Eilandaantekeninge

  • 3

Gorée-eiland deur Gregor Rom, eie werk, CC BY-SA 4.0. | Breyten Breytenbach deur Izak de Vries

...
Dit is die oog wat luister. ’n Helder beskilderde boomskuit, glinsterend van ’n vlies nattigheid, kom land toe na ’n nag se diepseevissoek.
...

Terug in die paradys van soet verrottende tyd, opeens, skielik, asof niks intussen gebeur het nie. En tog – hoe  lank? – drie jaar? Waar is dit heen? Wat het daarvan geword? Was dit dan net ’n breuk in bewuste syn? Hoe kon ek so volkome vergeet het – tot die klere en skoene en boeke en whiskey in my kamers? Genoeg om sommer weer in die lewe hier, hierdie paradys, te stap asof niks intussen gebeur het nie. Miskien was jy nooit weg nie. Behalwe dat jy soos ’n lang verlore seun verwelkom word. Al die mense – jy onthou die gesigte, of liewer, dit kom weer terug – wat jou groet op jou naam, vra “depuis quand?” (sedert wanneer is jy weer hier?) en verneem, herhaaldelik, na die welstand van die familie. Hulle onthou ook die name van vrou en dogter. Waar was jy?

Hoe het jy kon vergeet van die verskriklike, klam hitte, die baobab-bome nou behang met swaar peule, die flambojante kleure van struik en rankplant en muur en vensterraam, die hobbelsteë, die eilanddonkie voor die karretjie swaar belaai met vullis, die pirogues in die baai, die louwarm water, die lieflike mense, die gewade, die guitigheid, die gelowe, die posture, die sit en die loop, die seuntjies wat sonder ophou agter die sokkerbal bly hardloop in die sanderige ooptes en uitbundige opmerkings kreet? Hoe het ek kon vergeet van die chili’s (roofvoëls) in hulle konsentriese sweefpatrone op die wind, die geitjies van alle denkbare kleure, die verflenterde straatkatte, die vlieë dié tyd van die jaar, die minuskule miertjies wat dreig om in jou rekenaar te beland en alle geheue te vernietig, die moutons (soos bokke hier genoem word)?  

Het jy werklik vergeet van die oomblikke van inkeer? Reg rondom word dit oral lig tegelykertyd, stil sodat die enkele vlieswolke baie hoog silwerig verkleur. ’n Man is besig om die klipstrandjie skoon te hark, iemand swem in die nog donker waters van die baai, net sy kop steek uit, ’n jong seun sit op die muur bo die inham, een knie opgetrek tot onder die ken en staar uit oor die grou water, ’n jong vrou met die effense briesie wat haar siklaamkleursluier skaam-mooi om die lyf laat vloei loop stadig, miskien het sy haar man verloor, ’n ouer vrou sit in ineengehoktheid verlore en staar na die kommetjie van haar hande waar haar vingers die krale in die gebedstring aftel, ’n man loop stadig, miskien nog beswymd van na-nag-drome, plastiekbekertjie wat hy tussen die uitspoeldetritus opgetel het in die hand, na waar die son rond en groot en oranjegeel opkom oor die see asof dit uit die dieptes styg, en nou afgeëts teen ’n palmboom se wuiwende takke – die man gaan staan, lig sy kop op, sprei sy arms wyd in die oermensgebaar van erkenning en aanbidding. Kraaie kom pik na wat daar nog te eet mag wees in die gruis. Nie stilte nie, want die see eggo ’n ruising, die nadenke van laasnag se gesprek met die lou wind, die maling, en die lig ruis byna geluidloos. Dit is die oog wat luister. ’n Helder beskilderde boomskuit, glinsterend van ’n vlies nattigheid, kom land toe na ’n nag se diepseevissoek. ’n Jong knaap in die pirogue, sy kop steek skaars bo die boordwand uit, is gretig om te wys hy weet reeds hoe om rats te spring wanneer die bodem teen die sand skuur. Die dag is op hande.

