Dis nie oor die bike nie

  • 2

Voorloop

Maandagoggend: min of meer agtuur.

Samuel Botes sukkel by die Areyeng-bus se trappe af – nie gewoond aan die moonboot nie – sy kneukels brand met die vasvat aan die bus se staal-handreling. Hy struikel effens tot op die sypaadjie, en kyk links. Bauhiniabome is pienk-wit in blom, vierkantige beton-boomrame onder. Teer-laslap-parkeerterrein nog half leeg voor die strook-winkels.

Die windjie stoot van die suide; dis koud vir ’n laat Augustus-oggend, blykbaar sneeu op die Drakensberge.

Sam se kollegas, Bert en Mike, staan voor die winkel in hulle oranje baadjies en blou denims in die son. Bert rook. Mike se bene is wyd geplant, Bert hang aan een van die staalrakke voor die winkel: Essence Hardware & Tiles. Groen kruiwaens, charcoal en hout, rolle draad op ’n staander is reeds uitgepak op die sypaadjie. Die windjie dwarrel tabak-reuk in Sam se rigting.

Sam is laat.

“Waar de donner was jy?” Bert teug aan sy Camel. “Shove a brick, wat het gebeur?” Vier oë op die moonboot. “Moet nét nie vir my sê nie ... agge nee man, ek het jou mos ge-waarsku!”

Mike sê niks, kyk net. Bert plant sy stompie in die sandbak buite. Drie oranje-baadjies verdwyn deur die oop dubbel-glas-voordeur na binne. Daar is niemand in die winkel behalwe die kassier nie.

“Claudia, watch asseblief die till, ons kry koffie.” Bert waai agtertoe. “Kom Sam, spill the beans. Ek wil als weet.”

Die koffie se betervoel lig Sam. Hy kyk na die bekende rakke rondom hom. Vier oë gaan die waarheid uit hom pers.

Hy begin vertel.

Aanloop

Die moeilikheid het eintlik Vrydagaand na werk by die klub begin. Sam en sy vriende vat altyd ’n ietsie om die naweek mee te begin. Dis eintlik ’n bowls-klub, maar hulle verkoop dop (sonder ’n lisensie) om die plek te onderhou, of so sê hulle. Sam glo die barman, Pottie Schoonwinkel, pocket die meeste van die wins, of suip dit uit. Anyway, dis rumours.

Sam sit-lê op die ronde houtkroegstoel met sy rug na die toonbank, sy regter-elmboog op die kroeg; lang bene gekruis voor hom. Dis koud buite, maar louwarm-gesellig binne. Die plek ruik muf na hardekool, hardehout en mout. Hy hou die tweede bier in sy linkerhand vas, dit proe selfs beter as die eerste een.

“Ou Sammy, gaan jy ’n round koop?” Tos van Staden stoot sy goud-geringde linkerklou deur sy geel hare; kopkante regom kaal geskeer, zol in sy regterhand. Voorarms vol swart ink gepiets. Agter hom, nog ’n paar replikas; pêlle.

Sam ignoreer hom; sy maats speel pool by die hoektafel. Tos sal nie te veel moeilikheid soek nie, eintlik maar ’n banggat, altyd omring deur soortgelyke losers. Maar dis Vrydagaand, Tos kuier al van vroegmiddag af, hy is brawer as gewoonlik.

“Daar’s ’n rumour,” Tos lig sy hande en wys sy voortande vir sy aanhangers, “dat ’n sekere mommy’s-boy weer op ’n bike gaan klim!” Grynslagte en gesigte-trek van sy gehoor.

“Nevaa .., agterop ma se Suzuki!”

Gesamentlike bulderlag.

Bliksem! Koppe draai by die hoek-pooltafel. Snoekerstokke sak. Fris voorarms ontbloot as hempsmoue opgeskuif word. Hulle vorm ’n kring agter-om Tos en sy gespuis. Sam sit sy sit, gedagtes witwarm.

“VOETSEK!” Pottie se handpalms moker op die kroegtoonbank. “Gaan sort julle twak buite, of ek bel die cops!” Sy vet gesig bloedrooi, en dis nie net van kwaadgeit nie. Hy sál bel, hulle weet dit – sy broer is in die polisie – hy het dit al gedoen. “Vanaand slaap julle in die joint, so watch it!” Dik wysvinger voor.

