
Edgar Morin by die Le Livre sur la place-literêre fees in 2024 (Foto: Gérald Garitan, eie werk via WikiMedia CC BY-SA 4.0)
Sedert die afsterwe van Edgar Morin in Mei 2026 dink ek weer terug aan toe hy in Julie 2021 100 jaar oud geword het. Die Franse president, wat nie ’n vreemdeling vir filosowe en filosofie is nie (op ’n stadium ’n assistent vir Paul Ricoeur), het hom in sy presidensiële paleis onthaal en ’n boeiende rede gelewer, en Morin het ewe boeiend geantwoord. By die geleentheid het Macron na hom verwys as “die eeu-man”, of “die man van die eeu”. Wat ons nie moet vergeet nie, is dat daar in hierdie eeu nóg ’n filosoof, ook ’n eeu-man, was wat meer as 100 jaar oud geword het: Hans-Georg Gadamer.
Hoewel ek dit bedink het om ’n huldeblyk oor hom te skrywe, het ek dit ná heelwat aantekeninge maar laat vaar met die gedagte: Wie sou tog in denke belangstel. Mense het deesdae ander belange en belangstellings.
Tog het die deurlopende raserigheid tussen teïste en ateïste met die wesenlike probleem van ideologismes wat steeds voortwoeker, my weer laat dink. Die geraas tussen teïste, ateïste en ander -iste het my laat besef hoe blinde intelligensie (ander Franse denkers skryf oor domheid, of selfs stommiteit of dwaasheid – bêtise) die debatte tussen -isme-houers dikteer en die behoefte aan goeie denke laat blyk. So ook die hedendaagse obsessie met kunsmatige intelligensie: Moet dit bestuur word of kan dit selfstandig wees of word, en hoe raak dit menslike intelligensie?
Ek het weer besef in watter mate Morin se klem op goeie denke (wat hy van Pascal gekry het), en die inspirasie daartoe in hierdie konteks, tog belangrik kan wees. Dit mag selfs ook tot ondersteuning en inspirasie dien vir diegene wat kla dat hulle studente nie dink nie.
Miskien het ’n huldeblyk aan hierdie denker en sy kwaliteit van denke tog iets in hierdie tyd te sê – ’n soort “stuiwer in die armbeurs”, die beurs vir armoedige denkers.
Met hierdie doel in die gedagte het ek weer na my aantekeninge gekyk, en veral die afgelope dae na sy formidabele boek oor Idees wat ek in 1991 van hom ontvang het en wat hy tydens ’n ontmoeting in 1992 plegtig met ’n mooi boodskap onderteken het. Vir my is dit een van die mees spesiale en kosbare boeke van hom in my besit – en daar is heelwat. Terwyl ek hierdeur vasgevang is en opnuut deur die rykdom aan insigte geboei is, het die nuutste, en vir my die mooiste (en ook die laaste waarvan ek weet) boek van hom verskyn toe hy 96 jaar oud was, naamlik Connaissance, ignorance, mystère.
Daarna het nog heelparty van sy artikels verskyn; die laaste wat onder my aandag gekom het was toe hy byna 103 jaar oud was wat in die Franse dagblad, Le Monde van 22 Januarie 2024 verskyn het met die titel “Die vooruitgang in kennis het gelei tot die agteruitgang in denke”, so gepas vir die fokus van sy oeuvre. Hierdie agteruitgang in denke, ondanks die kennis, lei tot die matelose verval, ellende en disaffektiwiteit wat in samelewings wêreldwyd heers, hopeloosheid wat aan die orde is, die wrede oorloë wat dreig om al groter afmetings aan te neem en die moontlikheid van wat hy algehele “katastrofisme” noem wat ook al deur verskeie ander denkers beklemtoon is. Sy antwoord hierop is glashelder op ’n enkelblad: ontwaking van die geestelike; die klem op liefde (eros) eerder as op stryd (polemos) en die dood (thanatos).
Wat maak hom tussen soveel ander vriende en mentors so intens belangrik?
