Eerste Kanna in die sak vir nuweling van Die Meermin-kompleks

  • 0

Robbie is vas oortuig hy is ’n borrel. Die dorp verdink hom van ’n meermin wees. Albei is ewe uit plek met die Calvinistiese oortuigings van die verlate kusdorpie, Draadbaai. Robbie probeer maar net sy plek tussen die grond en die see vind, maar sy emosionele reis word onderbreek deur die onheilspellende duikers met hul meerminjagte, sy vader wat hom probeer “regmaak”, pastoor Ursula se duistere agenda en sy kwynende geestestoestand wat aan ’n boogie board hang.

Dít is Die Meermin-kompleks, geskryf en opgevoer deur Du Toit Albertze by vanjaar se KKNK uitkampteater, waarvoor hy onlangs die Kanna-toekenning “beste opkomende kunstenaar” ontvang het. Nie net loop Du Toit weg met sy eerste Kanna nie, dié talentvolle nuweling is ook in die kategorieë “beste uitkampteater” en “teks” benoem.

En nes talle ander nuwelinge in die bedryf skroom hy nie om “mure af te breek” met sy teater nie.

Du Toit glo immers in die mag van Suid-Afrikaanse teater. Dit is broeiend, broeis en broos, soos hy dit stel.

Du Toit, baie geluk met jou Kanna-toekenning vir “beste opkomende kunstenaar”. Wat beteken hierdie Kanna vir jou?

Baie dankie Marli! Die toekenning wys vir my dat daar hoop is vir mense wat in die “ander” boksie geplaas word. Dat die ongehoordes ook ’n stem kan hê, en dat mense begin bereid word om regte stories te hoor en nie net stories wat gekondisioneer is as die waarheid nie. Hopelik hoor kinders en baie ander mense dit en voel dat daar ’n plek is vir hulle wat nie inpas in die wêreld se idee van “normaal” wees nie.

Du Toit Albertze in aksie gedurende Die Meermin-kompleks (Foto: Jeremeo le Cordeur, Vulture Photography)

Du Toit, jy is ook in die kategorieë “beste uitkampteater” en “teks” benoem. Wat beteken dié benoemings vir jou?

Marli, ek sal graag vir jou wil sê dat hierdie benoemings is waaroor ek al van kleintyd gedroom het elke keer as ek ’n koerant of Huisgenoot saam met my ma-hulle gelees het, maar pryse is die laaste ding waarom ons moet doen wat ons doen. Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek is moerse dankbaar. Veral omdat mense ’n slag begin luister na die stories wat ek al vir so lank probeer vertel. Dis juis waarom ek teater maak (god weet, nie vir geld nie!), sodat ek stories kan vertel van verlore mense wat net probeer sin maak van die werklikheid en gehoor wil word, om ’n stem te gee aan dié wie s’n gesteel is, soos Little Mermaid s’n.

Waaroor gaan Die Meermin-kompleks en hoe het jy met die konsep van die teks vorendag gekom?

Dit is ’n grootwordstorie oor ’n seun wat van kleins af vertel is dat hy ’n borrel is wat gebore is uit die mond van ’n meermin. Dit word dan ’n tipe wond wat hom volg sy lewe lank. Om te oorleef in die dorp waar hy bly, ontsnap hy al hoe meer na hierdie fabelagtige oorsprong wat sy pa vir hom geskets het. Dus speel die storie die heeltyd af tussen realiteit en fantasie. Word hy ’n meermin of word hy ’n man?

Op die vraag oor hoe die konsep ontwikkel het: Ek het dit voorgestel as ’n toneelstuk verlede jaar in my kreatiewe skryfklas by die US-Dramadepartement. Dit was eers ’n aweregse kabaret oor die obsessie met reinheid in die Afrikanerkultuur en het in ’n DVD-winkel afgespeel. Toe stoei ek en my skryfdosent, Malan Steyn, om uit te figure hoe hierdie konsep kan werk. Hy het my bly peper met vrae. Ek moes elke keer dieper gaan. Meer menslik. Toe, uiteindelik, begin skryf ek in ’n styl wat ek ken, poësie, en tóé begin vorm die storie.

Watter uitdagings is daar verbonde aan die skryf van ’n toneelstuk?

