Braam Roux en Fanie de Beer reageer op Wieland Gevers/Susan Veldsman en Melodie Nöthling Slabbert se reaksies op hulle artikel “Onderweg na goeie wetenskap 2: Die funksie van strategie, visie en beleid” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling.
In die gewaardeerde reaksies op ons artikel “Onderweg na goeie wetenskap: Die funksie van strategie, visie en beleid” het twee perspektiewe uitgekom: een wat met beleidmaking te make het (alhoewel dié “party” ook “ontvanger(s)” is), en een van ’n beleiduitvoerder (’n universiteitsdosent). Die invalshoeke en die gesprekspunte wat geopper word, verskil dus. Veldsman en Gevers maak punte oor beleidmaking, -formulering en -toepassing en stel die posisie van ’n instelling soos die Akademie daarin. Melodie Nöthling Slabbert spits haar toe op praktiese uitwerkinge van die beleid, die negatiewe effek op ons land se universiteitswese. Waar Nöthling Slabbert dus met ons saamstem (eintlik ’n noodsaaklike uitbreiding van ons betoog aanbied) en ons artikel moontlik as ’n prikkel tot verandering sien, is Veldsman en Gevers waarderend daaroor omdat dit ’n noodsaaklike debat kan aanhelp, maar meen tog dat Boer die hoenderhok eers deeglik moet nagaan; dis dalk deur Jakkals ontwerp. Ons doel was om ’n noodsaaklike, diepgaande gesprek oor wetenskap en wetenskaplike denke in die land op dreef te kry. Dat hierdie gespreksgenote ons daarmee help, word op prys gestel. Die aard van die reaksies noop ons om aan elkeen afsonderlike aandag te gee.
A. Gevers en Veldsman
1. Ons het op die tekste gefokus en nie op die outeurs, ander betrokkenes, belange, belangebalans en werkwyses nie. Wat ons gelees het, het by ons sekere vrae en bekommernisse laat ontstaan. Dit is interessant om te weet hoe die Assosiasie saamgestel is en te werk gaan, en gerusstellend om te weet dat u ernstig is om van onder na bo, met deelname deur betrokkenes, te werk. Miskien sal meer en groter vertroue in die geledere “ondertoe”, soos vakverenigings, die bedoeling beter laat deurkom.
2. Verpolitisering en sentralisering is inderdaad kommerwekkend, maar nie van sentrale belang nie (soos ons met ons opskrifte probeer aantoon het). Dit raak nie soseer wetenskaplike denke nie, en dis waar ons eintlike bekommernis lê. Die probleem met sentralisering is dat mag betrokke is, en mag en die aanwending van mag het ’n invloed op wetenskap. Wat die politiek egter aanbetref: ons ontken nie die belangrikheid daarvan nie. Ons meen egter dat wat die wetenskaplike se aandag behoort te vra, breër en dieper as stembus-politiek behoort te gaan: oor landspolitiek, en antwoorde op die algemene vrae oor hoe ons behoort te leef, hoe ons regeer behoort te word, en wat burgerskap in wese beteken. Ons oordeel dat verskeie stellings in die geskrifte wat ons bespreek het, nie aan hierdie kriterium voldoen nie, en wetenskaplikes te vinnig tot ’n politieke posisie verbind. ’n Deel van die beswaar teen ons is dat sentimente soos in die dokument uitgespreek, as waardes wyd (selfs algemeen) aanvaar word. Maar in watter opsig dien die sentimente goeie wetenskap? Verder, as sosiale waardes spesiaal in ’n dokument bedoel vir wetenskaplikes vermeld en aangeprys word, maar ander, en veral wetenskaplike waardes, onvermeld bly, watter indruk van wat waardevol en minder waardevol is, skep dit en hoe beïnvloed dit rangordening en uiteindelike wetenskaplike keuses, en keuses oor wetenskaplike dissiplines? Verder, mag wetenskaplikes in en deur ’n sentrale beleid tot buitewetenskaplike waardes verbind word?
3. Heelwat meer belangrike sake wat ons vermeld het, is aangestip as sake wat eweneens gedekonstrueer kan en moet word. In die soeke na insig en waarheid kan ’n voorkeurposisie nie geduld word nie. Ons stel ons geensins met enige van ons vrae bo sodanige dekonstruksie nie. Oor-en-weer-dekonstruksie is juis wat nodig is en wat ons gehoop het om aan te moedig indien ons betekenisvol vooruit wil beweeg.
