
Omslag: Protea Boekhuis
Hans Pienaar praat met Naomi Meyer oor sy jongste boek, Drie.
Hans, baie geluk met Drie. ’n Boek wat reeds uitgesonder word as een van die boeke waarvan in 2023 kennis geneem kon word. Jy is ’n baie veelsydige skrywer, is my eerste gedagte toe ek die boek begin lees. Jy skryf uiteenlopende verhale. En hierdie een is ’n realistiese verhaal, gebore in een van die jare toe die Springbokke die Wêreldrugbybeker gewen het. Ook al speel die grootste deel van die verhaal baie jare gelede af. Of is dit in hierdie jaar gebore? Wanneer het jy dit geskryf?
Die waarheid is, ek kan nie presies onthou wanneer ek dit begin skryf het nie. Dit kan amper ’n kwarteeu gelede gewees het, toe ek met ’n paar hoofstukke in Engels weggespring het. Die manuskrip het vele reise en gedaantes ondergaan, amper soos ’n veelsydige speler in ’n rugbytoerspan. As jy al die verslae van keurders en studente deur die jare bymekaar tel, het jy waarskynlik ’n rugbyspan.
...........
Die manuskrip het vele reise en gedaantes ondergaan, amper soos ’n veelsydige speler in ’n rugbytoerspan.
..............
Wat het jou geïnspireer om die boek te skryf? Ek weet nou al hier was mense soos Rachelle Greeff en Henning Pieterse betrokke. Het jy die boek geskryf as deel van ’n MA in skeppende skryfwerk?
Hier in 2010 het ek besluit ek gaan ophou skryf, want uitgewers stel nie belang nie en ek kon ook nie uitwerk wat hulle en die keurders, gewoonlik mense uit die akademie, wil hê nie. Ek dag toe ek sal maar die manuskrip, wat toe die titel Die spring van die bal gehad het, gebruik vir ’n MA om darem iets vir my werk deur die jare te kan wys. Dit was nou by Tukkies onder Henning Pieterse. Die reaksie daarop onder my medestudente, en van Henning self, was so gunstig dat ek weer probeer het.
Daarna het vele omswerwinge gevolg waaroor ’n mens self ’n roman sou kon skryf. Of vir Joan Hambidge kon aanbied. Toe die manuskrip weer begin vasval, het ek ander ou manuskripte gaan opdiep. My roman Die generaal het toe skielik goed gevaar in die Groot Romanwedstryd, blykbaar selfs ’n vroeë ronde gewen, en na al die jare kon ek die hoofstroom daarmee haal.
...........
Die inspirasie vir Drie? Ek het afgekom op die werklike geskiedenis van rugby, en ontdek dat groot dele van die legende van William Webb Ellis pure versinsel was. Ek het gevoel dat hierdie dubbelslagtigheid ook in die spel self, waar so baie agter die skeidsregter se rug gebeur, gestalte kry. Ek wou ook afreken met sekere gebeure in my eie geskiedenis rondom my deelname aan geheime organisasies in my skooldae en het gedink ek moet hierdie twee strominge, die mitologie rondom rugby, en Afrikaners se onderwêreld, laat vervleg.
.............
Die inspirasie vir Drie? Ek het afgekom op die werklike geskiedenis van rugby, en ontdek dat groot dele van die legende van William Webb Ellis pure versinsel was. Ek het gevoel dat hierdie dubbelslagtigheid ook in die spel self, waar so baie agter die skeidsregter se rug gebeur, gestalte kry. Ek wou ook afreken met sekere gebeure in my eie geskiedenis rondom my deelname aan geheime organisasies in my skooldae en het gedink ek moet hierdie twee strominge, die mitologie rondom rugby, en Afrikaners se onderwêreld, laat vervleg.
Laasgenoemde is nog steeds taboe. Afrikaanse mense praat net nie daaroor nie, al het baie van hulle die gevoel dat hulle skade aangedoen is deur hierdie organisasies. Rugby is ’n goeie voorbeeld van ’n praktyk waar sommige spelers verhef is bo ander weens hul bande met of bruikbaarheid vir sulke organisasies. Nogtans het ek nie ’n byltjie te slyp met enige spesifieke groep mense nie; waaroor ek wou skryf, is die sielkunde binne geheime organisasies, hul effek op die individu, hoe dit jou dinge kan laat doen wat heeltemal teen jou aard is.
