............
Ek bly net hier, met al die probleme en moeilikheid en misdaad en frustrasie, want om Suid-Afrikaner te wees is meer as net die grond onder jou voete, dis meer as geografie. Dis ’n doelbewuste keuse om te bly en ’n verskil te maak in die aangesig van teenstand. Ons mense verdien beter.
.............

Prente, bo: https://pixabay.com/photos/capetown-beach-sunset-aerial-view-2295679/ en https://pixabay.com/photos/south-africa-township-city-4776071/. Onder: https://pixabay.com/photos/great-kudu-antelope-africa-496561/ en https://pixabay.com/photos/johannesburg-urban-city-scenic-4322256/
As ek my verhouding met Suid-Afrika ’n Facebook-status moet gee, is "It’s complicated" die enigste blokkie wat pas.
Ek is innig lief vir hierdie land en sy mense. Maar daar is dae dat ek wens ek het iewers anders gebly. Dan haat ek Suid-Afrika met die tipe passie wat gereserveer word vir dié vir wie ons lief is. Elke slag wanneer Eskom ons in die donker laat, wens ek ek kon iemand voor die bors gryp en ’n paar goeie klappe inkry. Dit sal nie die situasie help nie, maar ten minste kan ek aan my frustrasie uiting gee. Elke keer wanneer ek hoor van nog ’n inbraak of diefstal of moord, verlang ek na plekke waar respek vir ander se eiendom en lewens nog bestaan.
..............
Elke slag wanneer Eskom ons in die donker laat, wens ek ek kon iemand voor die bors gryp en ’n paar goeie klappe inkry. Dit sal nie die situasie help nie, maar ten minste kan ek aan my frustrasie uiting gee. Elke keer wanneer ek hoor van nog ’n inbraak of diefstal of moord, verlang ek na plekke waar respek vir ander se eiendom en lewens nog bestaan.
...............
Ek wens ek het in ’n land gebly waar politici op hul eie swaarde geval het wanneer hulle droogmaak. Ek wens politieke verantwoording was ’n realiteit. Ek wens dat wanneer ek hoor ’n ramptoestand word oorweeg om die energiekrisis aan te spreek, my eerste gedagte nie outomaties is om te wonder hoeveel geld nou weer gesteel gaan word en wie dit gaan doen nie. Ek wens wanneer hulle belowe om die krisis voor die einde van die jaar op te los, my eerste reaksie nie is om te kyk wanneer die volgende verkiesing is nie. Ek wens ek kon aanskou hoe die persone wat, direk of indirek, verantwoordelik is vir die krisis, vroom hande saamslaan oor wat aangaan sonder om bose gedagtes te koester.
..........
Ek wens dat wanneer ek hoor ’n ramptoestand word oorweeg om die energiekrisis aan te spreek, my eerste gedagte nie outomaties is om te wonder hoeveel geld nou weer gesteel gaan word en wie dit gaan doen nie.
..............
Ek wens vir die onmoontlike, en wanneer ek myself betrap dit doen, haat ek hierdie land.
Maar dan ry ek die pad na my ou werk, ’n pad wat ek elke dag vir ’n hele paar jaar gery het, met wingerde aan die een kant en die see binne sig aan die ander kant, en my hart vermurwe. Ons bly in ’n pragtige land. Daar is die pad Muizenberg toe, waar varkblomme in plate wild groei, weer met die see net aan die ander kant van die pad. Ons het dolfyne wat elke jaar op dieselfde plekke kom kalf, en pikkewyne in kolonies feitlik op mense se voorstoep. Ons is tuiste vir die groot vyf, en ek kan net met bewondering en dankbaarheid dink aan die mense wat hul lewens wei daaraan om die diere veilig te hou.
...........
Ek dink aan ons mense. Ja, ons het natuurskoon, maar ons mense is die beste (en slegste, soms) deel van wat ons uniek maak.
............
Ek dink aan ons mense. Ja, ons het natuurskoon, maar ons mense is die beste (en slegste, soms) deel van wat ons uniek maak. Daar is die vrugte- en groenteverkopers wat soggens douvoordag al hulle stalletjies opslaan en begin besigheid doen. Daar is die fabriekswerkers wat in die donker opstaan en soms ver reis om hul dagtaak te gaan verrig. Ek dink aan die plaaswerkers wat rugbreekwerk doen om kos op ons tafels te kry. Ek dink aan die plaasboere wat met passie boer, maar net so min as hul werkers waardeer word.
By omtrent elke verkeerslig is daar iemand wat óf bedel óf iets probeer verkoop op vele vindingryke maniere. Selfs die bedelary word tot ’n fyn kuns vervolmaak.
Is daar iewers ’n krisis, kan jy maar seker wees iemand sal inspring om te help. Ons lag oor goed wat ander nasies in ’n opgekrimpte hopie sal laat.
Daar is soveel wat mooi en goed in ons land en ons mense is, en terwyl ek kan verstaan hoedat mense sê hulle skud die stof van hul voete af, weet ek ek kan nie. Ek bly net hier, met al die probleme en moeilikheid en misdaad en frustrasie, want om Suid-Afrikaner te wees is meer as net die grond onder jou voete, dis meer as geografie. Dis ’n doelbewuste keuse om te bly en ’n verskil te maak in die aangesig van teenstand. Ons mense verdien beter.
Ek bly net hier.


Kommentaar
Ek moet sê die Wes-Kaap is beter as die res van Suid-Afrika. 'n Mens kan maar net wonder hoekom die Nasionale Party nie al reeds 70 jaar gelede met windkrag begin het soos in Suid-Amerika, Europa en elders in die wêreld gebeur het nie.
Ek aanvaar dit.
Bly jy maar lekker hier. Die dromers van die NP het ook gedink alles gaan te oulik wees wanneer die ANC die sweep klap. Almal weet nou amper 30 jaar later hoe korrup hulle is, intellektueel en finansieel. Om van onbekwaam nie te praat nie. Neem 30 jaar om 'n ramp te skep en dan wil hulle 'n ramptoestand instel. Ha-ha
Dankie, Bettina. Ek voel ook soos jy, maar kan dit nie so goed neerskryf nie.
Daar is soveel negatiewe nuus die hele week; dit is lekker om jou opinie te lees, en te kan identifiseer daarmee; al bly ek in die Vrystaat, waar dit bietjie slegter gaan as by julle.
Geloof is ’n snaakse ding. Glo alles sal regkom, het Jan Brand ook gesê as elkeen sy plig doen! Inherent gaan niemand dit doen nie, so wie gaan toesien dat die "plig" gedoen word? Só is ’n Suid-Afrikaner ’n nóg vreemder ding. Word jy dít net vanweë die feit dat jy geografies aan die suidpunt van Afrika bly? Neem so aan; ek is om daardie rede nie ’n Suid-Afrikaner nie – kla’!