- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
.................
"Om eiendomsregte eenvoudig van buite te verander, is nie ’n eenvoudige oplossing nie, omdat dit die endogene proses ignoreer waardeur eiendomsregte tot stand gekom het en in stand gehou word. Tegnologiese skokke sou egter wel die status quo kon ontwrig."
.................
In die vroeë oggendmis van die Transkei staan Mlungisi op sy beskeie stukkie sandgrond. Sy mielies sukkel om te groei en sy gereedskap is oud en verslete. Hy werk onverpoosd, met die hoop om genoeg te oes om sy gesin te voed én, as hy gelukkig is, ’n bietjie ekstra te verkoop op ’n verafgeleë mark.
’n Paar faktore tel egter nie in sy guns nie. Aangesien die mieliesaad al vir geslagte lank in sy familie is en dus nie wetenskaplik ontwikkel is vir produktiwiteit nie, lewer sy oeste min opbrengs. Sonder behoorlike besproeiing of kunsmis is sy oeste onvoorspelbaar en afhanklik van die wispelturigheid van die weer. Selfs al kon hy ’n surplus produseer, bly dit ’n uitdaging om sy mielies by die mark te kry – die verspoelde grondpaaie is ná groot reën onbegaanbaar en vervoerkoste vreet aan sy reeds skraal winsmarges.
Boonop besit Mlungisi nie die grond waarop hy boer nie. Soos sy bure, het hy slegs gebruiksregte, toegestaan deur die tradisionele stamhoof wat as bewaarder van die gemeenskaplike grond optree. Hierdie wyse van grondbesit is buigsaam en diep gewortel in Xhosa-gebruike en verweef in netwerke van vertroue. Dit maak sin in ’n plek waar ekonomiese risiko hoog is en sosiale samehorigheid noodsaaklik is. Dit is egter ook ’n stelsel wat Mlungisi se vermoë om uit bestaansboerdery te ontsnap, kniehalter. Sonder formele eienaarskap kan hy nie sy grond as sekuriteit vir ’n lening gebruik nie. Hy kan nie in nuwe gereedskap of saad met hoër produksiewaarde belê nie. Sy grondregte bied sekuriteit, maar perk hom ook in.
Dít is nie net Mlungisi se verhaal nie; dit is die realiteit vir miljoene bestaansboere in die Transkei en verskeie ander voormalige tuislande in Suid-Afrika, waar ’n derde van alle Suid-Afrikaners woon. En dit dien as ’n skerp herinnering aan hoe eiendomsregte – dikwels beskou as die grondslag van ekonomiese ontwikkeling – nie vaste of eksogene konsepte is nie.
Verlede maand het president Cyril Ramaphosa die Onteieningswetsontwerp onderteken. Dié Wet maak voorsiening dat die regering grond sonder vergoeding onder spesifieke voorwaardes kan onteien. Die ondertekening het weer fel debatte oor grondbesit, ekonomiese geregtigheid en beleggingssekerheid laat opvlam en het sowel plaaslik as internasionaal aandag getrek. Internasionale figure soos die Amerikaanse president Donald Trump en Elon Musk het gewaarsku oor die ekonomiese gevolge en dit met Zimbabwe se grondhervormings vergelyk. Tog is hierdie wetsontwerp vir miljoene bestaansboere soos Mlungisi ver verwyderd van die daaglikse werklikhede van boer op gemeenskaplike grond, waar die afwesigheid van formele eiendomsregte (en nie grondonteiening nie) die grootste hindernis tot ekonomiese mobiliteit bly.
Hierdie gaping tussen hoëprofieldebatte oor grondhervorming en die strukturele realiteite van gemeenskaplike grondbesit beklemtoon ’n dieper waarheid: Grondregte is nie vas nie, maar word gevorm deur ekonomiese en tegnologiese toestande. Hulle ontwikkel in reaksie op veranderinge in produksie en marktoegang, eerder as om slegs deur wetgewing van buite bepaal te word.
