Duiwelsdrek en skoonveld

  • 0

Reynardt Roodt het die vorige nag sleg geslaap. Daar was deurentyd ’n swartvlerk-engelfiguur met ’n Ping-gholfstok in sy kamer. Haar swaaie was soos ’n voos bokser net voor die uitklophou.

Jan Mosia is vieruur daardie oggend per taxi uit Hammanskraal, sodat hy Reyn sesuur op die dryfbaan kan ontmoet om litte los te maak. Dis die klubkampioenskap-finaal van die Kloof-gholfklub. Reyn speel, Jan is sy sakdraer en amper-afrigter. Afslaantyd: Sewe-nul-sewe, eerste bof. Reyn het Jan sy rooi 1992-Nissanbakkie beloof as hy wen.

Reyn se opponent is Bert Swart, met sy caddie, Sylvestor.

“Dink jy dit gaan reën, Jan?” Reyn kyk suid-oos.

“Miskien later, nie nou nie.”

Die eerste bof is effens gelig met ’n praguitsig; vier sandkuile wat die skoonveld weerskante beskerm. Reyn kyk rondom hom – hulle het klaar geloot – Bert slaan eerste af. Hy is verbaas oor die aantal toeskouers wat opgedaag het, veelkleurig getooi en reeds rumoerig, al is dit vroegoggend. Drank is betrokke.

Reyn het ’n blou kortmouhemp en ’n wit langbroek aan, met donker skoene. Jan dra die klub se tradisionele blou oorpak met sy uitgetrapte swart skoene en windskeef pet. Bert is in volle pienk; swart halfmane spikkel sy kortbroek, beige skoene met kort sokkies. Sylvestor se keps is lemmetjiegroen; swart-en-geel-geruite hemp, groot GO voorop elke heldergeel skoen.

Dis by die derde gat waar die moeilikheid begin. Een van Bert se ondersteuners, Coert Ferreira, dra ’n plakkaat met die woorde: “Forecast – no Reyn today”, en is oproerig elke keer as Reyn ’n swakkerige hou speel. Reyn se maats kap terug met gepaste en ongepaste, soms gekruide taal; want magtag, die man het mos nie gholf-etiket nie! Veral Kort-Gert van der Merwe word al hoe rooier.

Die uitbarsting kom op die vyfde gat.

Met Reyn se terugswaai snork Coert hard, Reyn haak die bal buite perke. Gert probeer saam met twee ander fris boerseuns om vir Coert te gryp en hom in die dam te gooi, maar hy is te vinnig vir hulle. In elk geval moet hulle omdraai om hulle maats te kom help – die twee spanne ondersteuners het begin om handgemeen te raak.

Die skeidsregter gryp in, maar kan nie eintlik hond haaraf maak nie – spel word verdaag.

Intussen het die weer begin opsteek. Na ’n vertraging van ongeveer ’n uur, en streng vermaning van die skeidsregter, word die spel hervat. Nuus van die oggend se verloop versprei soos ’n veldbrand onder klublede, en bykans dubbel die aantal ondersteuners daag op – wie wil nou gholf speel as jy die toekomstige kampioen kan dophou?

Na nege gate is die spel gelyk. Daar word nie soos normaal van die halfweghuis gebruik gemaak nie – hierdie is oorlog – slegs die ondersteuners vul voorraad aan. Die meer beskaafdes – en die oueres – maak van die geriewe gebruik om die druk te verlig.

“Great drive, Reyn!” word opgevolg deur Jan met 'n sagter: “Ag nee, Mosimane!” na Reyn se tweede brouhou op die tiende se skoonveld.

Dan weer: “Gholfshot Bert,” was Sylvestor se aanmoediging: “Relax, ons het hulle!” op dieselfde gat.

So skoppelmaai dit, met Bert wat die oorhand begin kry, tot die bonatuurlike ingryp; die weerlig en die sirene flits en loei op dieselfde oomblik. Omdat hulle reeds tot by die veertiende putjie gevorder het, vind hulle skuiling in die grashut langs die lang silwer weerligafleier, terwyl die Hoëveldse donderstorm hom op die baan wreek. Die meeste toeskouers verdamp – sal later weer opvang – die tekort aan verversings op die baan laat hulle in elk geval geen ander keuse as om terug te keer klubhuis toe nie.

Dis hier in die grashut waar die spelers met mekaar begin praat. Reyn is moedeloos; drie gate af, vier om te speel; benard, om die minste te sê.

“Wat van koffie, Reyn?” Bert beduie na sy sak. Sylvestor haal ’n fles uit die gholfsak en begin om dit oop te skroef.

“Sal nie nee sê nie, dankie.” Reyn merk nie Jan se frons op nie. “Maar kry eers vir jouself.”

Nadat Bert sy koffie gedrink het, is Reyn meer gemaklik en vat die koppie gretig by Sylvestor. Dalk is boeretroos nou net die ware Jakob.