Gemoedere kalmeer so vinnig soos traffic wanneer daar ’n blou-lig langs die freeway verskyn.

As Sam toe maar net sy mond gehou het, maar die vuur was in sy bloed.

“Voor julle loop, Tos,” Sam grinnik en kruis sy arms voor sy bors. “Deadright. Ek gaan die naweek saam met Sally Harties toe met my Harley. Breakfast run. Trust julle sal dit nie kan maak nie.”

Sam sien dis ’n kolskoot. Tos word spierwit.

“Jy los my girl hier uit, hoor jy my? Ek flippen lem jou!” Sy hande bewe as hy omswaai en kopskuddend saam met sy trawante deur-uit verdwyn.

Terug in Essence Hardware

Sam onderbreek sy vertelling as Bert sy gesig met sy hande toemaak; hy vloek gedemp: “Jy’s nie serious nie!”

“Dit kom nou van ’n gedrinkery.” Eerste woorde van Mike. “Gee nooit iets goed af nie.”

Sam kyk rondom hom. Daar’s nog niemand in die winkel nie. Vier oë wil verder weet.

“Ek kon myself net nie keer nie.” Sam vryf met sy linkerhand oor sy regterskouer. “Ek het julle mos vertel van die keer op hoërskool toe Tos my van my Honda afgestamp het, my skouer ge-dislocate. Nooit weer op ’n bike geklim nie.” Sam kyk weg.

“Anyway, toe praat ek my bek verby.”

Bert en Mike is eers stil.

“En toe?”

Saterdag

Dis vroegoggend. Sam word nie wakker nie, hy skrik wakker. Vrydagaand se gebeure sypel stadig terug. Wat de ongeluk het hy aangevang? En Sally ... o flip, o flip, ... Sally! Wat gaan sý sê? Tos het haar seker lankal ge-whatsapp. Jik, is hy nou in die dinges of wat!

Sam kon Sally nog nooit kleinkry nie. Hy weet sy kyk al lankal vir hom, van skooldae af, hy watch haar. Maar sy hou aan om met die luis van ’n Tos te flirt – hoekom weet hy nie.

Sally en haar ma bly langsaan; Sally run ’n beauty parlour uit die garage. Eintlik bly sy langs Sam se pa en ma, want Sam bly mos nou weer by sy ouers. Was eers uit, maar toe loop dinge skeef met sy en Johnnie Greeff se franchise. Van sy ma se erfgeld, gone – ag, aardse goed, het sy gesê.

Sam hoor Herrie blaf langsaan. Dis Sally se brak, ’n oranje en wit Beagle – hy kon glo nie heeltemaal die mas opkom by die polisiekollege se hondeskool nie. Sally se eks-boyfriend, Piet-cop, was op daardie stadium op kursus daar, en het haar toe met Herrie verras.

Sally se ma wou eers nie byt nie, maar het gou ge-marshmallow. Nou lê Herrie heeldag in die parlour en word meer slapstert – en dikker – by die dag.

Sally en Piet het blykbaar nog kontak. Girls darem!

Na koffie loer Sam by sy pa se werkswinkel in.

“Pa, ek het ’n serious probleem.”

Deesdae vra hy altyd eers – wel meesal – sy pa se raad as hy moeilikheid het. Verbasend hoe die outoppie bygekom het vandat Sam weer in die huis kom bly het.

Tools lê oral. Reuk van ghries, olie en oil cleaner in die lug. Sy pa lê onder die swart Harley Davidson; oil change voor môre se run. Ma se rooi Suzuki GSX 150 F is klaar gediens, staan gereed vir aksie: spotless.

“Shoot!” Sy pa rol onder die bike uit. “Wat’s fout?” Hy kyk na Sam.

Pa se onderkaak sak laer terwyl Sam bieg oor sy moeilikheid.

“Aitsa, en nou wil jy weer bike ry?” Sy pa frons diep, maar sy oë blink. Hy hou sy linkerhand voor sy mond.

“Ja Pa, maar daar’s nog Sally ook.” Sam voel sy gesig word warm, draai sy kop weg.