Jong, om te skryf vat baie energie en verbeelding, en dinge word gewoonlik vir ons so maklik gemaak met sosiale media en Netflix en Google wat net alles vir ons aanbied op ’n goue skinkbord. Skryf verg egter meer inspanning as om net te click, scroll en like. Dus moes ek my verbeelding weer soos kleintyd gebruik. Die protagonis in Die Meermin kompleks is vasgevang in ’n tipe kindkompleks, dus moes ek ontslae raak van my ek-weet-alles-en-alles-suck-mentaliteit. Ek het begin skryf oor drome: in kuierplekke, in tuine, by die strand, op die toilet, in parke, drie-uur in die oggend, oral. Net sodat ek my verbeelding aktief kon hou. Ook sodat ek meer essensies van menslike sintuie en ervarings kon inneem.

Van waar die idee van die simboliek oor water, die see en meerminne in die toneelstuk?

Van kleins af was ek obsessief oor meerminne. Ek het poppe gehad, sakdoeke gebruik om meerminne te maak en natuurlik alles gekyk wat daaroor gaan. Ek het ook nog altyd ’n sterk konneksie met die see gehad. Ek het op 11-jarige ouderdom amper verdrink by Mosselbaai en dit was ’n gebeurtenis wat nog altyd by my gebly het. Ek het dan ook seker ’n komplekse verhouding met water. Baie bewus van die gevaar daarvan, maar ook hoogs gefassineer daarmee. My ma het ook al vandat ek kan onthou, groot respek vir Ingrid Jonker se werk en sy het gereeld vir my vanaf ’n jong ouderdom van haar werk (wat veral handel oor water) voorgelees. Die storie van Robbie in Die Meermin-kompleks het baie parallelle met my eie lewe en dus was dit vir my amper vanselfsprekend om hierdie metafoor in te sluit.

Watter temas spreek jy aan in die toneelstuk en hoekom juis dié temas?

Geestesgesondheid is nogal ’n tema wat by min mense al opgekom het as hulle die produksie kyk, wat vir my verrassend is. Hulle dink heel moontlik dat dit normaal is op ’n verhoog vir ’n karakter om hom seediere en meerminne te verbeel. Hierdie taktiek is een wat ek inkorporeer het wat die protagonis uitoefen as hy in traumatiese situasies beland. Ons almal het maniere om trauma te verwerk en syne is om te ontsnap na ’n ander wêreld in sy kop. Die grootste temas naas hierdie is dan sekerlik die ondersoek na die Victoriaanse ideale oor kindwees, Calvinistiese Afrikanerskap en die snykant daarvan, sowel as gaydiskriminasie, wat nou nog sigbaar is – veral in townships met die corrective rape van nieheteroseksuele persone. Om te begin by die Victoriane: ek was totaal stomgeslaan toe ek begin oplees oor die verhouding tussen seksuele ontwikkeling van kinders en kultuur. Die Victoriane het veral kinders gelos met swaar letsels oor sonde as gevolg van penile rings, chastity belts en grusame operasies. Dit was vir my belaglik, tog het iets in my dit verbind aan die “sonde-skuld”-gevoel wat deur konserwatiewe Christenskap vir my geleer is. Om nou terug te dink: ek het skuldig gevoel as ek styf geword het. Iets so menslik en biologies het ek gekoppel aan sonde. Nog meer toe ek besef ek hou van dieselfde geslag. Hierdie skuldgevoel en andersheid word dan ook veral deur die berugte Gretha Wiid aangevuur in haar fokken boekies. Kinders moenie so voel nie. Volwassenes moenie so voel nie. En dis wat ek deur hierdie play probeer sê – dis oukei om anders te wees. Anders is jou normaal. Ons hoef nie vir altyd skuldig te voel net omdat ’n tannie met ’n aaklige haarstyl so sê in Lyfslim-boekies nie!

Waar kry jy jou inspirasie vir jou skryfwerk?

Ek werk op die oomblik baie uit myself uit. Ek hou dagboek en probeer die wortels vind wat ek iewers verloor het toe ek Stellenbosch toe gekom het. Baie mense sal seker sê dat dit ongesond is om te krap en jouself as bron van kreatiwiteit te benut, maar dis deel van my journey op die oomblik. Na ons produksie Kommapunt wat by die Woordfees gespeel het (en oor die geselskap se ervarings met depressie handel) moes ek begin ongemaklike vrae vir myself vra en begin introspeksie doen oor my eie traumas, lewensbesluite en pad vorentoe. Dus as 'n tipe healing gebruik ek my skryfwerk om die lewe vir myself uit te figure.