4. Ons ontken nêrens die verbande tussen wetenskap, tegniek en ekonomie nie, en eweneens ook nie die belangrikheid van oorspronklikheid nie. Die paragrawe waarin hierdie sake bespreek word, is duidelik genoeg. Ons dink wel dat die verbande veel meer problematies is as wat aangedui of erken word. Die problematisering daarvan en vrae daaroor moet juis help om by so ’n dieper begrip van die verbande en verskynsels, wat geensins vanselfsprekend is nie, uit te kom. Ons sal nog wil byvoeg dat die toenemende druk op navorsingsuitsette (“publish or perish”) en enige vorm van gewaarborgde oorspronklikheid onversoenbaar met mekaar is.
5. Die gesag en voorskriftelikheid van ’n bepaalde groep of assosiasie waarna oënskynlik, volgens die teks, gesoek of daarin veronderstel word, kwel ons. Ons lees in die “Besluite en Aanbevelings” die volgende:
Recommendation 5: That ASSAf be mandated jointly by the Departments of Education and Science and Technology to carry out external peer review and associated quality audit of all South African research journals in 5 year cycles,
Recommendation 7: That a consortium of agencies be asked by the Department of Science and Technology to form a virtual “national research publications information and research centre”, probably best overseen by the Academy of Science of South Africa ...
Ons mag verkeerd wees, maar is oortuig daarvan dat die betekenis van hierdie aanbevelings in verband met sentralisering en magsuitoefening vanself spreek, en dit het ons verontrus. Dit klink of daar selfs bokant die “bo-na-onder”-hiërargie beweeg wil word. Indien die opmerking in hulle antwoord dat lesers hulle eers op die hoogte moet bring van “menige huidige elemente van die program” voordat hulle oordeel, die uitskakeling van genoemde houding insluit, is ons dankbaar.
Dit skep nie die vertroue wat die skrywers voorgee om te ontwikkel en te behou nie. Ons kan nie maar blindelings vertrou nie; vandaar ons vrae en kwellinge. Dit verklaar ook ons houding teenoor neergelegde beleid. Formulering van beleid is nie ’n dissipline-saak nie, maar spreke oor wetenskapsbeoefening, -bestuur en -administrasie gaan buite-om dissiplines. As sodanig speel lewens- en wêreldbeskouing, opinies oor wetenskappe, politieke menings en dergelike beskouings ’n rol. Dit het dus te make met argumentering, opweeg en uitsorteer van aanvaardings, pogings om ander se houdinge te peil, ensovoorts. Outoriteit is nie van belang nie en bespreking die roete om te gaan.
6. Die drie sentimente waarna verwys word (vooruitgang, voordeel vir almal, deelnemende beleidmaking) as algemeen aanvaarde sake en waarteen ons ook nie beswaar sou wou maak nie, klink inderdaad mooi. Ons vrae daaroor is nie aanklagte nie, maar bloot vrae soos wat dit oor dekades heen deur ingeligte intellektuele gemeenskappe gevra is – en dan nie om die mooiklinkendheid te verongeluk nie, maar om saam te soek na die beste definisies, werkswyses, visies, strategieë en beleid om sukses daarmee te verseker. Ons is nog nie deur die suksesverhale in hierdie verband oorweldig nie, en tog is dit waarna ons almal wel soek, ideologies of idealisties gedrewe of nie.
7. Mag ons ’n ander voorbeeld noem – transformasie. ’n Aanname dat Suid-Afrika ’n getransformeerde samelewing is, geld in ’n sekere opsig wel, maar in ’n baie beslissende opsig of opsigte geheel en al nie. Getalletransformasie, soos nou weer met die gedagte van gedwonge verskuiwing van bruin mense opgeduik het, was in ’n mate suksesvol. Diepgaande gesindheidstransformasie het egter nie gematerialiseer nie en ons is veel verder daarvan verwyder as ooit. Boonop word dit nie doelgerig en berekend en met dieselfde drif as die ander bevorder nie, selfs wanneer dit wel genoem word. Hiertoe , sê ons, moet die wetenskaplike denke ook bydra. Ons moenie slegs die transformasiekonsep soos dit deur die politiek van die dag gedefinieer word, as finaal aanvaar nie.