Ek was bevoorreg om veral twee boeke van hom persoonlik te ontvang: “Inleiding tot komplekse denke” en “Idees” (as deel van sy baie besonderse Metodereeks). In hierdie boek het hy my bewus gemaak van die belangrikheid van menslike geestelikheid. Ek het reeds enkele jare gelede ’n artikel hieroor geskryf, maar die belangstelling daarin was so power dat ek aangeneem het dat dit nie ’n tema van belang kan wees nie. Sy bespreking van die noösfeer en noölogie (die sfeer van die gees en idees en die logika van die gees en idees) is so oortuigend en geartikuleerd meevoerend dat dit ’n mens nie ongedeerd laat nie. Dit is so diep deel van menswees in die volle sin van die woord. Terselfdertyd het hy my op ’n heel besondere manier bewus gemaak van die belangrikheid van goeie denke, wat ook komplekse denke is, teenoor die ellende en gevare van die teendeel, wat hy “blinde intelligensie” noem. Aangesien hy in Mei vanjaar in die ouderdom van byna 105 oorlede is, voel ek genoodsaak om aan hom by wyse van ’n huldeblyk eer te bewys.
Luisterryke resensies
’n Besinning oor “goeie denke” en presies wat hy daarmee kan bedoel, kan moontlik die kern uitmaak van ’n huldeblyk aan hierdie gesiene en invloedryke intellektueel. Om hierdie ideaal te verwesenlik kan moontlik hopelik al die debatte verhef en ook niedenkers aanspoor en inspireer; ’n heel ander vlak as aftakelende, venynige en beledigende styl van baie deelnemers hieraan.
Beide Le Monde (2011), toe hy 90 geword het (“Die roetebeskrywing van ’n denker sonder grense”), en Sciences Humaines (2013 ) (“Die avontuur van ’n denker”) het op verskillende tye spesiale uitgawes aan Edgar Morin gewy waarin hierdie meesterskap van denke besing is. Van ’n enkel dissiplinêre fokus op sosiologie na ’n inter- en transdissiplinêre oorskryding van grense (hy dink deur, verby en buite-om dissiplines – vandaar ook die artikel oor Morin: die ongedissiplineerde denker, miskien selfs ondissiplineerbare denker, want hy is altyd in opstand, in verset, weerstandig teen elke moontlike vorm van “blinde intelligensie”. Dit beteken geensins ’n onverantwoordelike denker nie, maar wel ’n denker met min respek vir die dissiplinêre grense van die hedendaagse akademie. Hy is weerstandig op die gebied van kennis. Hy spot met die kapel, wantrou die dissiplinêre keurslyf (juk) wat “afvalliges” in afskortinge plaas en vervolgsugtig is oor diesulkes. Omdat hy nie te vinde is vir dissiplinêre grense nie en in sy denke grensoorskrydend bly, is hy inderdaad “ongedissiplineerd” tot by sy uiteindelike fokus op komposisionele en poëtiese denke. Selfs in sy vroeë twintigs (tydens die Tweede Wêreldoorlog) was hy ’n aktiewe leiersfiguur in die Franse weerstandsbeweging. Verskeie publikasies demonstreer hierdie wydlopige fokus, veral ook die Metodereeks van ses volumes (natuur van die natuur, lewe van die lewe, kennis van kennis, idees (noösfeer en noölogie), menslikheid van die menslike en die etiek), met besondere klem op “goeie denke”, illustreer hierdie fokus oorvloediglik. Met “ongedissiplineerd” word die onderskeid beklemtoon tussen filosofie en die filosofiese wat eg filosofiese dogmatisering beklemtoon en die aanhang van groot filosowe tot filosofiese voorwaarde maak wat meesal met professionele filosowe gebeur, teenoor dit wat laasgenoemde beklemtoon as die denkaktiwiteit wat eie is aan elke mens en ook deur almal ontwikkel en gevoed moet word.