Uitkampteater, ’n KKNK-inisiatief waar ’n paar 20-minuut-produksies elk in ’n tentjie in die buitelug opgevoer word, is oorspronklik geskep om nuwelinge ’n platform te gee waar hulle blootstelling met hulle werk kan kry. Wat is jou opinie oor die KKNK se uitkampteater – dink jy dis ’n goeie inisiatief?

Uitkampteater 2018 was die grootste uitdaging wat ek al ooit gehad het. Ek was my eie baas. Net ek. Elke dag in en uit daai tentjie. Besig om die malste goed aan te vang om gehoorlede te lok. Besig om my teks en spel te verfyn plus uitvee, kos kry, laptop charge, sound check, ligte check … Dit was baie. Na vele shows het ek net inmekaar gesak en begin bid of mediteer of net myself herinner hoekom ek doen wat ek doen en vir wie ek dit doen.

Die Meermin-kompleks is een van Kunste Onbeperk se 2018 Teksmark-tekste. Wat presies beteken dit? Wat hou die toekoms vir die toneelstuk in?

Dit beteken dat die toneelstuk finansiële en kreatiewe ondersteuning gaan kry vir 2019 en as ’n vollengte-toneelstuk by die US Woordfees en KKNK aangebied gaan word. Daar sal mentorskap gebied word sowel as finansiële bystand gegee word sodat die stuk tot sy volle reg geskep en opgevoer kan word. Dit gee my nogal hoop dat my dramagraad nie verniet was nie.

Du Toit Albertze in Die Meermin-kompleks (Foto: Jeremeo le Cordeur, Vulture Photography)

Dink jy daar is ’n toekoms vir die jeug in Suid-Afrika wat ’n loopbaan in die kunste wil volg?

Ek sal altyd, al is ek hoe somber of pessimisties, glo in teater, en veral Suid-Afrikaanse teater. Dit is broeiend, broeis en broos. Daar is soveel jong kunstenaars wat waaghalsig en kreatief geniaal is, soos Jason Jacobs, Philip Rademeyer, Herschelle Benjiman, Amee Leekas, Ameera Conrad, Des-lee McKenzie, Dara Beth, Andrico Goosen, Klara van Wyk, Lwanda Sindaphi, Llandi Beeslaar,  Stephren Saayman en NRNNSA se mense (om net ’n paar te noem) wat skokgolwe deur teaters stuur op die oomblik. Hierdie is mense wat klein teaters laat gons. Hulle skryf, direct, doen uitkampteater, neem deel aan Teksmark, neem teater na gemeenskappe, gebruik social media, doen vernuwende werk, lewer sosiale kommentaar. Hulle is skerper as studentekoerante en hulle kan selfs goed soos Die Burger ore aansit as dit by nuus kom. Hierdie jong teatermakers krap stories oop wat grense verskuif. Hulle grawe wortels oop. Dís wat ek ook wil doen, en as ek na hulle werk kyk, weet ek ek’s nie alleen nie.

Is dit belangrik dat teater grense moet verskuif en die sogenaamde norme in die samelewing moet uitdaag?

Dis vanselfsprekend dat daar verandering moet kom. Ek sal wel eerder die woord “mure” gebruik as “grense”. Ek dink ons moet begin om meer mure af te breek. Gehoorlede en kunstenaars het albei te veel daarvan. Hoe gouer ons die ongemaklike vrae en veral vrees vir mekaar uit die pad kan kry, hoe beter!

Du Toit, wat hou die toekoms vir jou in?

O hel, seker net my honneurs suksesvol afhandel dié jaar. Volgende jaar hopelik uit Stellenbosch kom. Minder drama van die verhoog af. En my volgende toneelstuk, Klipkoningin, wat afspeel in my grootworddorp, Springbok in die Namakwaland, aan die gang kry.


 

Du Toit Albertze is tans besig met sy honneurs in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy spesialiseer in regie.

Die Meermin-kompleks is ’n eenmantoneelstuk met Du Toit Albertze as Robbie. Die teks is deur Du Toit geskryf en Wessel Pretorius het die regie behartig.

Die Meermin-kompleks word tans in ’n vollengte-toneelstuk omskep en sal volgende jaar by die US Woordfees en KKNK te sien wees.

Die wenners van die Kannas is op 13 Mei in Kaapstad bekend gemaak. Die Kannapaneel is vanjaar deur Mareli Stolp aangevoer. Die ander lede was Aidan Erasmus, Amelda Brand, Diane de Beer, Laetitia Pople, Rafiek Mammon, Retha Bornmann, Thami Mbongo en Tracey Saunders.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top