Unisa-seminaar (Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap): VisionKeepers-projek

  • 0

Hierdie bydrae is gelewer tydens ’n spesiale oggendseminaar by Unisa se Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap op 20 Januarie 2020.

Yves T’Sjoen en Alwyn Roux vertel meer oor die VisionKeepers-program by Unisa en samewerking tussen Universiteit Gent en Suid-Afrikaanse universiteite:

Verwelkoming deur Alwyn Roux

Alwyn Roux (Foto: verskaf)

Diegene wat die gespreksforum in Julie bygewoon het, sal onthou dat ek met Yves T’Sjoen se eerste besoek aan Unisa ’n uiteensetting van die projek aan julle voorgehou het, wat intussen op LitNet met die titel “Die representasie van verbeelde Afrikas in die poësie van Breyten Breytenbach van 1984 tot 2014” verskyn het: https://www.litnet.co.za/the-representation-of-imagined-africas-in-the-poetry-of-breyten-breytenbach-from-1984-2014. Dit skets die buitelyne van die projek.

Na afloop van prof T’Sjoen se eerste besoek aan Unisa het ek die geleentheid gehad om van 16 September tot 25 Oktober by Universiteit Gent besoek af te lê met die doel om navorsing te doen vir die VisionKeepers-projek en ’n referaat te lewer by die 6de Gentse kollokwium oor Afrikaans met ’n spesifieke fokus op die werk van Breyten Breytenbach. Die wonderlike van hierdie geleentheid was dat Breytenbach self ook by die kollokwium aanwesig was. Voordat ek kortliks uitbrei oor die stand van sake en die beplanning vir die toekoms, veral rakende die navorsing wat beoog word, vra ek vir prof T’Sjoen om meer te vertel van (onder andere) die Gentse kollokwium en die belang daarvan by die VisionKeepers-projek.

Yves T’Sjoen oor die 6de Gentse kollokwium en die VisionKeepers-program

Dankie, Alwyn. Kollegas, ek praat Nederlands omdat ek dink dat die taal maklik verstaanbaar is; Afrikaanssprekendes en Nederlandsprekendes kan mekaar maklik ontmoet in hulle taal.

Dankie vir die vriendelike uitnodiging. Dit is nou die tweede keer dat ek die gas is by Unisa. Dit is ’n besondere voorreg dat ek saam met Alwyn hierdie pragtige projek mag uitvoer oor Breyten Breytenbach. Ek het ’n vorige keer al vertel van ons aktiwiteite by die Gentse sentrum vir Afrikaans en die studie van Suid-Afrika. Ons het inderdaad ’n jaarlikse kollokwium. ’n Aantal van my kollegas hier aanwesig was al by die kollokwium gewees. Ek dink aan Neil, Ihette en Alwyn. Hopelik sal daar binnekort nog kollegas wees wat ’n referaat aanbied in Gent. Die departementele voorsitter, Elvis Saal, was ook al ’n gas by ons, maar dan nie tydens ons kollokwium nie; toe het ons nog ’n seminaar gehad oor Afrikaans wat ’n week lank in Gent aangebied was. Dit was die aankondiging van die jaarlikse kollokwium.

.........

“Daar is dus in die Lae Lande ’n breë dravlak vir so ’n leerstoel in Suid-Afrika, en die bedoeling is nie om op ’n ouderwetse manier Nederlandse taalkunde of letterkunde te doseer nie; die idee is dat die leerstoelbekleder in samespraak met die kollegas hier ter plaatse ’n kursus uitwerk op maat van die studente en volgens die verwagtinge wat hier bestaan omtrent so ’n leerstoel.” 

.........

Met ander woorde, daar is alreeds heel intense bande met Unisa, en ons organiseer elke jaar hierdie kollokwium. Verlede jaar in Oktober was die sentrale gas Breyten Breytenbach. Ons het vir die letterkundige deel van die kollokwium ’n aantal sessies oor die werk van Breytenbach gehad en dit was vir ons ’n groot voorreg dat die grote literator en kandidaat Nobelprys-literatuur (wat my aanbetref) Breyten Breytenbach self aanwesig was by die verskillende referate. Hy het nie een lesing misgeloop nie. Hy was by al die lesings aanwesig, en meer nog, by die meeste lesings het hy kommentaar gelewer. Hy staan op, maak notisies, maak geanimeerde diskussies met die sprekers wat tydens die kollokwium werk gelewer het. En dit was die geleentheid toe Alwyn oor die VisionKeepers-projek van Unisa gepraat het – die stand van sake.

