Eindes

  • 1

Dit is die heel eerste keer dat dié gedagte by hom opkom.  

Die maande se opgekropte woede, die gevoel van verwerping, nutteloosheid, die doellose ronddobber gedurende die dag, die slapeloosheid wat hom snags laat rondrol, die huis vol laat loop, die televisie laat aanskakel, deur tydskrifte laat blaai, ongesond laat peusel – alles het in hom begin prut-prut soos in ’n drukkoker, opgestoot en na ’n plek gesoek om uit te borrel, uit te bars. En skielik kom hierdie gedagte – soos ’n uitweg uit ’n doolhof, ’n lig wat hy nooit aan die einde van die tonnel sien brand het nie.

Hy het nie besef dat hy dit ooit sou oorweeg nie – altyd het hy dié opsie beskou as die weg van die lafaard, die verloorder. Hy is nie seker of hy ’n verloorder is nie, miskien benodig hy net weer ’n vonk, die wil om die lewe weer hardhandig aan die strot te gryp? Maar, hy is moeg, wil nie meer beweeg nie, die klim van die leer het sy glans verloor.

Die stad het hom leeggetap, gestroop van waardes, van sekerhede en ’n kompas. Dit moet miskien dieselfde gevoel wees, soos wanneer jy verkrag word, of is dit net meer subtiel, hierdie emosionele verkragting? Hierdie gewelddadige wegneem van iets wat jy gedink het net aan jou behoort. Hoe maklik spoel beginsels nie weg oor daardie gevaarlike grys grense nie, hoe vinnig vervaag skeidslyne nie net nie.

Geld, geld, geld. Geld – die nuwe gerieflike geduldige god. Daar was maande toe hy sy salaris netso in sy rekening laat lê het. Hy het in die binnekring gesit, knus in die warm gloed van die grypers gebaai, hy het met die knapste korporatiewe konkelkonings gehoer. Totdat hy nie meer kon nie.

Dit is nou al ’n jaar sedert hy sy tentpenne uitgepluk en alles vaarwel toegeroep het. ’n Lewe met ’n oorvloed aan besit en invloed en afleiding en verleiding te maklik gekoop. Hy sukkel met onttrekkingsimptome. Soos ’n junkie. Sukkel om aan te pas by die krimpende inkomste, die slakkepas van weke wat verbykruip sonder vergaderings en verslae, die verlokkings van boekwinkels met opwindende titels, die uitspattige marmervloere van penthouses, die adrenalien van slinks dink, die noukeurige beplanning aan strategiese slenters wat selfs in ’n hof moeilik getroef sou kon word. Die stad was ’n miershoop, ’n byekorf, ’n hoerwoud en elkeen was hier om sy pond vleis te kom eis.

Vanoggend is die pad mistig, en hy ry versigtig, want oral is daar padwerke. Hy ken die roete, baie passe en op dae met ’n skoon blou onbewolkte hemel bied dit ongelooflike uitsigte. Hy wonder wat hier sal oorbly as die planne van die regering en die maatskappye deurgevoer sou word. Ook ’n gestroopte landskap, verkrag en vir dood agtergelaat? Hy het wyd gelees oor die voorgenome ontwikkelingsplanne, vergaderings bygewoon, vrae gevra, selfs die dokumentêre fliek oor die uitwerking daarvan op mens en omgewing gaan kyk. Wat was die titel nou weer?

Die oorwegende en terugkerende boodskap is alyd dieselfde: sonder water bly hier niks oor nie, sonder water kan die maatskappye nie hierdie aarde kom eksploreer en leegsuig nie. Boer en landery en bok en skaap en werker probeer vergeefs wen teen wins. Woekerwins wat die sakke van gulsige oorsese beleggers en nog gulsiger, gewillige plaaslike politici moet vul. Intussen word daardie magiese woord, “werksgeleenthede” soos ’n wortel voor die gesig van potensiële kiesers geswaai, sokkerspanne word geborg - ’n bal om vir afleiding rond te skop te midde van die kontroversie. Op inligtingsessies word daar rojaal onthaal; die amptenary word getrakteer. Die era van die gunsloon. Hy haat dit, haat dit, hierdie opveil van gewetes. 

Alles stem hom nog meer depressief. Die moontlikheid van die naderende groot dood wat oor hierdie landstreek sy intrek sal neem. Hiér waar sy pa en dié se pa eers sukkel-sukkel geboer het, skuld moes aangaan, die aarde moes tem. Later het hulle naam gemaak, die stoetvee se bloedlyn het pryse ingepalm, was oral in aanvraag, selfs in die buiteland en die afstammelinge kon aftree. Vermoënd. En toe die keuse gemaak moes word, wou niemand verder kom boer nie. Sy broer sit in die verre koue Kanada, die naelstring finaal geknip met die moerland. Tog het hy nooit die liefde vir die grond afgeleer gekry nie, dit bly deel van hom – kleef aan hom soos sweet, soos die dood.

Wat sal hier uiteindelik oorbly? Verlate plase sonder heinings, sonder vee, sonder omgeploegde landerye, sonder aangeplante gewasse, plase met vervalle, onbewoonde opstalle, leë skure, dooie tuine, besoedelde ondergrondse waterbronne, ’n geskende ont-eerde eko-sisteem?  Oral die verval en die leuen van vooruitgang – verwese tenkwaens wat water moet in- en aanry om die nuwe boorboerdery te borsvoed, die reuse bergingstenks? Die boor wat diep en dieper die aardkors in sal beur, totdat die aar van die gas raakgeboor sou word en dit dan herlei sal word.