8. Dit sou interessant wees om te weet wat presies bedoel word met die frase “die taal-van-publikasies-kwessies, wat ’n ware globale kennisomgewing inhibeer”. Is dit inderdaad ’n kwessie? Indien wel, vir wie? Ons hoop van harte nie dat dit sou neerkom op ’n aandring op die gebruik van slegs een taal of dat daar gesuggereer sou word dat die gebruik van slegs een taal al is wat die sogenaamde inhiberende effekte sal kan besweer nie. (Wie moet die taal kies?) Ons ervaring is die teenoorgestelde, naamlik dat vele tale verrykend en uitermate stimulerend kan wees eerder as inhiberend. Bowendien is daar ander dieperliggender kwessies wat inhiberend werk, soos ons hoop om in ons volgende artikel aan te toon. Kyk ook na paragraaf 4, “Wat ontbreek in die dokumente?”.
9. Ons word in die laaste sin van die reaksie gevra dat ons ons artikel “moet regverdig in terme van hoe die diskursiewe wisselwerking van wetenskaplike idees ’n land op ’n praktiese manier in staat kan stel om sy hulpbronne oordeelkundig te gebruik tot voordeel van al sy burgers”. Dit is die wesenlike punt en so ’n wisselwerking is gebiedend. Dit is ook die oogmerk met ons artikels, omdat ons vas oortuig is dat die rigting van die beleidsdokumente hierdie lofwaardige ideaal allermins waarborg. Dit is presies waaroor die gesprek wyd gevoer moet word. Wat ons met artikel 3 in die vooruitsig stel, is juis om daardie sake wat stelselmatig oor ’n lang periode deur wetenskapsbeoefening agtergelaat is, weer na vore te bring en aan die orde te stel, omdat ons glo dat dit baie kan help indien ons hierdie saak met meer sukses wil probeer verwesenlik. Wat ons in artikel 4 in die vooruitsig stel, is om die gedagte van kollektiewe intelligensie en die vestiging van intellektuele gemeenskappe (sonder elitiste of elitistiese grootdoenerigheid en beterweterigheid en wat soveel as moontlik gewone burgers ter wille van hulle intelligensie ook sal betrek) te bepleit, waardeur ’n sinvolle konteks of kontekste geskep kan word om presies hierdie ideaal te probeer verwesenlik.
B. Nöthling-Slabbert
1. Sy maak beswaar teen die bedryf van universiteite as sake-instellings – ’n ou protes, maar tans word onnadenkend as vanselfsprekend aanvaar dat universiteite sake-instellings of eerder supermarkte is. Die verskuiwing is so oorweldigend dat geen ruimte bestaan vir die kritiese oorweging daarvan nie (vgl B Stiegler, “Malaise of our educational institutions” in Technics and Time, vol 3, 2011:131–56). Die vraag vir ons is wat hierdie verskuiwing vir goeie wetenskap doen. Die belangrike hier is dat die implikasies van die beleid wat uit haar uiteensetting blyk, ’n baie swart toekoms vir goeie wetenskap inhou.
2. Die bedryf van goeie wetenskap vereis die beskikbaarheid van goeie wetenskaplikes. Die opleiding van goeie wetenskaplikes is die taak van universiteite, maar die sakemodel vir universiteitsorganisasie, sowel as die manier waarop universiteitsnavorsing geadministreer word, ondermyn hierdie opleiding op baie maniere. Die massafikasie van universiteitsonderrig wat Nöthling-Slabbert skets en wat ’n uitvloeisel van die sakemodel is, skep ’n behoefte aan meer bedryfsfondse en die gevolglike druk op navorsingsuitsette as ’n inkomstebron, asook op besparings op onderrig. Dis duidelik dat dit ’n dramatiese invloed op onderrig moet hê. Dit word bemoeilik, vervlak en verskraal nie alleen deurdat groot klasse persoonlike kontak bemoeilik, studentedeelname uitskakel en vormende evaluering tot die minimum beperk nie, maar ook deurdat die komponent van studente wat nie die mas kan opkom nie, vergroot en dus ’n remming veroorsaak. Verder word dissiplines wat nie selfbetalend is nie, wat nie markwaarde het nie, uitgeskakel afgesien van akademiese waarde. Dít tesame met die pakketopleiding werk verskralend, beperk die denkhorison van studente en verskraal die verbande wat gelê en ondersoek kan word. Dit wil sê, die model het ’n effek op die ontwikkeling van wetenskaplike denke, wat ’n noodsaaklike deel van die opleiding van goeie wetenskaplikes moet uitmaak.