“Ek sê jou wat.” Sam se pa byt op sy onderlip. “Ek sal met Norman hier onder by die Blou-Bul-Bikeshop praat. Hulle het blykbaar ’n nuwe sidecar-Harley op promotion. Hy owe my.” Sam se pa aarsel. “En jy gaan in elk geval nie op ’n tweewielfiets klim voor baie later nie.” Dink ’n oomblik. “Toe, gaan praat nou met jou ma oor Sally – dáár’s ek op.”

Hy rol weer onder die Harley in. Sam hoor sy pa proes; moet die oliedampe wees.

“Dis nou fate, jou ou grootbek!” Sam se ma borrel van die lag. Voor hy haar kan keer druk sy hom styf teen haar vas. “Vergeet van Tos en gaan vra haar, ek is seker sy sal wil saamgaan. Haar ma sê sy lê anyway Sondae net en vrot voor die TV.” Sy loop na die buffet en haal ’n driehoekboks Toblerone uit die boonste rak. “Dê, vat die saam, sy’s mos mal oor tjoklits.”

Sam sukkel met die staalhekkie in die precast-muur tussen die twee erwe, kom dan deur en knip weer toe. Sy pa het kleintyd die hekkie ingesit sodat hy en Sally bymekaar kon speel sonder om in die straat hoef te kom. Hy gebruik die hekkie nou maar selde. Herrie het hom al met die eerste squeak gehoor – draf nader en begin blaf – spring teen hom op, krap sy bo-been velaf. Hy wil vloek, maar bedink hom. Sally se laaste kliënt is nou net weg. Sy lyk stunning, vol in pienk.

Sam sal sy woorde baie versigtig moet kies.

Sondag

Dis halfsewe en koud; die windjie sny.

Die Harley met die sidecar staan en prut. Wag eers, het sy pa gemaan, hy moet stadig warm word. Dit het Sam aan ander dinge laat dink. Hy wag nou al vyftien minute vir Sally en Herrie. Dit was die deal, sy kom net saam as Herrie ook kan. Please man, ’n brak op ’n breakfast run? Sam skud sy kop. Gelukkig kom sy pêlle nie saam nie, hulle slaap roes af.

Kom nou daarvan as jy jou bek verbypraat – hy het glo ’n groot jol gemis gisteraand. Maar sy pa was beslis.

“Half-elf kooi toe met jou, anders gaan die Harley terug stal toe.” Hy ken sy pa as hy so is, beter luister. “Ek sal nie toelaat dat jy met ’n lyf op die bike klim nie. Daar’s nog Sally ook ... no ways!” Hy het niks van Herrie gesê nie.

Die Harley is ’n pragstuk. Classic design in charcoal met goue aksente op die drop-handlebars, flywheel-cover en sidecar-modderskerm.

Sam het sy pa se ou swart bike-broek- en -baadjie aan. Dis effens te groot vir hom, so what. Die swart leer-handskoene is nuut; sy ma se geskenk, gisteraand. Swart valhelm met Harley-logo voor op. Op sig van die B-B-Bikeshop.

Sy pa-hulle is reeds weg.

“Julle moet maar op julle eie tyd aankom.” Sy pa was ongeduldig. “Ek gaan nie die squad by die garage laat wag nie.”

Die staalhekkie in die grensmuur kerm oop en toe. Sam se kop swaai – sy maag tol.

Sally het ’n skelgeel-Kill Bill-motorcycle-pakkie aan. Swart aksentstrepe langs haar arms en aan die sykante van haar bene, binne en buite. Swart valhelm sonder visor met geel goggles in haar linkerhand. Breë swart zip voor af, dun geel elmboog-covers aan beide kante, ook oor haar knieë-, en om haar bobene. Geel en swart tekkies.

Sy sit die valhelm op die sidecar neer en trek die ritssluiter tot bo. Haar blonde krulle maak sy met ’n geel rekkie vas wat om haar linkerpols was – bene effens van mekaar – vuiste op haar heupe. Sy kyk na hom.

“Hallo Sam. Koud né?” Stoom uit haar rooi mond. “Kom Herrie-skat, in met jou.”

Nou eers sien Sam vir Herrie. Ore hang; geel-wol dogsuit, noupassend, stert agter uit. Kop en ore oop. Duidelik nie op sy beste nie. Leiband om die nek.

Sally tel Herrie op en klim in die sidecar. Herrie op haar skoot, snoet bo. Sam maak die leiband om ’n rollbar vas.