Le grand manitou, Fabrizio, is half verlam. Loop met moeite en ’n kierie. Stefano, ’n mede-Italianer getroud met ’n vrou uit Mali, is ’n besete visserman. Daar is geen see waar hy vandaan kom nie. Kuier daarom gereeld op Gorée en bly by sy vriend Fabrizio. Vandag gaan hulle uit in ’n pirogue, ’n stoel word met toue vasgewikkel op een van die vier eenpersoonbankies van die smal bootjie, Fabrizio sit soos ’n koning wat na ballingskap geneem of aan die see geoffer gaan word, Stefano het ’n rooi plastiekfluitjie aan ’n string om sy nek. Hulle het spaghetti met seestegels geëet in Keur Khadija – ’n koningsmaal afgespoel met Balulouane-witwyn – nou word die leë sea urchins saamgeneem in ’n plastiekemmer, dit gaan in die see gegooi word as aas vir die visse. Fabrizio (kyk strak voor hom uit sodat mens nie die weemoed moet sien nie): “Soon I shall go to the sea for the last time.” Vroeër het hy aan my gesê: “I go fishing one last time.” Sy vrou is dood aan kanker. ’n “Copine” pas hom nou op.

Seydou hou saam met my die verrigtinge dop, help die bootjie in die water kry. Hy vertel sy grootouers (Toucouleurs, Peuls, Serrers) het na die eiland gekom, kon nie swem nie, met skaap en bok, en hoe hulle soos slawe behandel is deur die Lebous, vissermense wat oor die eiland geheers het, die eiland was deur hulle gebruik om steenkool te brand en vis te droog. Nou is Seydou uitermate groots op sy troppie moutons, hulle testes hang swaar soos baobabpeule of vleesklokke tussen die bene, dit gee hom status. Hulle word aangehou in ’n kraaltjie teen die heuwel, maar hy bring hulle ook ten minste een keer ’n dag, gewoonlik teen skemertyd, af na die see om hulle een vir een te was.

*

Hoe verwerk mens, die mense, verdriet hier? Daar is die ansestrale “wete van bestaan-en-gaan” wat soos krale van waansyn aan ’n string geryg word en nie betekenis het van hoekom en daarom nie – maar dis nie kennis nie. “Kennis” is van die toubab, is van hulle wat apart is. Die saambaster weet van die vloei van saamword uit uiteenlopende bronne wat nooit ophou bloei uit die wond van verdwyn nie.

Ontstellend: Die seuntjie wat agter my aanloop en wanneer hy dink dat niemand anders ons sal hoor nie, sag na my roep om met die handjie in uitgestrekte gebaar te smeek vir ’n paar munte. En die volwasse bedelaar, nog steeds dieselfde al die jare, wat wanneer jy dit die minste verwag skielik daar is en ’n bakhand met enkele geldstukke laat sien in ’n stille pleidooi dat jy iets moet gee as toevoeging.

En die faux pas: Ek loop op pad terug na die Résidence agter ’n dogtertjie in die steeg. Sy moet seker so ’n vyf jaar oud wees, viets aangetrek soos ’n pop in haar kleurryke rokkie, hare gevleg in rye plat teen die kop. Sy moet uitermate bewus van my agter haar wees. Wanneer ek my iPad lig om ’n foto van haar te neem draai sy skielik om en wys ’n streng vingertjie na my: “Non!” sê sy baie ferm. Wat het gebeur? Is sy van kleins gewaarsku teen pedofiele, die impotente toubabs wat eiland toe kom om kinders te verlei? Of glo sy dat ek haar “beeld” gaan steel?

Ek probeer vermy die verkoopster van kleedstof wat my net nie wil laat gaan nie.

En wanneer ek ’n sandaal se sool laat vaslym, weet ek nie wat om die skoenmaker te betaal nie. Die prys word aan jou oorgelaat met die hoop dat dit op niks sal slaan nie. Wat jy ook gee sal altyd met ’n uitdrukking van gelate teleurstelling aanvaar word.

Ek weet nie meer hoe om Fabrizio te hanteer nie. Wanneer jy hom met skemering teëkom waar hy nie jou hulp wil hê nie en doelbewus bly voortskuifel op sy kierie om die dood te vergesel asof dit (sy, la mort) nog lewend is, en dit is, nooi hy jou saggies, byna teer, om na sy huis toe te kom, hy moet baie eensaam wees. Skielik het jy nie die moed nie. Maak ’n flou grappie van whiskey wat op my wag tuis. “Comme si entacher la réputation est plus grave que de détruire une vie.