Die kind aan die begin van die verhaal speel nie net blindelings rugby nie. Hy loop ’n pad van kunssinnigheid tot by die rugby. En hy hoor volwassenes oor die sport praat. Rugby is nie net ’n sport nie, dis ’n godsdiens. Mense het verskillende opinies daaroor. Het dit jou ook opgeval, in die tyd toe jy die boek geskryf het?
Ja, dis waaroor dit gaan. Kyk, dis in die eerste plek ’n verhaal, of verhale wat ineengevleg is. Die vertelling op ’n vermaaklike manier is voorop. Maar op ’n dieper vlak is dit ook ’n ondersoek na ’n sekulêre godsdiens, of na ’n mitologie met sy eie rituele en taal. Maar dit kyk ook deur daardie lens na die wêreld van ’n seun wat grootword in die jare sewentig en begin agterkom hoe die politiek ook sy lewe binnedring. Dan is rugby, wat lyk of dit skanse teen die buitewêreld bied, eintlik ’n sielkundige Trojaanse perd vir hom. Dit het nie net geen skanse gebied nie, dit was die oorsaak van vele kwessies in sy lewe.
Jou hoofkarakter word groot in die apartheidsjare. Ouer lesers sal sekere van die kompetisies herken, die manier van praat en snydende woorde wat aan die orde van die dag was. Jou karakter is ’n seun wat ’n man word in hierdie apartheid-Suid-Afrika. Hoe was dit toe jy self op sekere spore terugloop en sekere plekke in jou gedagtes herbesoek? Hoe skei mens melancholie, nostalgie en skuld? Kán dit, in ’n land soos hierdie, as wit Suid-Afrikaner?
Ek wou wegspring met beskrywings van hoe die hoofkarakter – en noodwendig ek ook as die skrywer – rugby en sy jong dae geniet het. Vanuit ’n sekere hoek het dit iets gemeen met Native nostalgia deur Jacob Dlamini, wat deels gaan oor hoe hy sy kinderdae in die bose tye van apartheid mis. Juis omdat apartheid so ’n kokon om ons wit lewens gespin het, onthou die meeste van ons ouer garde daardie jare as gelukkig. Ek was nooit ’n goeie sportman nie, maar ek het alles geniet – rugby, sokker, tennis, krieket, gholf, muurbal ... Dan volg noodwendig die ontdekking dat alles op sand gebou is, wat vir my persoonlik by wyse van traumatiese gebeure geskied het. Maar ook hier wou ek wegstuur van ’n antiapartheid treurmare – ek wou wys hoe dit ook te doen het met ander soorte opstand as net die politieke.
Apartheid en ras kom noodwendig ter sprake, maar ek soek in my werk na nuwe maniere om daarna te kyk, veral as ’n uitvloeisel van kolonialisme. Hoe ons nog nie met laasgenoemde afgereken het nie, en hoe selfs proponente van apartheid slagoffers daarvan was. Ek hoop lesers sal sekere passasies ironies vind, soos die debat wat die hoofkarakter met ’n Engelse onderwyser het wat jy net so in ons huidige diskoers kan plaas: Hy sou op Al Jazeera kon praat al was hy toe ’n Nat-volgeling.
Hier is iemand wat gesteel het. Nou steel die nageslag ook. Ek hou dit vaag, maar dit is simbolies. Of hoe? Vir my is dit beslis ’n tema: In sport gaan dit oor wie wen. Daar is reëls. Maar in die lewe is die reëls ook daar om oortree te word. Was dit ’n doelbewuste tema in jou agterkop toe jy die boek geskryf het? Wat was vir jou die kerngedagtes en -temas?