“Hey Sam, is jy doof?” Sally draai haar kop na hom, vol-lip-glimlag. “Groet jy nie?”

“Sorrie, dis koud.” Hy sluk en sukkel met sy helm, brom van binne. “Jy lyk anders.” Hy trek die visor af sodat sy nie sy oë kan sien nie.

“Hoe anders?”

Hy antwoord nie; klim op die donkerbruin enkel-sitplek en trek stadig weg. Sy kop vol torre.

Die bike-squad is reeds weg toe hulle by die vulstasie aankom.

“Maak hom vol, en check alles.” Sam klim af en bid dat die joggie hom nie vra wat alles beteken nie. Sally en Herrie klim ook uit, gaan koffie soek – wil hy ook hê? Herrie dwing na die klein grasperkie langs die vulstasie, snuffel aan alles. Sally gee die leiband vir Sam en verdwyn na binne.

Sam merk twee greaseballs met grys oorpakke en donkerbrille in ’n clapped-out swart Toyota wat langs die Harley intrek. Tik op selfone, waai die pompman met ’n handgebaar weg, gooi nie petrol in nie. Weird.

Die koffie is koning, en Herrie toon nou tekens van sy ou self. Merk selfs kontant die Harley se voorwiel, voor hy in Sally se arms opgeraap word. Gelukkige klein blikskottel!

Die son is nou volrooi in die ooste. Die wind het effens bedaar en Noord-Oos gedraai. Sam stuur die Harley wes, rigting Hartbeespoortdam. Hy vat die ou pad, nie die tolpad nie, dink nie hulle laat bikes daar toe nie. Hy ry tagtig kilometer per uur – hoofligte vol aan – in die middel van die linkerbaan, soos sy pa gesê het. Gehawende taxis swaai hier en daar met knikkende-wiele voor hom in, stop sonder waarskuwing. Sam vloek binnensmonds, maar vermy handgebare.

Die gebrul van die kragtige masjien is in sy ore, die vibrasie van die groot fiets onder sy stert, son op sy rug, sexy-leerpop links. Herrie se flap-ore trek agter sy puntsnoet aan, sy voorpote op die voorkant van die kajuit.

Die dag lê uitgestrek voor hulle. Amper lekker.

Atteridgeville lê links; die heuwels dwing die teerpad in slingervorms. Hier en daar moet hulle by ’n kruising of ’n verkeerslig stop.

Dit het alles so vinnig gebeur.

Vier-rigting stop. Die swart Toyota sny voor hom in, probeer sy pad versper. Hy gee vet en brul regs verby. Gelukkig min verkeer op die pad. Stoot die Harley vinnig na 130 kilometer per uur, die swart kar probeer byhou. Sam hou die fiets kwalik onder beheer, veral om die draaie. Sally en Herrie verdwyn in die sidecar se binneruim.

’n Skerp draai in die pad dwing Sam stadiger, kyk in sy tru-spieëltjie. Motorfietse swerm soos sprinkane verby die swart Toyota – maak die gaping toe – vorm ’n halfmaan om die Harley. Hulle dwing hom om te stop.

Sam kook.

Tos van Staden stroop sy valhelm van sy kop af, skud sy boskaas heen en weer, stap nader, skrefies-oë op Sam. Sy makkers volg.

Daar is beweging in die sidecar. Herrie begin blaf en spring op, die leiband keer. Sally sit regop, klim dan uit. Sy draai weg. Sam sien uit die hoek van sy oog hoe haar vingers oor haar selfoon blits. Wat de ongeluk doen sy?

“And what have we here?” kondig Tos aan.

Niemand sê iets nie. Sam het nog nooit so gevoel nie. Daar is vuur in sy bors.

Tos kom reg voor hom staan. Sy bolip krul as hy praat.

Shame, jou flippen bozo, ek het jou gewarn, maar nee ... nee!” hoër stemtoon, “jy wil nie budge nie.” Hy trek sy skouers op. “Now it’s showtime!” Kyk oor sy skouer, grynslag.

“Nee, Tos!” Sally gil. “Los hom uit!” Trippel nader. “Ek sal cooperate, los hom net uit!”