Sal die oppervlak uiteindelik lyk soos daardie beelde van die maanlandskap, beelde uit ’n Hollywoodfliek, die apokalips in swart en wit, ’n stillewe? Hy dink aan die donker, troostelose tonele uit The Road van Cormac McCarthy. Die sterwe is ’n morbiede ding.

Ook die geheue sterf uiteindelik – die onthou van die goeie, maar ook van die ongemaklike slegte aspekte van ’n bestaan. Hy wonder waar het die lewe vir Annerlik Jaans uitgespoeg? Moes hy nie die een gewees het wat die boerdery verder kom vat nie, hoekom het hulle nooit daaraan gedink nie?  Dit sou tóé baie wenkbroue gelig het … ongemaklike vrae veroorsaak het. Ja, dié vlek op die gewaande suiwer bloedlyn. Maar daardie gebeure behoort aan ’n tyd wat verby is, sondes van die vaders, maar is dit nie juis ook sy sondes nie? Kollektiewe skuld is die kruis van hierdie land.

Hy ry verder – die mis klaar effe op. Die radio is afgeskakel, want hy wil nugter probeer dink. Hy hou daarvan om alles te deurdink, is dit nie juis sy probleem nie? Daardie tydsame opweeg van al die alternatiewe? Moes hy nie soms net blindelings instorm nie – kop omlaag. Soos met haar? Sy was nie beeldskoon nie, maar begeerlik, iewers het ’n vuur in haar gesmeul, ook sy het ’n vonk nodig gehad. Sy’t hard probeer, tekens gestuur, onthou hy nou, maar hy het gestoei met sy eie spoke en skaduwees, miskien het sy dit as verwerping beskou, het hy gedink sy is nie goed genoeg vir hom nie? Moes hy nie net begaan het nie? Hy onthou die aand toe hy net wou, hy het in haar kamerdeur gaan staan, maar sy moed het hom begewe. Dit was nie net sy nie, daar was baie ander, tref dit hom. Dit is die storie van sy lewe, sy moed wat hom telkemaal begewe. En sy gewete wat hom soos ’n skaduwee volg.

Nou dink hy weer daaraan en begin klaar twyfel. Wat as dit skeefloop? As die impak nie sterk genoeg is om ’n suksesvolle einde aan alles te maak nie? Dan sal dit ’n fokop wees. Hy moet teen die regte spoed en op die regte plek dit doen – weer moet daar geweeg en gedink word. Selfs oor dit. Haarfyn moet jy aan die dood beplan. 

Verder begin die teer die laaste oorblyfsels van ’n bui reën toon. Die oppervlak is nat, plek-plek het water in slaggate dammetjies gemaak. Hoe welkom is die reën nie. Die droogte mergel mens en dier. Hy draai die twee voorste ruite elektronies af, sodat hy die koel varsheid deur die motor kan voel vloei. Miskien klaar dit sy gestel op - help dit hom om sy plan mooi in rat te kry.

Hy begin teen die pas uitklim, die motor verwissel outomaties van rat. Stadig durf hy die draaie aan, wik en weeg. Miskien hier, miskien nou? Dan is hy bo, die mis is weg, maar die hemelruim is van kant tot kant met donker, vuilgrys wolke gevul. Hy kan ver vooruit sien soos die pad tot doer onder teen die pas af blink. Die oppervlak is nat. Jy kan maklik gly.

Hy knip die sitplekgordel los. Dan versnel hy. Die wind waai deur die oop vensters teen sy gesig vas. Hy sien die spoedmeter klim, dit is asof die motor ligter raak. Asof daar terselfdertyd ook ’n ongemaklike gewig van sy gestel gelig word.

Hy weet wáár hy dit gaan doen. Verder is daar ’n lang draai en dan die betonpilaar van die brug wat die pad kruis. Hy kon die brug altyd van hulle plaasopstal sien, kleintyd. Hy het altyd gekyk hoe die swaar voertuie en soms motors of bakkies wat karavane sleep, daaroor ry. Daar is dinge wat hy nie afgehandel het nie, besef hy. Nie alles is met groot sorg beplan nie, tog gee hy nie meer om nie. Hierdie keer mag daar leë blokkies in die brokraaisel van sy lewe agterbly – oop spasies vir raai en wonder …

Die brug spoed al nader en hy versnel, trap die pedaal byna plat. Hy besef hy het geen beheer meer nie, die motor is in die draai, dan begin dit gly, sy vingers klou aan die stuurwiel, hy pluk dit na links.

Hy voel hoe die bande die teer verlaat ... hy is bang, besef toe eers net hoeveel moed dit verg. In ’n paar flitsende momente spoel ’n hele lewe voor hom verby – grepe, flardes, skerwe. Sy verlede is skoon – en uitgevee.

Lees ook

Verjaarsdagvers vir Breyten deur Clinton V du Plessis

Betaaldag

 

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Dankie dit is nogal iets uit die ongewone die. Altyd lekker om iets te lees wat jy geskryf het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top