Laat ek meer breedvoerig verduidelik: In ekonomiese teorie verteenwoordig die produksiemoontlikheidskromme (PMK) die maksimum produksie wat ’n samelewing met sy beskikbare hulpbronne en tegnologie kan bereik. Die PMK is egter nie staties nie; dit brei saam met innovasie uit. Instellings, en veral eiendomsregte, speel ’n sleutelrol in hierdie proses. Dít bepaal wie hulpbronne beheer, wie baat vind by die gebruik daarvan en watter aansporing innovasie en beleggings dryf.
Institusionele ekonome soos Douglass North het getoon dat grondregte ontwikkel in reaksie op ekonomiese beperkings en geleenthede. Veilige grondregte verlaag transaksiekoste, verminder onsekerheid en laat markte floreer. Hierdie regte word natuurlik nie in isolasie uitgedeel of toegepas nie. Openbare keuseteorie herinner ons daaraan dat institusionele verandering dikwels deur politieke belange, magstryde en die selfbelang van die elite bemiddel word. Dit is hoekom grondregte dikwels endogeen is – dit reageer op veranderinge in die ekonomiese omgewing, maar word ook gevorm deur die verspreiding van mag en hulpbronne.
In die Transkei, waar marktoegang swak is en oeste klein, maak die gemeenskaplike grondbesitstelsel ekonomies en polities sin. Dit bied sekuriteit te midde van risiko, bewaar sosiale samehorigheid en versterk die gesag van tradisionele leiers. Maar hierdie stelsel beperk ook ekonomiese groei deur beleggings en spesialisasie te ontmoedig. ’n Tegnologiese skok, soos beter infrastruktuur of hoërproduksiegewasse, kan hierdie ewewig ontwrig, die PMK uitbrei en ’n nuwe eiendomsregstelsel aanmoedig wat surplusproduksie prioritiseer. Die Groen Revolusie is ’n goeie voorbeeld wat juis toon hoe hierdie gegewens kan uitspeel.
Die Groen Revolusie verwys na ’n tegnologiese omwenteling wat landbou in groot dele van Asië en Latyns-Amerika in die twintigste eeu verander het. Hoëropbrengs-gewasvariëteite, chemiese kunsmis en verbeterde besproeiing het produktiwiteit dramaties verhoog, die PMK het uitgebrei en landelike ekonomieë hervorm. Die skok was aanvanklik tegnologies, maar dit het verrykende institusionele gevolge gehad. Soos die ekonomiese moontlikhede van landbou uitgebrei het, het die sisteme en konvensies wat eiendomsregte bepaal en dus grond en arbeid reguleer, ook gewysig.
Voor die Groen Revolusie in Indië was die meeste boere daar aan ’n semi-feodale stelsel onderworpe, waar hulle uitgebuit is en ongunstige deelpagooreenkomste gegeld het. Hierdie stelsels het innovasie versmoor en belegging ontmoedig, net soos in vandag se voormalige tuislande. Hoëproduksiegewasse het kapitaalintensiewe insette vereis, soos kunsmis, besproeiing en masjinerie, maar boere met huurpagte het nie die sekuriteit gehad om sulke beleggings te maak nie. Die Groen Revolusie het tot ’n radikale omwenteling gelei. Soos produktiwiteit die hoogte ingeskiet het, het politieke druk vir grondhervorming toegeneem. In streke soos Punjab en Wes-Bengale is grond herverdeel, groot landgoedere opgebreek en kleinboere groter sekerheid oor grondbesit gegee. Dit het boere in staat gestel om nuwe tegnologieë te toets en die PMK verder uit te brei. Tog was die proses ongelyk: In streke waar grondeienaars politieke mag behou het, moontlik waar die tegnologiese skok nie groot genoeg was nie of waar tradisionele grondeienaars tegnologiese vooruitgang kon dwarsboom, het hervormings gesloer, en het die voordele van die Groen Revolusie hoofsaaklik by die rykes gebly.