3. Voorts, die skeiding tussen opleiding en navorsing en die aparte befondsing van navorsing bring enersyds mee dat die idee van universiteitsonderrig as navorsingsgebaseerde onderrig verdwyn. Navorsing beteken nou dat iets nuuts ontdek moet word, verkieslik iets wat ’n markbehoefte bevredig. ’n Dosent wat ’n nuwe veld instudeer, is hiervolgens nie besig met navorsing nie. Gesien die druk op dosente, word hierdie soort selfverruiming, wat gewoonlik te make het met die verbetering, verruiming en verandering van leerplanne en leerstof, dus ontmoedig; standaardisering hiervan, gepaard met vaste gehaltekriteria en gehaltebeheer, is aan die orde van die dag. Deur ’n onderskeid te tref tussen navorsingsprofessore en andere, word die afsonderlikheid van die twee onderstreep. Leerstof en navorsing word nie meer gekoppel nie; onderrig as deel van die soektog na insig, verstaan en waarheid, waarby die jong, soepel, vraende geeste van studente betrek word, verdwyn; studente ervaar hulle dosente as onderwysers en nie as soekers na kennis en insig nie. Die klem op navorsingsuitsette bring mee dat opleidingstyd gesny word om meer tyd aan navorsing en die voorbereiding van publikasies te bestee terwyl hierdie uitsette meestal min met kwaliteit en wetenskap te doen het. Denkende onderrig bly ook hierdeur in die slag.
4. Kennisverwerwing, insigverwerwing en die deurdenking van sake neem tyd, enersyds om te leer, en andersyds om dit te deurdink, te bespreek, implikasies uit te werk en deurgaans toe te pas. Die stelsel maak nie vir hierdie tyd, wat ’n noodsaaklike deel van wetenskaplike ontwikkeling is, voorsiening nie.
Kortom, die strak storie wat Nöthling-Slabbert skets, is dat universiteitsonderrig nie bevorderend vir die ontwikkeling van wetenskaplike denke is nie. Dit beteken die uitkoms van die beleid moet wees dat die navorsingsgans wat nou die goue eiers moet lê, stelselmatig nek omgedraai word.
Ten slotte: ons het ons artikel afgesluit met sake wat ons in die bespreekte dokumente gemis het. Dit wil lyk of die punte waarop ons hier terugkom, juis daarmee verband hou. Een aspek wat ons beklemtoon het, is die gemis aan die erkenning van die geestelike dimensie, waarin ons dit ook oor denke gehad het, en die verskuiwing en vernouing van die siening van denke na berekenende denke. In hierdie antwoorde het ons telkens weer daarop teruggekom: wetenskap word deur navorsing verplaas, universiteite verander van karakter, en deur dit alles word die goeie bedoelings van die beplanners deur hulle eie produkte in die wiele gery, omdat oral met ’n te beperkte siening van die mens en die gees van die mens, insluitende menslike denke, gewerk word.
Moet dit as die gemis van ons eeu uitgewys word? Hobbes se toestand van “war of every man against every man” berus onder andere op berekenende denke, die uitdink van die gevare wat elke medemens vir jou inhou, hoe om dit te ontduik en jou eie bas deurgaans te red. Wat verander hierdie toestand? “... fear of death, desire of such things as are necessary to commodious living, and a hope by their industry to obtain them. And reason suggesteth convenient articles of peace, upon which men may be drawn to agreement” (Thomas Hobbes, “Leviathan”, in EA Burt (red), The English philosophers from Bacon to Mill, Modern Library: New York, 1939:162). Die volle geestelikheid van die mens maak gemeenskapslewe, die menslikheid van die mens, moontlik. Wetenskap en die behoefte daaraan kom juis hieruit voort en dit lei tot die universiteit. Die gemis hieraan is die kern van ons vrae en onrustigheid. Dit bly die geval.

