Elders gesien: Eric Nobbs (1954–2022)

  • 1

Nobbs as dominee Frederick Blom in Moordenaars Karoo (Skermgreep, IMDB)

Dana Snyman skryf op Facebook:

Foto: Dana Snyman

Netnou kom die nuus: die akteur, Eric Nobbs, is oorlede. Ek kan my geensins ’n vriend van hom noem nie. Het soms kortliks hier op Facebook met hom gesels.

Het Eric jare gelede een middag by oorlede Nardus Nel, my liewe fotograafvriend, se huis in Florida aan die Wes-Rand ontmoet. Dié twee het gereeld saam vleis gebraai – op een van Nardus se vier braaiers.

Daardie middag het ons ontdek ons deel ’n held: die grys adelaar, ’n karakter in CJ Groenewald se boek, Die grys adelaar, wat in 1944 verskyn het.

Beide van ons het die boek op skool gelees. Die Adelaar was ’n soort Boere-Superman, wat uiteraard kon vlieg. Het sulke skoene gehad, sagte leerskoene wat tot by die knieë gereik het. In die hakke was vere wat jou hoog die lug in geskiet het. Hoe het ek nie as kind so ’n paar skoene begeer nie. Ook ’n paar vlerke soos Die Adelaar s’n. Eric ook.

Ek sien nog hoe Eric die middag daar op Nardus se grasperk in Die Adelaar verander, goeie akteur wat hy was. Hoe hy effens vooroor leun en sy arms stadig soos vlerke op en af langs sy lyf begin beweeg, hoe hy sy knieë hoog lig en opstyg, verby die denneboom in Nardus se tuin waar altyd hadidas gebroei het, al hoër die Wes-Randse lug in.

’n Paar jaar later het ek Eric weer een aand op ’n doe raageloop. Toe ek sê “grys adelaar”, kry Eric weer vlerke en styg laggend op die lug in.

Het pas my kopie van Die grys adelaar, wat ek laterjare iewers gekoop het, van die rak gehaal. Lyk of die ou boek in rou is.

Sterkte aan Eric se vrou en familie en nabymense. Ek dink aan julle. Ek kan net mooi dinge oor hom sê. Hy was ’n liewe man.

Vlieg, Eric. Vlieg nou hoog en vry.

Foto: Anita | Pixabay

Lees ook:

Dana Snyman (1963–)

  • 1

Kommentaar

  • Anthony "Speedo" Wilson

    Innige meegevoel met Eric se familie! Mag hy in vrede rus en in glorie ontwaak. Het hom ook as kollega en akteur op verskeie produksies - teater- en televisieproduksiestelle leer geken. Hy was altyd professioneel en die vriendelikheid self! Mag Hy met u wees tot ons weer ontmoet!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top