
Titel: Om ’n hart te tem
Skrywer: Ciska Olivier
ISBN: 9781779870933
Uitgewer: Romanza
Ek het pas Ciska Olivier se jongste Romanza getiteld Om ’n hart te tem gelees en dit baie geniet. Ciska is ’n geliefde skrywer met ’n hele paar Romanzas op haar kerfstok, onder meer Krummelpap in Parys (2018), Liefdeslesse vir ’n grotman (2022), Sien jy my nou? (2024) en Sy proe soos heuning (2025). Ciska is ’n plaaskind van Namibië. Sy en haar man, wat sy as haar eie storieboekheld beskryf, is in 2014 getroud. Hulle hou van kampeer, visvang en reis. Sy kry dikwels inspirasies vir haar stories op hulle uitstappies. Dis vir haar lekker om vir haar karakters ’n belowende toekoms saam te skep.
Om ’n hart te tem het ’n onbeskaamde Christelike inslag en verken temas soos bitterheid, vergelding, misverstande en vergifnis. Dit word onder die Romanza-afdeling “plaas” gepubliseer en beslaan 188 bladsye. Voor in elke Romanza-boekie is daar ’n “Het jy geweet”-lys wat die voordele van die lees van romanses uitstippel. Een van hierdie voordele is: “Lesers voel dat dit hulle insig in hul eie verhoudingsprobleme gee.” Ek vermoed dat heelwat lesers sal voel dat hulle, deur die lees van hierdie boek, tot sekere insigte sal kom ten opsigte van opgekropte gevoelens oor lank gelede se dinge. Dit is ’n boek wat nie net vermaak en ontvlugting bied nie, maar ook beginsels by lesers tuisbring wat die potensiaal het om tot bevryding van bitterheid, haat en beskuldigings te lei. Dit hou aan die leser ’n kragtige Bybelse alternatief voor, naamlik om te vergewe.
Anika Liebenberg se pa, Joop, is twaalf jaar gelede afgedank en hulle gesin is summier van die hoogmoedige, invloedryke Grahams se plaas af weggejaag. Nou is Anika terug – dié keer nie as skoolmeisie wat op die oudste Graham-seun, Ian, verlief was nie, maar as gerekende perdekenner wat Soetwater se perde moet tem. Sy is egter nie net daar vir die perde nie. Nee, sy is daar om die Grahams te laat betaal vir die onreg wat hulle destyds teen die Liebenbergs gepleeg het. “Voor sy hierdie plek se stof finaal van haar stewels afstamp, sal hulle boet vir wat hulle gedoen het, neem sy haar opnuut voor” (15); “[S]y sal nie rus voor die spul snobs boete gedoen het nie, dink sy wrewelrig. Gmf. [...] Hy sal kry wat hom toekom. Hulle almal sal” (21).
Die omstandighede op Soetwater is egter baie anders as wat Anika haar voorgestel het. Van die eertydse prag en praal is bitter min oor. En Ian is glad nie meer die hovaardige seun wat in ’n onbewaakte oomblik haar tienerhart gebreek het nie. Boonop vind sy dinge oor die verlede uit wat hoe sý dinge onthou, uitdaag. Daar was soveel geheime en toesmeerdery deur die ouer garde dat dit selfs vandag nog ’n potensiaal vernietigende invloed op die jonger geslag het. Sal Anika aan haar bitterheid en wraaklus vasklou? Of gaan sy weier dat die verlede langer ’n invloed op die hede uitoefen en haar en haar sibbe van ’n mooi toekoms beroof? Dis makliker gesê as gedaan.
Die skrywer trap geensins in die slaggat om dweperige of prekerige dialoog of tonele te gebruik om die geestelike inslag te versterk nie. ’n Karakter het die gewoonte om eenvoudige dog opregte gebede aan tafel te bid. Dis hoofsaaklik deur die aanhoor van hierdie gebede en oop, eerlike gesprekke dat Anika stadig maar seker aan haarself begin erken sy het dalk hulp nodig om die verlede te verwerk. Daar is onderdrukte herinneringe wat nou na vore kom.
Die storie bevat vele onverwagte kinkels, maar ek wil nie te veel van die spanning en intrige weggee nie. Die gebeure is egter heel geloofwaardig en moontlik. En asof daar nie genoeg onderlinge onderstrominge is nie, daag daar ’n eksmeisie van Ian op die plaas op en dis nie lank nie of sy trek sak en pak in sy huis in. Moenie dink al die drade word netjies vasgeknoop teen die einde nie. Daar is dinge waaroor ek nou nog wonder, maar dalk is dit juis wat die storie laat werk. Die lewe verloop immers nie so dat ons altyd vrae op al ons antwoorde kry nie. Die leser kry dus kans om oor die storie te reflekteer en ja, selfs te wonder waarom dié en daai gebeur het. Ek het dit nie steurend gevind nie.
Die feit dat daar vyf Liebenberg-dogters is en dat ek moes tred hou met almal se name het my aanvanklik verwar. Toe ek hulle eers onder die knie het, het die storie glad gevloei. Tog voel ek dat minder karakters lesers sou help om op die dinamika in die storie wat regtig saak maak te fokus.
Om ’n hart te tem sal menige leser inspireer. Dis ’n teer liefdesverhaal en laat ’n mens glo dat nuwe beginne wel moontlik is en dat daar iets moois uit tragedies kan voortspruit.
Ciska Olivier se Om ’n hart te tem is ook as e-boek beskikbaar.