Dissidensie, en die soms onverwagse en verskuilde maniere waarop dit voorkom, is ’n tema dwarsdeur my werk. Rugby is by uitstek ’n dissidente spel, want dit gaan om skuiwergate in die magdom reëls oop te forseer. Vir my is dit voorts die oersondige spel. Oersonde, en wat presies dit is, hoe dit sielkundig werk, is ’n deurlopende tema in Drie wat by dissidensie aansluit.
In ons Westerse mitologie, of jy nou gelowig is, of ongelowig, het ’n klein daadjie soos die eet van die verbode vrug in die Paradys ’n geweldige revolusie tot gevolg gehad, ’n geweldige straf. Gesien van binne die mite, nou. Waarom die beletsel op die vrug so belangrik was, is glad nie duidelik nie, al het ’n duisend teoloë, antropoloë, filosowe en sielkundiges deur die eeue al probeer om sin daarvan te maak. Net so is geen rugbyspeler, op watter vlak ook al, in staat om al die magdom reëls in ’n splitsekonde korrek toe te pas wanneer hy die bal het nie, en is ’n oortreding onvermydelik. Baie verklaar dat hulle die reëls nooit leer verstaan het nie. Elke speler in die span weet hy kan met ’n baie geringe oortreding daardie strafskop afstaan wat hulle die Wêreldbeker gaan laat verloor. Hy draf op die veld in sonde ontvang en gebore.
Wat dit dan verder beteken, is dat jy alles in jou vermoë moet doen om strafskoppe uit jou teenstanders te kry. En die maklikste manier is om hulle te kwets en kwaad te maak. Kyk maar net hoe goed het "wit kant" gewerk. Een van die werkstitels van die roman was Laatvat, want ’n uitslag hang dikwels af van waarmee jy kan wegkom met verbode spel. Die All Blacks byvoorbeeld is meesters van strategiese geelkaarte, en om die skeidsregter te speel. Hulle het in die eindstryd verloor omdat die TMO’s in die bunker dit verhinder het, iets wat Rassie Erasmus maande aan gewerk het om ingestel te kry.
Onvoorspelbaarheid. Mens maak ’n plan met jou lewe, soos in ’n rugbywedstryd, en dan werk dit nie uit soos dit beplan is nie. Iemand word siek, iemand trek (weer) weg, nog iemand pleeg ’n misdaad. Soms is dit jy self. Het jy dit so beplan, of het dit organies so ontwikkel, terwyl jy die boek geskryf het?
Die uiteindelike manuskrip sien heelwat anders daar uit as die eerste weergawes. Dit was frustrerend vir my, soms pynlik, wanneer uitgewers dit verwerp het, en die keurders mekaar direk weerspreek het. Hoe maak ’n mens dan? Maar op die ou end was dit tog die beste, want die nuwe worstelings daarmee het my telkens tot nuwe insigte gedwing en die manuskrip beslis beter laat word.
...........
Die onvoorspelbaarheid, die spring van die bal, is eintlik wat die drama van die rugbyspeler se oersonde aan die gang sit. Want as die bal verkeerd spring, wat die hele tyd gebeur, is al sy harde beplanningswerk en oefening dadelik by die venster uit.
.............
Die onvoorspelbaarheid, die spring van die bal, is eintlik wat die drama van die rugbyspeler se oersonde aan die gang sit. Want as die bal verkeerd spring, wat die hele tyd gebeur, is al sy harde beplanningswerk en oefening dadelik by die venster uit. Hy moet staatmaak op sy subliminale vernuf, maar ook op die mate waarin sy begrip van die reëls subliminaal geword het. Ten spyte hiervan maak die mees ervare spelers die onnoselste foute, want hulle kan net nie van daardie oergeneigdheid tot oortreding ontslae raak nie. Die hele spel, die hele sport, en die klugtige aanskoulikheid daarvan, hang af van hierdie onvermoë van spelers om foute te vermy. So ook met die menslike beskawing.
Groot dele van mense se lewensonderhoud – die polisie, medici, regsmense, hersteldienste, sielkundiges, onderwysers – is afhanklik van die onvermydelike foute en sondes wat ander mense pleeg.
Vertel my van die titel - Drie.