Goeie denke: “Werk daaraan om goed te dink”
Dit is sy motto! In sy boek oor etiek, volume 6 van die formidabele Metodereeks van ses boeke, het hy ’n hoofstuk oor die etiek van denke geskrywe. Sy vertrekpunt was die gedagte van Blaise Pascal: Werk daaraan om goed te dink; dit is die beginsel van moraliteit. “Goeie denke” is dus die kern.
Die belangrike vraag is nou: Wat is goeie denke?
Kom ons begin met “slegte denke”.
Slegte denke (mal-penser)
Om mee te begin: Dit is presies sy bedoeling met “blinde intelligensie”. In sy etiek bespreek hy ook “mal-penser”, slegte denke. ’n Samevatting van die twee kan ons help in die rigting van goeie denke. In sy werk van 2008, On complexity, kom die bespreking van “blinde intelligensie” pertinent na vore. Dit word getipeer as die patologie van kenning. Waarop kom dit neer? Op die volgende: “Ons word oorheers deur die beginsels van disjunksie, reduksie en abstraksie. Saam vorm hulle dit wat ek die paradigma van vereenvoudiging noem. (Bachelard: “Onthou, die eenvoudige is altyd die vereenvoudigde!) Hierdie paradigma het die avontuur van Westerse denke oorheers ... Dit het ongetwyfeld groot vooruitgang in wetenskaplike kennis en filosofiese besinning moontlik gemaak. Die uiteindelike skadelike gevolge daarvan het eers in die 20ste eeu duidelik begin word. … Hierdie kennis het sy strengheid noodwendig op … meting en berekening gebou. Maar wiskundige formulering en formalisering het wesens en dinge toenemend uitmekaargeskeur … Op hierdie manier beland ons by blinde intelligensie. Blinde intelligensie vernietig eenhede en totaliteite. Dit isoleer objekte van hul omgewings. Terwyl die media massa-onkunde voortbring, bring universiteite hoëgraadse onkunde voort ... Ons beweeg af op ’n ongekende transformasie van kennis ... Ongelukkig eis hierdie verminkende, eendimensionele visie ’n wrede tol van menslike verskynsels. Die verminking verwond vlees, vergiet bloed en versprei lyding.”)
Wat werklik vereis word, is “komplekse wete, omdat strategie hom afspeel deur te werk met en teen onsekerheid, toeval en die veelvuldige spel van interaksies en terugwerkings”.
Wat volgens hom werklik verstaan moet word, is dat verminkende gedagtes noodwendig lei tot verminkende dade. My doel is om bewustheid te verhoog van die hedendaagse patologie van denke, die moderne patologie van die gees, die patologie van idees, die patologie van teorie, die patologie van die rede (rasionalisering). Hierdie blindheid is deel van ons barbaarsheid.
Slegs komplekse denke sal ons toelaat om ons kennis beskaafd te maak.
Die bespreking van slegte denke, wat ook met “kwade denke” vertaal kan word (miskien nader aan korrek vanweë al die verdraaiinge van ideologieë), in die etiek kan, aanvullend hiertoe, so saamgevat word:
Die pakkettering, kompartementalisering, atomisering van kennis maak dit onmoontlik om die geheel te sien, skep ’n onvermoë daartoe en is geheel en al onvermoënd om oor probleme te dink. Hul kan effektief wees om materiële objekte te oorheers, energie te beheer en selfs die lewende te manipuleer. Dog dit kan nie menslike werklikhede leer ken nie, is te stiksienig daarvoor, en word so ’n bedreiging vir die toekoms van die mens.
Goeie denke
Hierteenoor behels die werk aan goeie denke die volgende: Verwerp afsonderlike dissiplines en werk meerdissiplinêr en transdissiplinêr. Gaan verby reduksionismes en omarm meervoudigheid in die eenheid; erken blindheid of illusie van menslike gees; erken menslike kompleksiteit, dat die individu sapiens en demens is, prosaïes en poëties, een- en meervoudig. Het ’n gevoel vir die planetêre. Die kern van die werk aan goeie denke is om die barbaarsheid van die gees te weerstaan en te troef.