Dit was duidelik iets wat Breytenbach besonder interesseer. Daar was ook na afloop ’n diskussie onder andere met Willie Burger oor ’n aantal uitgangspunte, wat my aanbetref ’n heel dinamiese diskussie oor die projek. Ons het dus van die kollokwium in Gent gebruik gemaak nie alleen om die aandag te rig op die wetenskaplike navorsing wat hier in die departement by Unisa gebeur nie, maar ook heel spesifiek op die VisionKeepers-program van Unisa omtrent Breytenbach en veral die verbeelding van Afrika in die poësie van 1984 tot nou.

Breyten Breytenbach (Foto: Elize Zorgman)

Daarnaas het ons ook ’n Leerstoel Suid-Afrika met die titel “Tale, literature, maatskappije en kulture” (in meervoud, nie alleen Afrikaans nie). Ons het die afgelope semester tussen September en Desember Louise Viljoen van Stellenbosch as gas. Die eerste leerstoelbekleeder was Hein Willemse van Pretoria, die tweede Wannie Carstens en die vorige jaar Louise Viljoen. Ons probeer elke jaar taalkunde en letterkunde afwisselend aan bod te laat kom. Die volgende kollega sal iemand wees van UWK wat vir taalkunde aangestel is. In Gent het ons trouens ook twee opleidingsonderdele omtrent Afrikaans en ander tale van Suid-Afrika. Sowel ons BA-studente as MA-studente kan ’n vak volg – ’n keusevak binne die module Nederlands. Dit beteken dat die leerstoelbekleder heel aktief betrokke is by die klas omtrent taalkunde en letterkunde.

Daar word ook ander kollegas uitgenooi – skrywers word ook uitgenooi – om by ons klasse aan te bied. Vanjaar byvoorbeeld sal Jolyn Phillips enkele weke ons gas wees. Sy sal met studente praat, workshops aanbied en in die Poësiesentrum in Gent ook lesings en voordragte aanbied. Vorige jaar nooi ons Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal uit, maar as gevolg van allerlei visumprobleme, het dit toe nie uitgewerk nie. Maar sowel Nathan as Ronelda sou die keynote gewees het tydens ons kongres. Ronelda het wel ’n referaat aangestuur wat deur Anastasia de Vries voorgelees was. Daar was toe wel ’n tussenkoms van Ronelda Kamfer. Ons wil dus altyd ook literêre outeurs betrek by ons werksaamhede en ek dink dat ons in Gent op die oomblik ook wel ’n besonder aktiewe sentrum het omtrent Afrikaans en die studie van Suid-Afrika. Ons werk intensief saam met wat aanbetref die leerstoel in Amsterdam. Magriet van der Waal is die leerstoelbekleder in Amsterdam van die Leerstoel Suid-Afrika. Ons het in Gent ook ’n leerstoel en daar is ’n mooi samewerking tussen die twee leerstoele. Vanjaar het ons ’n plan ’n werklikheid geword.

Ek het ’n idee, en meestal as ek ’n idee het, dan wil ek dit met my kollegas laat realiseer. Dit is ’n leerstoel in Suid-Afrika oprig en dit sal meer ’n rondreisende hoogleraar wees wat uit Vlaandere of Nederland aangestel word en afhangend van die vraag en nood van departemente in Suid-Afrika op verskillende plekke gesetel sal wees. Dit kan sowel by Stellenbosch as UWK wees, Potchefstroom of Unisa; die persoon sal gedurende drie maande beskikbaar wees. Die binnelandse vlugte sal onder andere deur die Taalunie befonds word. Daar is ses universiteite in die Lae Lande wat betrokke is by die Leerstoel: Utrecht, Amsterdam, Groningen, Leiden in Nederland, en Antwerpen en Gent in België. Daar is dus in die Lae Lande ’n breë dravlak vir so ’n leerstoel in Suid-Afrika, en die bedoeling is nie om op ’n ouderwetse manier Nederlandse taalkunde of letterkunde te doseer nie; die idee is dat die leerstoelbekleder in samespraak met die kollegas hier ter plaatse ’n kursus uitwerk op maat van die studente en volgens die verwagtinge wat hier bestaan omtrent so ’n leerstoel. Dus nie om vanuit die Nederlandse taalgebied iets tot stand te bring en op te lê nie (want dit werk nie én is nie relevant nie), maar om in dialoog met die plaaslike kollegas volgens wat ons vandag verwag van ’n kursus Nederlands, ek bedoel in ’n geglobaliseerde wêreld in kontak met ander tale, Nederlands as deel van ’n groter meertaligheid om binne die optiek iets te doen met Nederlands in Suid-Afrika. Dit sal in 2020 ’n werklikheid word en is ons volgende plan.

