Dubbelspel vir haar hart deur Tosca de Villiers: ’n resensie

  • 0

Titel: Dubbelspel vir haar hart
Skrywer: Tosca de Villiers
ISBN: 9781779871336
Uitgewer: Romanza

Ek het pas Tosca de Villiers se Romanza, getiteld Dubbelspel vir haar hart, gelees. Dis ’n lieflike storie wat op ’n besadigde pas afspeel. Lees dit as jy sommer net rustig wil wees en jou gedagtewêreld ’n blaaskans van die gewone, alledaagse sleur wil gee.

Soms wil ’n mens nie ’n boek lees wat jou op die puntjie van jou stoel hou en jou spanningsvlakke verder opjaag nie. Nee, partymaal wil jy net ’n storie lees wat langsamerhand afspeel sonder om vervelig en langdradig te word. En hoe ouer ’n mens word, vind ek, hoe minder wil jy lees van halsoorkop verliefdheid en hoe meer wil jy lees van ’n bestendige, volwasse liefde wat groei namate twee mense mekaar beter leer ken. Só ’n boek het ek in Dubbelspel vir haar hart gevind.

Tosca de Villiers het ’n BCom-graad en Onderwysdiploma aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Sy werk gereeld as ’n ekonoom en funksioneer dan in die wrede werklikheid en strakheid van syfers en somme. Dit is egter vir haar heerlik ontspannend om haar toevlug tot die skryf van liefdesverhale te neem wanneer sy ’n kans kry. Haar helper is glo haar kat, die een wat die stories spin wat sy dan ywerig neerskryf. Die titels van onlangse Romanzas uit haar pen is: Emma se somer (2012), Drome word waar (2015), Hawe vir haar hart (2024) en Passie in Parys (2025).

In Dubbelspel vir haar hart ontmoet die leser vir Elandi Fourie en haar seuntjie, Bertus, wat na Roodezand vlug nadat sy onder skindertonge deurgeloop het ná haar man se ontydige afsterwe. Sy hoop om as Wiskundeonderwyseres daar ’n nuwe begin vir haar en haar kind te verseker. Soos dit maar op sommige klein dorpies gaan, word sy egter gou betrek by onderlinge politiekery waar die predikant en skoolhoof die kitaar slaan.

Gelukkig vir haar is daar darem die gelykmatige boer, Hendrik de Bruyn, wie se moeder se huis sy op die dorp huur. Hy bied hoflik aan om haar te help toe sy en haar registerklas belas word om geld in te samel vir die matriekafskeid. Die laaste ding wat Elandi wil doen, is om op daardie stadium van haar lewe weer in ’n verhouding betrokke te raak. Maar hoe nou gemaak wanneer ’n baie aantreklike boer en ’n predikant, wat daaraan gewoond is om sy sin te kry, meteens gereeld by haar inloer en wys hulle stel in haar as vrou belang?

Sonder om te veel van die storie te verklap, kan ek noem dat daar gebeure in Elandi se huwelik was wat haar vertroue in mans geskend het en haar laat twyfel of sy as vrou goed genoeg is. Haar ontnugtering en onsekerheid, sowel as die wyse waarop sy haar en haar kind se lewens herbou word geloofwaardig uitgebeeld.

Sy noem dan ook aan die een manskarakter: “Ek is verantwoordelik vir Bertus, ek wil nie risiko’s neem nie. Hy het klaar te veel seergekry” (29). Dit is vir my verfrissend dat hierdie spesifieke karakter haar vanuit die staanspoor direk uitvra na haar verlede en omstandighede en nie sy ore uitleen aan wilde gissings nie. Dit skep van die begin af die geleentheid tot oop, gesonde kommunikasie. Hy stel belang in haar doen en late en vervul gou ’n ondersteunende rol. Daarteenoor word die ander manskarakter voorgestel as iemand wat weet wat hy wil hê, glo sy woord is wet en gevolglik ook nie huiwer om vir haar besluite te neem nie.

Hierdie tussenspel skep die ideale verhoog vir die skrywer om die verhaal te plooi na gelang van hoe Elandi haarself leer ken en weer selfvertroue kry. Wanneer ’n groot misverstand nader aan die einde van die verhaal dreig om ’n potensiële liefdesbootjie te laat sink, leer die karakters presies hoe belangrik kommunikasie en vertroue in ’n verhouding is.

Daar is ’n stomende sekstoneel in die boek wat my vir ’n oomblik laat ophou lees het om weer na die voorblad te loer. Ek was seker dat daar “Stoom” op die voorblad sou staan om aan te dui dat daar ’n gewaagde toneel in is. Maar nee, dit is net gemerk as “Plaas”. Hoewel die intieme oomblikke goed en smaakvol beskryf word, is dit steeds eksplisiet genoeg dat ek as leser sou verwag om ’n vooraf waarskuwing te ontvang.

Nog iets wat my opgeval het, is dat Elandi in haar klas as “Mevrou” aangespreek word. Dit was vir my hinderlik – seker omdat ek gewoond is dat onderwyseresse, getroud of ongetroud, “Juffrou” genoem word. Op bladsy 60 kort daar ’n punt na ’n sin.

Die milieu dra by tot ’n genotvolle leeservaring. Die karakterisering is ook fyn afgerond. Daar is genoeg newekarakters om die storie interessant en lewendig te hou en te sorg vir ekstra intrige. Becky, Hendrik se hond, speel ’n noemenswaardige rol in die boek. Ek hou baie van hoe gemaklik die skrywer die dier in die verhaallyn verweef het.

Dubbelspel vir haar hart is ’n heerlike verhaal. As jy hou van ’n boek met ’n stadiger pas, maar wat jou tog verras met oomblikke waar jy jou oë ’n paar maal vinnig moet knip, dan sal jy hierdie Romanza geniet.

Lees ook:

Om ’n hart te tem deur Ciska Olivier: ’n resensie

Die lysie-man deur Salma Swanepoel: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top