In die etiek van denke maak hy verskeie stellings oor die werk daaraan om goed te dink. Die kern hiervan lyk so: Verwerp geslote dissiplines en soek na ’n meerdissiplinêre of transdissiplinêre kennis; kry ’n metode wat gepas is vir komplekse denke; erken die magte van verblinding en die illusies van die menslike gees; erken menslike kompleksiteit: sapiens/demens; werkend/mitologies; ekonomies/spelend; prosaïes/poëties; een-/meervoudig. Gedwonge om die planetêre era te aanvaar en dienooreenkomstig etiek te bedryf en te bevorder. Die komplekse epistemologie laat ’n komplekse antropologie toe wat weer ’n voorwaarde is vir ’n komplekse etiek. Wat sig integreer in ’n gespe waar elke term noodsaaklik is vir die ander. Dieselfde imperatief verbind komplekse epistemologie, komplekse antropologie en komplekse etiek ten einde die barbaarsheid van gees te konfronteer. Die intelligensie is helder met ’n behoefte daaraan om verhelder te word deur die moraal. Die moraal is helder, soms ekstrahelder, in weerstandigheid teen die barbaarse moontlikhede van die gees.
Hy illustreer hierdie uitdaging tot goeie denke met ’n meesterlike tafereel van presies dit.
’n Meesterlike tafereel van denke: Verdienstelike punte/moment/perspektiewe
In hierdie reeks word elke moontlike reël en rigiede voorskrif van die metodologiehandboeke wat universiteitsbiblioteke oorspoel deurbreek en oortree en selfs leeg en onsinnig gemaak. Ook in ander publikasies blyk dieselfde oorskrydings en weerstandige aksente prominent soos komplekse denke, wetenskap met gewete, kennis, onkunde en misterie, liefde, poësie en wysheid, beskawingsvernuwing, Europese kultuur en onbeskaafdheid (barbarie), lewensverandering en -vernuwing. Alles tesame illustreer ’n bewonderenswaardige, nieafwykende beklemtoning van die sterk aanbevole werk aan goeie denke as die beginsel van moraliteit.
Wat moontlik gepas sal wees om hulde aan hierdie besondere denker te bring is om enkele van sy spesiale verdienstelike punte uit te sonder en in sy eie woorde weer te gee wat hy daarmee in gedagte het.
Die volgende is die sake wat my oor die afgelope jare besonder beïndruk het.
Paradigmatologie
Paradigmas kontroleer die diskoerse, die logika, en die redenering. ’n Paradigma selekteer die fundamentele konsepte en die meesterkategorieë van die diskoers, logika en redenering, en bepaal die tipes logiese operasies om effek te hê tussen hierdie konsepte en kategorieë:
Hierdie definisie van die paradigma is terselfdertyd van ’n semantiese, logiese en ideo-logiese karakter. Semanties bepaal die paradigma die begryplikheid en gee dit sin; logikagewys bepaal dit die meesterlogiese operasies; ideo-logiesgewys is dit die eerste beginsel van assosiasie, eliminasie, seleksie, wat die voorwaardes van die organisasie van idees bepaal. Dit is danksy hierdie driedubbele skeppende en organisatoriese sin dat die paradigma (oriënteer, regeer, kontroleer) die organisasie van individuele redenerings, en die stelsels van idees wat hulle gehoorsaam behels (in “Idees”).
Intellektualiteit: blinde intelligensie
Die patologie van gees, van teorie, van denke, van intelligensie bring blinde intelligensie mee, wat ook domheid genoem kan word. Elke vorm van ’n -isme, en die denke wemel daarvan, is die gevolg van blinde intelligensie – ’n vorm van patologie selfs onder sogenaamde groot geeste.