Ek het ’n enkele hond gesien, maar ook net van ver.

*

Vlissingen (Vlissienge in Zeelands) op die eiland Walcheren was vir eeue lank die belangrikste tuishawe van die VSOC. (Die kolonies oorsee is nie gevestig in die naam van ’n imperiale ryk nie maar in terme van handel in slawe en speserye. Eers later word die handelstasies die nedersettings wat soos kankergewasse swamagtig sou uitbrei.) Maar dit was ook vroeër reeds ’n genoteerde hawe. Daar word beweer dat Ulysses tydens sy Odusseus-vaart daar sou aangedoen het. Dis waar Flushing in die Amerikaanse deelstaat New York sy naam vandaan kry.

Michiel Adriaanszoon de Ruyter (gebore 24 Maart 1607 te Vlissingen, in aksie oorlede 29 April 1676 in Syracuse, Italië) is begrawe in Amsterdam se Nieuwe Kerk en sy beeltenis, geskilder deur Ferdinand Bol, kan in die Rijksmuseum van Amsterdam gesien word. Sy tweede vrou se naam was Neeltje Engel en hulle tweede seun is met die voornaam Engel gedoop. Vir ’n tyd lank was De Ruyter, as luitenant-admiraal-generaal van die Verenigde Provinsie,s ook in bevel van die handelspos op Gorée-eiland. Sy verblyf daar staan in die teken van iets wat onverwags opgeteken is, naamlik die besoek van ’n Afrikaan, ’n jeugvriend, met wie hy saam gespeel het in sy geboortedorp. Die Afrikaan, toe so ’n geskatte 60 jaar oud, se naam (soos gesê) was Jan Kompany. Hy het Hollands en “Platduits” vlot gepraat (Platduits hier verwys na Zeelands oftewel Zeeuws – “much used in Goeree-Overvlakkee and along the Flemish coast, also in Ghent and Kortrijk: it may be the equivalent of Flemish”) en het na berig word al die brûe en kaaie en strate in Vlissingen geken en kon hulle opnoem. Hy het baie toegeneentheid vir die Hollanders gehad en hulle het hom waardeer. Afrikane van die kusstreek het trouens goed met die Hollandse handelslui oor die weg gekom maar kon die Engelse nie verdra nie. Laasgenoemdes se terugslae en uiteindelik aftog het almal verbly.

In die Amsterdamse Museum is daar ’n skildery gemaak deur Johannes Hinderikus Egenberger wat die herontmoeting van die oudslaaf Jan Kompany en Michiel de Ruyter aan boord van laasgenoemde se skip in die baai van Gorée geanker, uitbeeld. ’n Mens hoop die vlae het gewapper en die drank het mildelik gevloei. Gerard  Brandt het dit alles neergeskryf.

Jy moet nooit toelaat dat die musiek sterf nie. “Dis nie myne nie, dis nie joune nie / dis annerman se wind wat ons oor stry.” En wind, as vlag, is die soom van drome.

Maar waar sou Jan Kompanjie vandaan gekom het? En hoe beland hy – onverwags – op Gorée? Afrikaans, so word gesê, as Oorlams en Flytaal, is een van die Kreoolse tale met ’n sterk Zeelandse (Zeeuwse) agtergrond. Ander Afrika-tale wat ook ’n invloed gehad het was Berbice, Skepi en Neger-Hollands. Berbice-Hollands van Guiana word tot vandag toe gepraat.

Dit vat baie stuifmeel om ’n bietjie heuning te maak. Moet dus nie kwaad word indien die by af en toe steek nie – dink eerder aan die taai lekkerte van die koekstroop.           

Lees ook:

‘Imagine Africa’. Gorée-instituut voor democratie, ontwikkeling en cultuur in Afrika (1992-2022)

Om Afrika te verbeel: Brugfuncties van Breytenbach en Gorée Instituut

The representation of “imagined Africas” in the poetry of Breyten Breytenbach from 1984–2014

Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Alwyn Roux en Johan Reijmerink

Unisa-seminaar (Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap): VisionKeepers-projek

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top