Drie uiteenlopende stukke ballet sal wye smake bevredig

  • 0

Foto's: Pat Bromilow-Downing

Die Cape Town City Ballet (CTCB) het hul herfs- en winterseisoen Saterdagaand by Kunstekaap geopen met Amaranth, waarna Sleeping Beauty van 17 tot 31 Augustus volg.

Cape Town City Ballet is een van die oudste balletgeselskappe in die wêreld. Opleiding- en ontwikkelingsinisiatiewe lê die geselskap baie na aan die hart en inklusiwiteit het hul wagwoord geword.

Amaranth is ’n program van neoklassieke en kontemporêre klassieke meesterstukke en bestaan uit drie balletopvoerings: George Balanchine se Serenade, Frank Staff se Transfigured night en Christopher L Huggins se Enemy behind the gates.

Die neoklassieke Serenade word op Tchaikovsky se Serenade for Strings in C, Op 48 met vier bewegings, “Sonatina”, “Waltz”, “Russian Dance” en “Elegy”, gedans en word gereken as een van Balanchine se mooiste balletstukke. Dit bly die vlagskip van die New York City Ballet se repertoire en word vir CTCB deur Rebecca Metzger opgevoer.

Die stuk is ’n ligte fladdering van ’n magdom ballerinas in wasige wit en blou, met ’n skoon, wit verhoog. Die oulike klank van die ballerinas se pointe-skoene vorm deel van die musiek wat so mooi deur die Kaapse Filharmoniese Orkes uitgevoer word.

Om Suid-Afrika se erfenis te eer, word Staff se Transfigured night deur die balletdoyenne Veronica Paeper opgevoer. Musiek deur Schoenberg maak dit ’n intense en dramatiese opvoering van ’n jaloerse ouer suster wat nie haar kleinsus liefde gun nie. Die donker dekor en swaar musiek word uitstekend deur die vier dansers uitgebeeld.

Met die derde ballet sien ons die terugkeer van die Amerikaanse choreograaf Christopher Huggins en ervaar ‘n kykie in die gedagtes van brandstigters – hoe hulle geduldig in die skadu’s wag voor hulle toeslaan. Die ballet is ’n perfekte harmonie tussen kontemporêre ballet en moderne bewegingsdans, wat byna militaristies in styl is.

Terwyl almal hul sitplekke inneem en ek deur my program lees, gaan my gedagtes onwillekeurig terug na die eerste maal toe ek in die destydse Nico Malan-teater gesit het om ballet te kom kyk. Ons het op Worcester gewoon; ek was vyf jaar oud. My ma-hulle het die aand by my tannie in Kraaifontein oornag, sodat almal saam kon ballet toe gaan. Al die niggies het met nuwe rokkies gespog, waarvoor die materiaal etlike weke vantevore op ’n uitstappie na Kaapstad gekoop is en patrone gesoek is. Die opwinding was groot en die grootmense het elkeen ’n halwe glasie sjerrie in die voorportaal van my tannie-hulle se huis gedrink voor almal in die reuse-Opel Rekord geklim het en Kaap toe gery het.

Die ballet was die Neutkraker. Ek onthou bitter min van die aand, maar deur jare se oorvertellinge weet ek dat ek daardie aand in bewondering na die pragtige ballerinas en dekor gestaar het. Ek het ook seker heimlik gewens ek kon eendag ’n ballerina wees.

Maar helaas, ek het altyd net ’n toeskouer – en reuseliefhebber – gebly.

Om dus op ’n ysige Kaapse aand 43 jaar later weer ballet te gaan kyk, bly nostalgie op sy beste. Hoewel ek nie ’n nuwe rok en linte in my hare het nie – en die meeste mense in jeans en tekkies opdaag – herleef daardie nostalgie tog tydens die pouses toe twee tannies met pêrels en rooi fluweelrokke en oulike swart stolas aan vonkelwyn teug en hul metgeselle strikdasse en swart baadjies dra.

Die ballet is in drie dele met twee kort pouses tussen-in.

Debbie Turner, HUB van CTCB, skryf dat vanjaar se “seisoen ’n troue is tussen internasionale ikone en Suid-Afrikaanse legendes wat die leiers in die globale dans-arena is”. “Ons is bevoorreg om internasionale gaskunstenaars – sommige keer huis toe vir die seisoen – sowel as balletmeesters wat ’n integrale deel van die geselskap is, hier te verwelkom.”

Amaranth is ’n heerlike aand by die ballet vir diegene wat so mal oor ballet en klassieke musiek is soos ek, maar selfs wyer as dit sal behaag, met drie uiteenlopende stukke wat selfs dié wat nie van tradisionele ballet hou nie, se harte sal vermuwwe.

Met: Dansers van Cape Town City Ballet en gas-choreograwe
Beligting: Wilhelm Disbergen
Dirigent van die Kaapse Filharmoniese Orkes, Brandon Phillips
Kunstekaap-operahuis, Kaapstad
Tot 7 Julie 2019.

Kaartjies deur Computicket by 0861 915 8000, aanlyn by www.computicket.com of by enige Shoprite Checkers-tak.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top