Soos met die meeste donderstorms hier rond, hou dit nie lank nie en na so twintig minute skitter die baan soos ’n blink munt in die nuwe son. Reyn is ’n ander mens. Op die vyftiende bof kan hy sien Sylvestor en Bert knik vir mekaar; dit skeel hom min.

Reyn kan fokus, sy bo-armspiere ontmoet sy bobene fisies in die midderif; sy kreatiewe denke omskep die moeilike vyftiende gat in ’n rekenaarspeletjie; sy gemoed lig met ’n drastiese kurwe. In sy kop kan hy die Beatles se Lucy in the sky with diamonds hoor pons – hy kan die suiwer smaak van pienk forel op sy tong proe. Dan volg die mees verruklike kleurverskuiwing van die omgewing in ’n helder kaleidoskoop van sy sluimerende self – vir ’n oomblik volmaak verstrengel met die heelal.

Na dié onderbreking, slaan Bert ’n swakkerige dryfhou; Reyn knetter die bal driehonderd meter ver, suiwer in die middel van die baan – die skrif is aan die muur – sy perspektief verskuif van baan-beperk tot ’n drie-dimensionele voëlvlug. Hy kan homself sien speel asof hy ’n arend bo die boomtoppe is – sy lewe in ’n triomftog ontbloot.

Met die laaste gat is die spel weer gelyk. Reyn sweet liggies, sy kakebene swaar op mekaar. Hy begin dink aan sy skooldae op Rustenburg en verloor normale kontak met tyd; hy voel hoe sy hart in sy borskas hamer, terwyl hy begin gaap, sonder moegheid. ’n Effense naarheid oorval hom.

“Kleinman?”

Jan is langs hom. Reyn dink vaagweg daaraan dat hy hom nog nooit so genoem het nie. Waar is sy kop dan nou?

“Jy moet regop loop Reynie, die duiwel is in jou bloed, nou moet jy my mooi hoor, vandag foeter ek jou met ’n sambok!” Hy gee hom die drie-yster.

“Nee Jan, gee my die drywer.” Jan roer nie.

Reyn slaan ’n kort, reguit hou, twee honderd meter in die agtiende gat se skoonveld. Bert slaan ’n goeie dryf, veertig meter verby Reyn. Reyn moet volg, honderd-en-negentig meter pen toe, opdraande.

Hy voel hoe paniek hom beetpak.

“Slaan weer die drie-yster.” Jan is beslis. Hierdie keer gaan Reyn hom nie laat voorsê nie. Vier-yster is genoeg, daar is ook nog adrenalien om mee rekening te hou.

Die skare rondom die agtiende setperk groei aan – rumoerige individualiste – in meer as twee groepe verdeel. Daar is Reyn-groepe en Bert-groepe, ’n anti-Bert-groep (anders as die pro-Reyn-groep), ’n groep wat nie weet watter kant om te kies nie, en toeskouers wat niks met die saak te doen het nie.

Reyn se poging met die vier-yster tref die bo-rand van die sandkuil voor die setperk, talm ’n oomblik en rol dan in stadige-aksie terug tot in die middel van die kuil, waar dit roerloos bly lê.

“Sjo!” Jan se skouers sak. Hy maak ’n gebaar in Reyn se rigting, trek dan sy lyf regop en stap verder.

Gelukkig slaan Bert ook ’n powere hou – dis nerves – soos Sylvestor hom betig. Hy is tien meter kort van die setperk; hy moet eerste speel. Hy chip die bal tot minder as ’n meter vanaf die pen. Sylvestor trippel op sy skoene, swaai dan sy heupe rond: Game over.

Reyn weet wat hy moet doen. Hy moet met een hou die bal tot in die gat, of tot bitter naby aan die pen slaan, anders is dit kaartjies, soos die Engelsman sal sê.

Die toeskouers is stil. Reyn loop regop, iets worstel in sy bloed – hy weet nie of dit die Goeie of die Slegte is nie – hy gaan maar net die bal slaan. Hy skrop soos ’n hoender in die sand, staan dan botstil en tref die sand onder die bal; die sandboog volg die bal se trajek. Die bal wip een keer, tref die middel van die pen en verdwyn in die gat.

Reyn kan nie veel daarna onthou nie. Hy weet hy is in die Kloof-kliniek opgeneem vir waarneming nadat hy oor sy wedervaringe met sy maats gepraat het. Sommiges wou Bert en Sylvestor vervolg omdat daar duidelike spore van angel tears in Reyn se bloed was, maar dis moeilik om te bewys. Hel man, wie sou nou soiets kon dink, dis immers ’n spogklub in die stad!

Die volgende oggend laai Jan sy eerste vrag grassooie in Hammanskraal af. Hy en sy vriende is besig met die aanlê van ’n nege-gaatjie-gholfbaan. Die rooi nissanbakkie is ’n staatmaker in die bouproses.

Lees ook

Dis nie oor die bike nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top