Taal en wetenskap
Die lewe in taal is uitermate aktief in sowel wetenskap as poësie. Menslike taal, op ’n lewende wyse georganiseer, bring na vore die lewe van die gees en die lewe van idees waarsonder nóg wetenskap nóg poësie kan floreer. Geen wonder poëtiese denke en poëtiese lewe is sulke prominente sake in sy denke nie.
Wetenskap met gewete
Morin sluit aan by Rabelais wat geskryf het: “Wetenskap sonder gewete ruïneer slegs die siel” wanneer hy beklemtoon dat wetenskap sonder gewete, omdat dit feite en waardes, subjek en objek skei, afgesny is van moraliteit en filosofie; omdat dit sig losmaak van samelewing en kultuur, geïsoleer is van samelewing en kultuur, open dit ’n kloof tussen natuurwetenskap en geesteswetenskap, onbewus van die mag van lewe en dood wat dit skep; blind vir sy mag om diensbaar te maak en te manipuleer (veral tegnowetenskap) is wetenskap nie in staat daartoe om sigself te bedink en nie in staat om sy eie kompleksiteit te bedink nie.
“Wetenskap met gewete” is ’n manifes vir ’n niegemutileerde wetenskap, ’n wetenskap wat in staat is daartoe om oor sigself te besin en selfkritiek toe te pas, bewus van sy rol in die samelewing, bewus van sy manipuleringsmag en wat selfs die mensheid in die geheel bedreig. Wetenskap is kompleks omdat dit onskeibaar is van die historiese en sosiale konteks daarvan.
Hierdie benadering tot wetenskap is bepalend vir sy sesvolumereeks oor “Die Metode”. Ons kan dus ’n meer dramatiese verskuiwing in denke oor metode verwag by hom as by die deursneemetodehandboeke wat ons oral aantref en ons navorsing bepaal.
Lewenshervorming
In ’n vroeëre onderhoud (toe hy 92 was) oor “lewenshervorming” as die groot uitdaging aan die hedendaagse mensdom is hy gevra op watter beginsels hierdie “kuns van die lewe” sou kon berus. Sy antwoord: Die idee van “lewenskuns” is nie nuut nie. Indiese, Chinese en Oud-Griekse filosowe het hulle aan navorsing hieroor toegewy. (Jammer hy laat die Oud-Joodse denkers weg, want hulle rol was nie minder noemenswaardig nie – die Psalms, so lyk dit my, is ook al in die vyfde eeu voor ons huidige jaartelling geskep.) Hierdie idee bied sigself hedendaags op ’n nuwe manier aan ons beskawing, wat gekenmerk word deur industrialisasie, verstedeliking, ontwikkeling, en die oorheersende van die kwantitatiewe.
Die hedendaagse aspirasie vir ’n lewenskuns is in die eerste plek ’n suiwerende reaksie op ons beskawing se kwade foci, wat op die meganisering van die lewe, op hiperspesialisasie, op chronometrisering aangewys is. Die veralgemening van kwaad-syn, so verstaan in die skoot van materiële wel-syn, ontlok ook in reaksie ’n behoefte gelyktydig aan innerlike vrede, aan volheid, aan ontluiking; dit wil sê ’n aspirasie vir ’n “ware lewe” hang van misterie af. Misterie is soos die daimonion, binne en buite ons, wat ons beset en ons lei/stuur na dwaashede, opwindinge en ekstases.
Dit stimuleer en versterk die poëtiese gevoel van die bestaan … Lewe ter wille van lewe behels die moontlikheid om die keuse te maak om poëties te lewe. (Uit sy Connaissance, ignorance, mystère – kennis, onkunde, misterie – gepubliseer in 2017 toe hy 96 jaar oud was.)
Hierdie goeie lewe is gebaseer op sekere beginsels: die voorkeur vir kwaliteit teenoor kwantiteit, vir syn in plaas van besit (om te hê), die behoefte aan outonomie en gemeenskap wat geassosieer moet word, die poëtiek van die lewe, en laastens liefde, wat ons waarde is, maar ook ons hoogste waarheid. Hierdie lewenshervorming sal ons ook daartoe lei om uitdrukking te gee aan die virtuele rykdomme wat eie is aan elke menslike wese.