In Pakistan is die impak van die Groen Revolusie op eiendomsregte gevorm deur diepgevestigde ongelykhede. Magtige grondeienaars het die politieke stelsel beheer en was ook die primêre begunstigdes van die nuwe tegnologieë. Hulle het die kapitaal gehad om in hoëproduksiegewasse, gesubsidieerde kunsmis en meganisasie te belê. Die boere wat grond gehuur het, daarenteen, is dikwels uitgesluit van hierdie winste, aangesien hulle nie toegang tot krediet en insette gehad het nie. Die gevolg was ’n versterking van bestaande eiendomsregstelsels, met groot grondeienaars wat hul oorheersing oor landelike ekonomieë gekonsolideer het. Hier het die PMK wel uitgebrei, maar die politieke ekonomie het die transformerende potensiaal daarvan beperk.
In Mexiko is die institusionele impak van die Groen Revolusie bemiddel deur die sogenaamde ejido-sisteem, wat gemeenskaplike grond aan kleinboere toegeken het. Hierdie stelsel het ’n mate van sekuriteit oor grondbesit gebied, wat boere daartoe in staat gestel het om nuwe tegnologieë te verken sonder om bande met tradisionele gesagstrukture te verbreek. Hoewel die ejido-stelsel uitdagings gehad het – korrupsie, ondoeltreffendheid en weerstand teen grondherverdeling – toon dit steeds hoe eiendomsregte kan aanpas om ekonomiese innovasie met sosiale kohesie te balanseer.
Watter lesse is daar vir die Transkei hieruit te leer? Soos Indië, Pakistan en Mexiko voor die Groen Revolusie, het die Transkei ekonomiese beperkings wat sy huidige eiendomsregstelsel rasioneel maak. Gemeenskaplike grondbesit bied sekuriteit teen risiko en versterk tradisionele gesag, veral in gebiede waar staatsondersteuning dikwels gebrekkig is. Hierdie stelsel beperk egter ook die streek se ekonomiese potensiaal deur beleggings in produktiwiteit te verhinder. Boere soos Mlungisi kan nie in hoëropbrengsgewasse of nuwe tegnologie belê nie en hul toegang tot markte bly uiters beperk.
Om eiendomsregte eenvoudig van buite te verander, is nie ’n eenvoudige oplossing nie, omdat dit die endogene proses ignoreer waardeur eiendomsregte tot stand gekom het en in stand gehou word. Tegnologiese skokke sou egter wel die status quo kon ontwrig. In die voormalige tuislande van Suid-Afrika kan verbeterde infrastruktuur wat landelike dorpe met markte verbind, asook die bekendstelling van hoë-opbrengs-gewasvariëteite, byvoorbeeld, as sulke katalisators dien. Hierdie veranderinge sou aansporings vir surplusproduksie kon skep, wat moontlik tot ’n hersiening van eiendomsregte sou aanwakker.
Daar is wel, soos altyd, risiko’s. Beleggings in infrastruktuur loop die gevaar om wit olifante te word – soos baie daarvan onder apartheid geword het – indien aanvullende dienste en volgehoue ekonomiese aktiwiteit nie volg nie. Verder, soos in Indië, Pakistan en Mexiko getoon is, bepaal die politieke elite dikwels hoe die voordele van sulke veranderinge versprei word, soms deur surplusse in te palm en breër hervormings te onderdruk. Verskuiwings in ekonomiese vraag moet ooreenstem met aanbodfaktore, soos die bereidwilligheid van die elite om eiendomsregstelsels aan te pas by nuwe ekonomiese realiteite. In Suid-Afrika kompliseer die alliansie tussen die ANC en tradisionele leiers sake verder, aangesien hierdie verhouding die instandhouding van die status quo in gemeenskaplike grondbesitstelsels aanmoedig en beleggings in nuwe tegnologieë ontmoedig.
Daarom is dit onwaarskynlik dat die tipe grondhervorming wat Mlungisi nodig het van die regering sal kom. Groot spronge in tegnologie en infrastruktuur is nodig om vraag na nuwe grondregte te skep. Ware verandering verg die ontwrigting wat innovasie bring, om tradisionele gesag met moderne landbou te belyn.