Poging tot ʼn pampoenbewussein vir Bruiten Bruitenbrak
(of dan a postcard from the edge)
Clinton V du Plessis
Hoe bedink jy opnuut iets vars soos grond,
pas oop- en omgespit,
vir dié maer man wat die taal ken, dit kaal
in al sy naatlikheid be- en geskrywe het?
Dit verword blote
na-aap, powere poging tot na-praat
want, op Bonnievale het die woord mens geword
(en iemand se pa het miskien ʼn baie groot biblioteek gehad)
Kyk, jy roggel nog nie
op 80 gorrel jy bekkig, bolands
en skerp-astrant, sonder brieke,
skuinsmoerig,
gee jy aanstoot, hond se gedig-gedagtes,
ʼn bliksem van buite,
sonder versigtige witvoetjie soek.
Wysgereis stoppel ʼn baard grys.
Jy vinger die fyngevoelige
nuwer en ouer kripbekruipers
wat vloerlangs sluip
met lofsange bedelbid
vir die bevryders
boepgevreet,
met vrotpootjie en sweerklou
na die oordaad vergryp,
die leiers met luiers
swaar en vol
gekak:
hands off, hand off, die dreunsang.
Drome soos vrot vrugte.
Maaiers plaag in die paradys.
Seisoene vol poetsbakkers met oranje pampoene.
Enkele drogbeelde:
iewers, in ‘n middestad,
hier in Afrika, suid, suid
‘n hond wil-wil vreet aan ‘n brandende
mansmens se enkel,
‘n vrou word hardhandig oopgemaak
baldadig fok ‘n orgaan ongevraagd, ongenooid na binne,
besit, beset byna besete, dié heiligste ruimte.
Waansinnig hierdie daaglikse gehoer van onmag met
hardsienige, stikhorende mag.
Wat bly oor, my basterbroer, wat bly oor?
Die woord, of weer
net die hoop dan van jou gedig van weleer?
Eindelik, uit(koms)
soet op die tong,
die slakstadige sluk aan die dood,
soos die gesuikerde pampoen,
van lank gelede,
se Sondae?
Jy stut my gewete teen die krummel.
Kommentaar
Weet ons die waarde van BB vir Afrikaans en die mens?
Ons deel in die grimmige genot van die vers!
Genotput is g'n werkwoord nie.
En buiten p is byna alles k.
My woordeskat te arm om die meesterstuk te beskryf. Bravo Clinton!
Wil jy nou meer! Bekkig ...