bemark dra vir my nie die nuanse oor wat hier uiteengesit word nie. Uit alle dinge wat in en oor Afrikaans gevier kan word, soos dat dit deur die mees diverse groep Suid Afrikaners van alle inheemse tale gepraat word, is die offisiële/nasionalistiese assosiasies die laaste ding wat Afrikaans in 2025 nodig het. Ek wonder hoeveel jong sprekers van Afrikaans met die taal se nasionale status resoneer.
As dit gevier moet word, kan dit dalk eerder as 100+ gevier word?