Aanvullend hiertoe word hy gevra of hierdie lewenshervorming nie bloot ’n oefening is in willekeurige eenvoudigheid nie. Nooi dit ons ook uit tot die herbetowering van bestaanswyses? Hy antwoord: Ja, maar nie sonder om die besef te hê van die onmoontlikheid om in ’n permanente staat van saligheid te lewe nie. Ons menslike kondisie veronderstel ’n alternering tussen ’n “prosaïese staat” en ’n “poëtiese staat” wat die twee polariteite van ons lewens is. Die prosaïese staat stem ooreen met ons verpligte aktiwiteite en belemmeringe wat hulle aan ons opdring. Die poëtiese staat stem ooreen met die momente van skeppendheid, feestelikheid, dialoog, deelneming en liefde. Die twee volg mekaar op en verwar mekaar in die alledaagse lewe: sonder prosa of poësie. Dit is ydel om te hoop dat ’n betowerde lewe of ’n poëtiese staat permanent sal wees. So ’n lewe eindig deur sigself smaakloos te maak. Ons is uitgelewer aan die komplementariteit en die alternering van poësie en prosa.
In ’n ander verband word dieselfde gedagte besonder interessant belig: die kuns van Rothko soos bespreek deur Baal-Teshuba in Rothko (1903–1970). In die inleidende hoofstuk, “Pictures as drama”, se slotparagraaf (bl 17) lees ons die volgende diep treffende gedagtes:
To Rothko, the trademark “mature” paintings, the ones that became synonymous with his name, went beyond pure abstraction. Rothko, for whom “tragic experience is the only source book for art”, tried to make his paintings into experiences of tragedy and ecstasy as the basic conditions of existence. The aim of his life’s work was to express the essence of the universal human drama.
So ervaar ’n mens die waarnemende inname van en oorgawe aan sy aangrypende skilderye. En sy beskrywing klop met Morin se opmerking oor lewenshervorming.
Etiese fokus
Hy het my bewus gemaak van Blaise Pascal se gedagte dat goeie denke die kern is van moraliteit, maar ook van menswees (Pensees 1965, ble 115–6, parr 346-348).
Naas die bondige oorsig oor sy etiek mag dit sin maak om die kern daarvan hier weer te gee wat goed pas by ons benadering. Hy skryf oor “etiese finaliteit” die volgende:
Om menslik te lewe is om volledig die drie dimensies van menslike identiteit te aanvaar: individuele identiteit, sosiale identiteit en antropologiese identiteit. Dit kom veral daarop neer om die lewe poëties te lewe. Om poëties te lewe, soos ons gesien het, beteken “ons kom aan om te begin by die drumpel van intensiteit in deelname, opwinding, plesier. Hierdie toestand kan oorleef in die verhouding met ander, in die kommunikatiewe verhoudings, en in estetiese verhoudings …”
Dit oorleef as vreugde, vervoering, uitgelatenheid, genieting, wulpsheid, genot, vurigheid, fassinering, saligheid, verwondering, verering, gemeenskap, entoesiasme, verheffing en ekstase. Diesulkes verkry liggaamlike en geestelike salighede. Dit laat ons ’n heilige staat bereik: Die heilige is ’n sentiment wat verskyn by die hoogtepunt van etiek en poëtiek. “Die toppunt van poësie, soos die toppunt in die vereniging van wysheid en dwaasheid, soos die toppunt van die verhouding, is die liefde.” Dan gaan hy voort in aansluiting hierby oor die “etiese geloof”:
Die etiese geloof is die liefde. Daar is ’n etiese verpligting wat rasionaliteit aan die hart van liefde beskerm. Liefde en rasionaliteit is altyd oor en weer verbonde en bevat altyd mekaar op ’n oorspronklike wyse. Hierdie liefde leer ons om die wreedheid van die wêreld te weerstaan, en leer ons om hierdie wêreld te aanvaar of te weier. Liefde is ook moed. Dit laat ons toe om te lewe te midde van onsekerheid en onrus. Dit is die geneesmiddel teen angs, dit is die antwoord op die dood, dit bied die troos … Laat ons veral sê: Alle liefde is medisyne. (Morin 2004:231)
