Droomwerk laat gehore stomgeslaan | Momentum Beleggings Aardklop 2023

  • 0

Die rolverdeling van links: Johann Nel, Jill Levenberg, Ben Albertyn, Johann Vermaak, Tyrish Mili (Bron: Droomwerk Instagram)

Droomwerk
Deur: Pieter Odendaal
Met: Jill Levenberg, Ben Albertyn, Johann Nel, Tyrish Mili, Johann Vermaak
Regie: Kanya Viljoen, Lwanda Sindaphi
Kostuumontwerp: Yonela Makoba
Komponis en klankontwerp: Jannous Aukema
Instrumentasie: Jannous Aukema, Sumalgy Nuro
Vervaardiger: Pieter Odendaal, River Mouth Projects

Dis wanneer jy tranerig en bewerig opstaan en handeklap dat jy weet ’n vertoning het ’n lewenslange impak op jou gemaak.

Die stuk trek van die heel begin af aandag. Soos die gehoor by die lokaal ingestap kom, is drie van die akteurs reeds op die verhoog en in karakter. Dit begin met die beeld van ’n swart en bruin vrou wat oor krakende skulpe na mekaar toe loop. Die volgende kenmerkende oomblik is die skielike flikkerende ligte en blaffende honde, terwyl die ou man in sy hospitaalbed regop sit en skree. Dit het soos ’n toneel uit ’n rillerfliek gevoel. Hierdie tonele is net twee uit talle voorbeelde van hoe die stuk jou aandag trek en behou. Die indrukwekkende manier waarop die klank en beelde saam gebruik is, is ’n belangrike kenmerk van Droomwerk en het ’n groot impak op hoe die stuk ontvang word.

’n Opsomming

Droomwerk is ’n ingewikkelde stuk om op te som, juis omdat die ouditiewe en visuele aspekte daarvan so belangrik is. Petrus Odendaal, die hoofkarakter, is opgeneem in ’n psigiatriese inrigting en kry dikwels nagmerries. Die afgelope tyd besoek ’n slavin Diana van Madagaskar hom in sy drome. Sy is op soek na haar dogter. Petrus se oupa Piet, ’n ou apartheidsenator, herleef sy toesprake terwyl hy aan sterwe in die hospitaal lê. Petrus probeer by sy pa en oupa uitvind oor Diana, maar hulle wil niks daarvan weet nie. Die inrigting se psigiater is bekommerd oor Petrus se toestand wat skynbaar vererger, en stel voor dat hulle skokterapie toedien. Petrus ontmoet ’n tradisionele heler en sy besef dat Petrus se voorouers hom probeer kontak. Sy sê vir hom dat hy nie sy drome moet ignoreer nie en dat hy versoening aan sy familie moet bring.

Op die verhoog

Droomwerk word tot lewe gebring deur ’n uitstekende groep akteurs, elkeen wat hulle rolle met totale oorgawe speel. Byna al die akteurs behartig meer as een rol. Jill Levenberg speel die rol van een van die psigiatriese inrigting se susters en Diana van Madagaskar die Odendaal-stammoeder. Ben Albertyn speel die rol van Petrus Odendaal wat opgeneem is in die inrigting, en die Odendaal-voorouer wat vir Diana swanger gemaak het. Tyrish Mili speel die tweede suster en die tradisionele heler waarnatoe Petrus gaan vir hulp. Johann Nel is Petrus se oupa en ou apartheidsenator Piet. Laastens speel Johann Vermaak die rolle van die psigiater en Petrus se pa (Piet se seun). Nie net is die akteurs se individuele spel indrukwekkend nie, maar die ensemblespel laat dit voel asof die akteurs al jare lank saam werk. Die gebruik van drie verskillende tale (Afrikaans, Engels en isiXhosa) maak die vertoning regtig besonders.

Die stel was net groot genoeg om die boodskap oor te dra: Twee hospitaalbeddens met oorhoofse ligte, ’n stoel by die regterkantse bed, ’n tafeltjie tussen die beddens en ’n rytjie skulpe wat dwarsoor die verhoogvloer span. Die dekor is gepas vir die stuk en die gebruik van die skulpe skep veral ’n paar mooi beelde.

Agter die skerms

Die regie en tegniese vervaardiging van hierdie produksie verdien spesiale uitsondering. Soos al genoem, is die gesamentlike gebruik van die klank en beligting waarlik besonders. Dit hou jou vasgevang in die magiese realiteit van die karakters. Die klankontwerp, deur Jannous Aukema, voeg diepte tot die stuk en dra by tot die emosionele reaksies wat by die gehoor ontlok word.

Die man uit wie se pen hierdie onvergeetlike teks kom, moet nie misgekyk word nie. Pieter Odendaal kry dit reg om onderwerpe, soos geestesgesondheid en tradisionele genesing, wat dikwels as kontroversieel gesien word, smaaklik aan te pak in ’n stuk wat inklusiwiteit en diversiteit aanmoedig. Hy laat ons besef dat ons as Suid-Afrikaners eintlik almal in mekaar se geskiedenis geïntegreer is.

Ná die goeie resensies wat ek oor Droomwerk se vertonings by die National Arts Festival gelees het, het ek met hoë verwagtinge ingestap en stomgeslaan uitgestap. Die dekor, tegnies, regie en spel is besonders goed behartig. Niks kan jou voorberei vir die absolute impak wat hierdie stuk op jou gaan hê nie.

Die volgende vertonings van Droomwerk vind van 11 tot 15 Oktober by die Toyota US Woordfees in Stellenbosch plaas.

Lees ook:

Persverklaring: Odendaal se Droomwerk by Aardklop, Woordfees te sien

Pieter Odendaal se Droomwerk bring postkoloniale denke na die hospitaal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top