Elders gesien: Hoekom skryf ouers hul kinders se take?

  • 2

Carien Smith skryf op Facebook:

Hier is die ding: vir baie jare op skool was ek nie ’n baie goeie leerder nie, akademies heel onder in meeste klasse.

Een van die redes was dat ek geweier het dat enige iemand my help met take en mondelinge en wat ook al anders. Want ek sal eerder ’n ding pluk as om te weet dat dit nie my eie werk is nie.

Mondelinge en redenaars en sulke dinge is ’n helse geleentheid vir ’n kind om te leer hoe om ’n ding te skryf: hoe om argumente te bou, hoe om bronne self te vind, hoe om daardie bronne te laat sin maak, ens. Hierdie vaardighede word nou soveel belangriker. Mense weet nie meer hoe om ’n onderskeid te tref tussen goeie en slegte bronne nie. Om jou eie take en mondelinge en dinge te skryf is een van die heel, heel beste maniere om jy dit te kan leer.

Hoekom skryf soveel ouers hulle kinders se goed of koop dit vir hulle kinders? Wanneer hulle universiteit toe gaan, mag hulle dalk wéér die makliker opsies soek omdat hulle hierdie uiters waardevolle vaardighede nie reeds geleer het nie.

Een van die waardevolste dinge wat ’n kind nou kan leer is hoe om te lees, ’n argument te bou, bronne te vind (wat insluit om die onderskeid tussen goeie en slegte bronne te kan tref), en te sukkel en te sukkel totdat jy beter word daarmee en trots kan wees op jou werk. Daar is soveel waarde daarin om na iets te kyk en te weet dit was jou eie werk.

Dalk sal die kind nou die “swakste” in die klas wees omdat hulle hul eie werk doen en nie kan kompeteer met ander kinders se werk wat deur Mammas en Pappas en Oumas gedoen is nie, maar eendag is eendag dat daardie kind harder as ander gaan werk en dalk baie meer sal kan bereik.

’n Mens moet trots wees op jou mislukkings, want dit is hoe jy leer en beter word. Ek weet nie of kinders dit meer leer nie.

Tatta! Ek moet my tesis klaarmaak en ek gaan niks verder hieroor sê nie. En sorrie (nie sorrie nie!) as ek op iemand se tone trap!

Lees ook:

Bot deur Carien Smith: ’n resensie

Bot deur Carien Smith: ’n lesersindruk

Persverklaring: Wenners van die 2023-UJ-debuutprys en die 2023-UJ-prys

  • 2

Kommentaar

  • Onderwysers weet goed wie se mammas doen of koop hulle take, maar durf jy daai kind druip oor jy weet? Nee, ons selfvoldane ouers sal dit nie aanvaar nie. So Kosie wat sy eie taak gedoen het, kry 60%. Kosie se selfbeeld is in die grond, want dit word nêrens hardop gesê dat hy die enigste sucker was wat sy taak self gedoen het nie. Hy dink sy kollegas is geniaal. Hy maak hom gereed vir 'n hospitaalplan alleenlik as hy eendag aan mediese fonds moet dink.

    Nog 'n groot probleem is ons kurrikulum is asseseringsgedrewe en nie leer- en vasleggingsgedrewe nie. Of Kosie nou sy taak doen of nie, dit maak nie saak nie, want kinders het nie genoeg tyd om in hul vakke te leer en kennis vas te lê nie. Die enigste fokus is die toets of eksamen. En as jy kyk na die puntgewigte, tel 'n kwartaal baie keer 25% en die toetsreeks of eksamen tel 75%. Einde van die jaar is dit dieselfde storie: Die jaar se werk word gereduseer na 25% en die eindeksamen tel 75. So die mammas reken: Don't sweat the small stuff. Toemaar my kind. Ek sal jou sterrestelsel vir jou bou. Jou maan sal om die aarde roteer met my kennis van ingenieurswese. Wie gaan dan hul kop breek oor of Kosie sy taak gedoen het of nie? Hy moet die bleddie eksamen net goed deurkom, want dit bedek al die sondes van die kwartaal/jaar.

    Om julle te beantwoord, die sisteem is korrup. Nie die onnies nie. Wat my kollegas in die laerskool nou doen is om die kids die take in die klas te laat doen. Maar dan belowe ek julle, die pap val op 'n ander plek op die grond: Hoeveel onderrigtyd en gevolglike vasleggingstyd is daar werklik tussen al die asseserings en al die baaaaaaaie vakke met hulle versteekte kurrikulums wat niks na skool beteken nie? Bra min!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top