Dit is vir my vanuit Gent ’n besondere voorreg om hier aanwesig te wees, om met julle te kan praat en veral ook om as mentor betrokke te wees van die VisionKeepers-projek omtrent die verbeelding van Afrika in die poësie van Breytenbach. Ek wil ook heel eksplisiet Alwyn bedank. Hy is ’n besonder dinamiese, jong navorser en dit is vir my ’n voorreg om hier saam met jou en in Gent te werk.

Alwyn Roux oor die stand van sake

Dit was vir my ’n groot verrassing toe Yves by die Gentse kollokwium my aan Breyten Breytenbach voorstel en Breytenbach met sy wysvinger wys na die logo op sy sak van die Gorée-instituut, ’n kunswerk deur die Senegalese kunstenaar Mohamed Soumare.

Ek het oor die Gorée-instituut gaan oplees oor die verskillende aspekte van die logo: (1) die kop van die roeier is simbolies van ’n mens, maar ook van die Gorée-eiland; (2) die arm stel die armspier voor van die roeier wat die boot roei; (3) die boot stel die “selfvoorsieningsbeginsel” voor, naamlik dat “ons moet ‘roei’” om “ons boot (eweredig) te dra”; (4) die lyne onder kant die roeier stel die seë rondom die omgewing van die eiland voor, asook die eksterne wêreld; (5) die raam stel die raamwerk van die Gorée-instituut voor, wat innovering, kreatiwiteit, nonkonformisme en provokasie vooropstel as deel van die instituut se waardes; en (6) die kleur roep die sand van die Sahara op. Dit is belangrik om te noem dat die Gorée-eiland nie verstaan kan word sonder dat dit teen die agtergrondgeskiedenis van slawerny gelees word nie. Sedert die 1500’s tot die 1800’s het die Gorée-eiland gedien as slawedepot waar mense vanuit Afrika na Europa, Amerika en die Karibiese eilande weggevoer is. Die logo is dan ook simbolies van die Feniks soos Afrika hergebore word om die geskiedenis van slawerny, apartheid en kolonialisme te oorkom (verwys na https://www.goreeinstitut.org).

Breyten Breytenbach se historiese betrokkenheid by die Gorée-instituut word in die eerste artikel van ons projek ondersoek. Hierin word aandag gegee aan die stigting van die instituut, van 1987 tot in 1992. Daarna word gekyk na poësiefeeste by die instituut, met spesifieke vermelding van ’n poësiekaravaan in 1998, waar tien digters vanuit die uithoeke van Afrika genooi is om van Gorée in Senegal na Timboektoe in Mali te reis. Ook word gekyk na die portefeuljes wat gemaak is by die drukkunswerkswinkel van die instituut. Ek is veral geïnteresseerd in die samestelling van die eerste kollektiewe portefeulje, naamlik “Kawral” wat “gemeenskap” in die taal Fulani beteken. Drie kunstenaars het saamgewerk aan dié portefeulje, naamlik Breyten Breytenbach, Mel Edwards (VSA) en Souleymane Keita (Senegal). Breytenbach was dan ook uitvoerende direkteur van die Gorée-instituut vanaf 2002 tot 2010 en ek stel veral belang in sy aspirasie “om Afrika te verbeel” wat soos ’n blou lint deur die werksaamhede van die instituut loop. Dan is dit ook belangrik om die drie gelyknamige publikasies Imagine Africa, wat in 2011, 2015 en 2017 verskyn het, krities te beskou. Breytenbach was die samesteller van die eerste volume van die drie.