Hierdie samevatting laat ons dink aan ons kerngedagte: etosverwesenliking: om tuis te raak, tuis te maak, tuis te wees, en dit, om aan te sluit by ’n kommentator, Robin Fortin (2008), oor Morin se werk, “ondanks Rousseau se opmerking: “Om te lewe is die heel moeilikste aangeleentheid.” Dit is die geval veral in die lig van die feit dat die kwaad bestaan, onkunde bestaan, egoïsme bestaan, en dit alles is permanent teenwoordig. Dit is moeilik indien nie onmoontlik nie om in die lig hiervan ooit tuis te raak, te word of te wees in die wêreld. Ons is konstant gekonfronteer met die moeilikheid om te lewe, sonder einde gekonfronteer met die wreedheid van ander, die wreedheid van die wêreld. Die etiese kan nie die probleem van die kwaad oplos nie, maar kan ons wel help om dit te reduseer. Die kwaad is verwant aan ons menslike toestand (ons eindigheid, wat van ons onvolwasse wesens maak – sapiens en demens, wys en dwaas. “Dit is onmoontlik om ons daarvan los te maak, maar dit is nodig om alles in werking te stel ten einde die triomf daarvan te vermy” (Fortin 2008:242).
Oor geweld van die wêreld: Dit lê vir hom aan die hart van die planetêre krisis. Hy bly altyd gefokus op die planetêre – dit gaan in sy denke deurentyd om die hele mensdom!
Hierbenewens behoort ’n mens nog klem te lê op sy insig en eerlike gevoeligheid vir die kompleksiteit van denke, die roerende bespreking van noölogie en die noösfeer as die wêreld van idees, die Europese kultuur en barbaarsheid, die tyd wat gekom het om die beskawing te verander, die probleem van “krisologie” wat oral en altyd na vore kom en dus ondersoek moet word.
Apokalips: Hoewel sy denke telkens, miskien deurgaans, in die rigting van die apokaliptiese beweeg, gebruik hy sover my kennis strek nooit die term nie. Tog raak sy insigte deurentyd daaraan.
Fasette van goeie denke
Hierbenewens kan ek probeer om sy gedagtes oor goeie denke uit sy volle oeuvre te illustreer. Dit kan dien as ’n norm vir elke denker. Dit is ook ’n besliste verset teen blinde intelligensie / slegte denke.
- Eerlike denke: Sy boek oor Europese kultuur en onbeskaafdheid (barbarie) getuig hiervan. Dit laat ’n mens dink aan Nietzsche se eerlikheid van denke in “Every morning” in die artikel oor Habermas waarby Derrida aangesluit het.
- Gewetevolle denke: Wetenskap met gewete. Dit oorskry uitgediende denke.
- Waagmoedige denke: Dit is tyd om ’n nuwe beskawing te skep.
- Komplekse denke: Dit is inter- en transdissiplinêre denke, kontemplatiewe denke (kennis, onkunde, misterie). Ook omvattende denke! Die geheel is dit waaroor dit uiteindelik gaan. Niks is eenvoudig nie!
- Inspirerende denke: Dit spoor aan. Noölogie en noösfeer en die lewende taal.
- Ongedissiplineerde (ondissiplineerbare?) denke: Nie aan bande gelê of gevange gehou deur enige -ismes nie.
- Poëtiese denke: Nie slegs vir professionele digters nie. Hiperpoëties, naas hiperprosaïes (kyk sy boek Amour, poésie, sagesse oor liefde, poësie, wysheid van 1997). Prosaïste kan ook komposisioneel-poëties met taal omgaan wat prosa poëties laat oorkom! (Freud, Levi-Strauss, Heidegger, Morin)
- Terapeutiese, hoopvolle denke: Kyk na die artikel in Science humaine oor lewensverandering! Ook oor etiese denke en die patologie van kenning wat vra na ’n terapie.