Tos buig vooroor en slaan met sy hande teen sy bo-bene. Sy bek hang half oop en sy hare tuimel oor sy gesig as hy kraai.

“Jou teef! Jy’t jou chance gehad.” Knikkend na sy aanhangers. “You’ll come back crawling as ons met jou klaar is!”

Grinnik-bekke oral.

Sam verloor dit. Hy swaai na Tos en tref hom skrams teen die bokant van sy skouer, en dan teen die kant van sy mond. Iets kraak. Tos steier na links, herwin sy ewewig, bloed aan sy mond. Asof rek-gespan skiet sy pêlle vorentoe. Tos trek ’n flick-mes.

“Los hom! Hy’s myne.” Lek bloed van sy bo-lip.

Handpalms vooruitgestrek begin hulle sirkel binne die halfmaan toeskouers. Sally kerm, Herrie blaf.

Sam se haat groei. Hoërskool-emosies weer op die spits. Al vrek hy vandag, hier gáán hy shape. Vloek man!

Tos spring vorentoe, mespunt voor. Sam swenk, maar laat. Tos se mes tref sy baadjie, sny deur en kerf sy ribbes. Sam voel niks. Tos trippel op sy tone, maak ’n voldraai op sy regter voorvoet; mock charge , stop. Grynslag.

Hulle sirkel weer.

Almal is na binne gefokus. Niemand sien die aankomende taxi nie. Eers toe die voertuig byna op hulle is, hoor hulle die gekerm van metaal op metaal. ’n Wiel spring af, tuimel rakelings verby die toeskouers, mis die Harley en tref een van die bende se bikes. Die taxi swaai en tol, eers links, dan regs. Kom in ’n stofwolk langs die pad tot stilstand, vyftig meter voor hulle, dak steeds bo.

Insittendes borrel uit. Vrouens jil, mans skreeu. Die getrefde bike begin brand. Die bende spat in rigtings, spring op hulle motorfietse, twee ouens op een. Rook trek uit hulle agterbande as die voorwiele oplig. Tos laat sy mes val, swaai om, spring weg. Sam is op hom soos ’n hiëna op ’n gekweste rooibok.

Slaan, byt, grawe, skop, VLOEK! Dis Sally wat hom uiteindelik aftrek van die byna-bewustelose Tos-lyf. Herrie blaf steeds onophoudelik.

’n Blou lig en sirene tref die toneel. Drie fris polisiemanne spring uit die vuurwarm Ford. Rubber-remskoen-brandreuk in die lug.

Piet-cop in blou draf nader. Kyk na Sam, knik vir Sally.

“Lekker twak, né?” Herrie bly blaf. Piet swaai om. “Waa’s dit honne?” Vryf sy kop en ore, maak dan die leiband van die sidecar los. Herrie raak beserk. Trek na Tos se alleen motorfiets op die teerpad, spring op. Een van die konstabels wat saam met Piet in die Ford was, knip Tos se motorfiets-saal oop.

Kokaïne oral. Herrie se stert swaai hom amper van sy pote af.

Finaal in Essence Hardware

“En die moonboot?” Bert grom om die slym uit sy keel te kry. “Waar kom dit vandaan?”

Sam kyk na sy nerfaf-hande.

“Nee, dis toe ons al by die huis was en ek Sally wou leer bike ry.” Hy kyk op en glimlag. “Toe ry sy oor my verdomde voet!”

Mike kyk op, pruilmond. “Kom nou daarvan as jy Sondae droogmaak in plaas van Kerk toe gaan.” Kyk anderpad, staan op – oplaas kliënte. Skud sy kop.

Maar Sam hoor nie, hy het ’n whatsapp van Sally gekry om te vra of hy nie vanaand saam met haar klub toe wil gaan nie. Daar’s ’n rumour dat Tos nie bail gemaak het nie.

Pottie sal weet.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    B Spiff'o'Roffio

    Gerhard, BuLlll'jant!!! Die clans in Leathers is 'n ander specie. So tussen silwer, goud, die Growwe-Diamante-in-Roes. Jy het die skryf-talent! Kan nie wag vir die volgende verhaal nie. Baboon'Ni'Isie SpiffVrottia.

  • Uitstekend Gerard! Ek het dit baie geniet. Jou skryfstyl is baie goed - dit lees lekker, maklik en is bindend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top