Om kortliks die verloop van die postdoktorale studie in perspektief te plaas: Die eerste artikel, oor die historiese betrokkenheid van Breyten Breytenbach by die Gorée-instituut, word in Februarie voorgelê aan Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans (kollokwium-uitgawe); die tweede artikel word vir die daaropvolgende jaar beplan en dit gaan spesifiek oor die kritiese evaluering van Breytenbach se “Imagine Africa”-toespraak wat hy in 2007 by die Gorée-instituut gelewer het. Daarnaas word stiplesings van gedigte gemaak tussen 1984 en 2014 wat Breytenbach oor Afrika geskryf het om te sien op watter wyse die filosofiese idees neerslag vind in sy poësie. Laastens word vergelykings met ander digters opgeneem in die drie volumes van die Imagine Africa-reeks. Uit die omvangwerk word dan ook ’n monografie vir die projek in die vooruitsig gestel. Die een aspek van die VisionKeepers-projek wat vir my uitstaan, is die wonderlike samewerking met Yves T’Sjoen – nie net is hy ’n Breytenbach-kenner by uitstek nie, maar sy entoesiasme is werklikwaar aansteeklik.

Yves T’Sjoen voeg twee punte by

Ek wil nog twee punte toevoeg. Die eerste punt is dat daar ook ’n ander plan bestaan en dit is ’n plan wat Breytenbach in Gent met Alwyn bespreek het, naamlik om aan Gorée-instituut aan die einde van hierdie jaar ’n simposium te organiseer. Die idee van Breyten Breytenbach was as jy ’n ondersoek onderneem oor die Gorée-instituut, dan moet jy ook by die plek wees om die argiefdokumente te bestudeer. Dit was Breyten se idee om met ander kollegas wat belangstel na Gorée te gaan en daar by die instituut ’n kollokwium te organiseer en die argiefdokumente te bekyk, want dit gaan veral ook oor die dokumente wat ’n rol gespeel het in die instituut en nie aanlyn beskikbaar is nie. ’n Kollega het in Julie die opmerking gemaak dat die studie moontlik in ’n monografie sal moet verskyn oor Breytenbach se rol by die Gorée-instituut. Dit is so wonderlik van hierdie projek dat vir die eerste keer navorsing gedoen word oor Breytenbach se betrokkenheid by die Pan-Afrikaanse program van die Gorée-instituut. Dit is my eerste aanvulling.

Yves T’Sjoen (Foto: Naomi Bruwer)

My tweede aanvulling het meer met institusie te maak. Julle weet dat daar ’n interuniversitêre kontrak tussen Unisa en die Universiteit van Gent bestaan. Helaas is hierdie kontrak slapend – dit word nie aktief gebruik nie. Dus wil ek kollegas oproep wat belangstelling het om gedurende ’n bepaalde periode in Gent by die Gentse Sentrum navorsing te doen, dat julle baie welkom is om van die uitruilprojek van die program gebruik te maak. Ons moet elke jaar of elke twee jaar die bestaande interuniversitêre raamooreenkomste evalueer, en dit beteken dat as ’n bepaalde kontrak nie aktief is nie, die kontrak stopgesit moet word, en dit sal jammer wees.

Ek roep die kollegas van die departement op en ek kyk spesifiek na die departementshoof om dit onder die aandag te bring om van die kontrak gebruik te maak. Dit is ’n fantastiese samewerkingsooreenkoms waarby deurgaans die vliegtuigkaartjie deur die uitsturende universiteit betaal word en die onthaal, akkommodasie en fasilitering word betaal deur die ontvangende universiteit. Ons het so ’n samewerking met Potchefstroom, Pretoria, Bloemfontein, Grahamstad, UWK en Stellenbosch (binnekort ook met die Universiteit van Namibië), en ons wil heel graag Unisa ook nog meer betrek, want Unisa het die grootste departement met die meeste personeellede in die hele Suid-Afrika op die gebied van Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap.

Lees ook 

Om Afrika te verbeel: Brugfuncties van Breytenbach en Gorée Instituut

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top