Ek en al die mense wat deur die jare met die manuskrip gewerk het, kon net nie ’n behoorlike titel kry nie. Die aanvanklike Engelse titel, Bounce of the ball, het gesorg dat die manuskrip telkens in mense se spam-lêers beland en daar gelê het, want Google se algoritmes het in hul wysheid besluit daar is iets pervers of wellustig aan die woord bounce. Of dis maar wat ek raai. Laatvat was ook nie bevredigend nie.
Een van die meer versteekte temas is ook die rol van skryfwerk in gewone mense se lewens, iets wat ek in al my romans ondersoek, en in Drie is daar die opstelle wat die skoolseun moet skryf. In Frans is dit essai, wat ook die naam vir ’n doel is, wat die Franse weer van die Engelse oorgeneem het via try, vir ’n drie. ’n Drie tel deesdae vyf punte, maar die boek gaan eerder oor die strafskop, wat sedert die laat 19de eeu nog altyd drie punte getel het.
Maar daar is ook allerhande ander verwysings, soos die noue bande tussen die vader, moeder en seun, en in die psigoanalise die Freudiaanse drieluik van die ego, die superego en die id en voorts die Lacaniaanse Reële, Simboliese en Imaginêre. Die lekker ding is dat lesers kom met verdere manifestasies van “drie” wat ek nie eens besef het daar is nie.
Maak ons oplaas vrede met ons voorgeslagte? Is ons net hulle, in ander gedaantes, in ’n ander tyd?
My hoofkarakter skryf op die ou end drie essays oor dieselfde onderwerp, en met elke probeerslag verkry hy groter wysheid en insig in homself en sy lewe. Maar ten spyte hiervan raak hy teen die einde betrokke by die ergste van sondes. In die aanhef verwys ek na die Bybelse verhaal van Bileam en die donkie, wat eers na drie maal die engel in die pad kon sien. Maar wat my verder van die storie aangegryp het, is dat dit dan die grootste deurmekaarspul word.
...........
’n Mens weet nie meer aan wie se kant die skrywer van daardie versies wil hê jy moet wees nie. Dis hoe ons maak met die verlede: Ons kan maar net nie leer daaruit nie en ons pogings is ’n chaos van menings en emosies. Kyk maar net na Facebook se sotlikhede oor ons geskiedenis. Al wat jy kan doen, is weer probeer, die volgende wedstryd aanpak.
............
’n Mens weet nie meer aan wie se kant die skrywer van daardie versies wil hê jy moet wees nie. Dis hoe ons maak met die verlede: Ons kan maar net nie leer daaruit nie en ons pogings is ’n chaos van menings en emosies. Kyk maar net na Facebook se sotlikhede oor ons geskiedenis. Al wat jy kan doen, is weer probeer, die volgende wedstryd aanpak.
Het jy self rugby gespeel? Of vertel my van sommige van jou persoonlike sportervarings.
Ja, ek het tot op so vyftien gespeel tot my ego’tjie gekneus raak met my gesukkel om die derde span te haal. Vandag is ek spyt dat ek so vroeg opgehou het – ek sou wat wou gee om selfs net ’n bietjie touch rugby te speel. Maar selfs op so ’n jong ouderdom het jy al genoeg geleer van die spel, ook van die plesier van die geweld daarvan.
Die eerste keer dat ek iemand se gesig met my elmboog oopgekloof het, per ongeluk, het dit my ’n onbehoorlike lus vir bloed gegee, en ek probeer daardie gewaarwording in die roman beskryf. Sulke ervarings spoor sommige mense op die verkeerde manier aan, maar ek glo die meeste ontwikkel ’n etiek van geweld daaruit, dat sulke plesier ’n sekere plek het in die sportarena, en binne perke gehou moet word.
En nou? Wat skryf jy op die oomblik? Of wat lees jy?
Ek skryf oplae oor belasting. En “Big reads” vir Business Day om den brode, essays oor alles en nog wat, en ek geniet dit nogal. ’n Manuskrip oor my reise in die res van Afrika is by uitgewers. Ek probeer inhaal met Afrikaanse romans en gedigte – Tom Dreyer en Bibi Slippers se tegnovisies vind ek baie prikkelend en intrigerend.