- Ametodiese denke: Die hele formidabele Metodereeks van ses dele getuig hiervan. Metode is beperkend en verblindend.
- Inventiewe denke: Die nuwe, die oorspronklike, die verrassende. Maar dit kom slegs deur komposisionele en poëtiese denke met ’n volslae gevoeligheid vir die wonder van taal.
Inventiewe denke: ’n moontlike versamelnaam
Hiermee het ons die toppunt van uitnemende denke bereik!
Het ons nie te veel denkwyses nie? Kan party met ander geïntegreer word? Of het ons te doen met een goeie denke met tien disposisies? Is dit nie maar die manier waarop goeie denke sig manifesteer nie? Dan sus dan so? Miskien tien disposisies of fasette van dieselfde denke. Michel Serres se “meervoudige konnektiewe intelleksie” in sy Passage Nord-Ouest en Mary Midgley se fokus op “Een akwarium, baie vensters en die begrip Gaia” (Science and poetry, 237–49) sal hierdie gedagte hartlik en vrugbaar ondersteun!
Miskien is komposisionele denke die antwoord. Vergelyk ook Stiegler se klem op komposisionele denke in sy werk Acting out. Soos ’n simfonie kan die verskillende disposisies verskillende aksente en plekke inneem, maar almal bly gesog en geldig; die beklemtoning mag verskil … dan meer inventief, en ander weer meer terapeuties of kompleks. Meervoudige denke sou ook ’n term kon wees. Die kersie op die koek: poëtiese denke – dit is waar taal in die volheid daarvan die denke oorneem, inspireer en bevrug tot spesiale vermoëns! ’n Treffende voorbeeld van komposisionele denke kry ons van Morin self in ’n heel vroeë werk:
The direction of our thinking can be thought of as a parade review of the multidetermined character of knowledge. The latter always has determinations, which are individual, bio-anthropological, noological, ie linguistic, logical and ideological; sociocultural, and one should add other determinations which overlap the above, such as: psycho-analytical … These determinations, which coagulate and agglomerate in any field of knowledge, thought, inquiry are also in a certain way fundamentally related in a deep structure and that the Gordian knot of these multiple interrelations between various insistencies that govern knowledge also conceal an underlying nucleus.
Die res van sy werk bevestig op oormatige wyse hierdie komposisionele konfigurasie.
Die toets vir goeie denke
Wat is nou die toets vir goeie denke? Hoe mense lees, skrywe, gesprek voer (praat en luister) verraai hul kwaliteit van denke. Vir sover die gesketste fasette van goeie denke weerklank en uitdrukking vind binne lees-, skryf- en gesprekshandelinge, het ons met goeie denke te doen. Namate lees-, skryf- en gesprekshandelinge komposisionele momente weerspieël en selfs by poëtiese vernuftigheid aanland, kan waarlik goeie denke bespeur word. Deur Morin se oeuvre deeglik te betrag vind ’n mens uitmuntende, onmiskenbare en veral inspirerende voorbeelde van wat in hierdie huldeblyk ter sprake is.
- Emeritus professor CS (Fanie) de Beer, Departement Inligtingkunde, Universiteit van Suid-Afrika
Delf in die LitNet-argief:
APJ Roux en CS De Beer. Onderweg na goeie wetenskap. Ewekniebeoordeling: betroubare weegskaal of vyfde wiel aan die wa?
LitNet Akademies-onderhoud: Melodie Nöthling Slabbert gesels met Fanie de Beer en Braam Roux oor ewekniebeoordeling
Lees ook:
Onderweg na goeie wetenskap 2: Die funksie van strategie, visie en beleid
Onderweg na goeie wetenskap 3: Voorwaardes vir die beste moontlike wetenskap

