Dry White: Nik Rabinowitz bly een van ons beste komediante

  • 0

Nik Rabinowitz is terug in die Baxter met sy twaalfde eenmanvertoning, Dry White en hoewel hy kla dat hy die plakkate, foto’s en dialoog voorberei het toe #DayZero nog ’n werklikheid was en die feit dat daar nou water is, bietjie op sy battery piepie, praat hy reg in die gehoor se harte in oor hoe die waterskaarste ons Kapenaars tog op ’n vreemde manier verenig het.

Hy praat oor verskeie ongemaklike kwessies – selfs die opspraakwekkende soen tussen hom en die ander vrou in die motor, wat koerantopskrifte vroeër vanjaar gehaal het en natuurlik die hele kwessie van ontrouheid weer in die kollig geplaas het.

Daar is geen twyfel dat Nik Rabinowitz weet hoe om gehore te vermaak nie – hy weet hoe om die laggolf te ry as hy die kol tref, maar weet ook om ’n ander rigting in te slaan en van die onderwerp af te stap as die gehoor nie met sy vertellinge tred hou nie.

Hy spot met homself; hoe mense hom met mense soos Dion Bing verwar – “hoe dit die lae vlak is van sy internasionale roem”, maar die selfversekerde houding oortuig jou gou dat hy weet die gehore eet uit sy hand. Hy is al vir meer as 17 jaar ’n komediant en sy internasionale aansien strek wyd: van Holland tot Australië, Kanada tot die VK waar hy gereeld optree.

Hy spot nie net fyn met ons vooroordeel, seks en voorspel, die waterbeperkings en padwoede nie, maar sy fyn waarneming van die politiek slaan ook gereeld deur. En natuurlik steek hy die draak met Waldorf-skole, geleenthede wat nooit aangegryp is nie en ook die harde werklikheid van 42, wit en manlik wees in Suid-Afrika van 2018.

Hier en daar skemer van sy ou gunstelinge deur, soos dat hy graag as kind met homself gespeel en graag rugbykommentator was, maar vir die nuwelinge in die gehoor is dit vars en nuut en jy kan nie help om weer saam te lag nie.

Die hele skets oor hoe die land teruggegee is aan voormalige werkers toe sy pa wegval, het luide applous ontlok. Nik sorg weer eens vir ’n lekker agteroorsit en lag in dié vertoning en niemand spring sy skerp tong en waarnemingsvermoë vry nie. Lag vir jouself, dit maak alle probleme sommer eenvoudiger lyk.

Daar is ’n kort inleiding deur die jong Paarlse komediant, Lindy Johnson, wat die gehoor net so lekker laat lag het. Die totale vertoningstyd was veel langer as die geadverteerde 70 minute, maar niemand het gekla nie!

Dry White

Met: Nik Rabinowitz

Regie: Brent Palmer

Baxter Teater, Rondebosch

Van 18 Desember tot 12 Januarie 2019

Kaartjies deur Webtickets www.webtickets.co.za of uitgesoekte Pick n Pay-takke. 

Daar is ’n "geen onder 14"-ouderdomsbeperking.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top